Nuuskommentaar: Ná Madiba

Nelson Mandela en Francois Pienaar nadat die Springbokke die 1995-Wêreldbeker gewen het.

Met die afsterwe van oud-pres. Nelson Mandela word begin om die laaste hoofstuk oor die lewe en impak van Madiba te skryf.

Oor sy lewe self was daar verskillende fases – die jong regsgeleerde van Xhosa-adel wat die ANC se oorgang tot die gewapende stryd gelei het; sy lewe as gevangene op Robbeneiland waar hy die beeld van martelaar en ikoon begin bou het; sy vrylating en handelinge wat hom wêreldwyd die beeld van ikoon gegee het; sy presidensie wat redelik op die versoeningsproses voortgebou het, maar administratief ‘n mengsel van kwaliteit en ramp was…

Die aantrek van ‘n Springboktrui tydens die Wêreldbekertoernooi vir rugby in Suid-Afrika sal as simbool van versoening bly voortbestaan.

Sonder die belading van presidensiële gebreke kon sy aftrede die beeld van ikoon van versoening versterk.

Die gemene delers deur alles was in die oë van die grootste deel van die wêreld een van ‘n ikoon, sterk verweef met versoening. Die nie-selektiewe aard en dikwels naakte terreur wat sy gewapende stryd opgelewer het en sy weiering om geweld af te sweer, het weens die internasionale persepsie oor hoe boos apartheid was, nie die beeld van ikoon en versoener beklad nie.

Dit is werklike persepsies, en mense wat ander persepsies het, waaronder die slagoffers van terreur, sal daardie euforiese persepsie nie verander nie. Dit is so diep gewortel dat selfs oorsese koerante wat andersins bekend is vir objektiwiteit, gewoon in die normale verbaliteit verval as dit by Madiba kom.

Volgens berigte, onder meer met emeritus aartsbiskop Desmond Tutu as bron, het Madiba al vir minstens ‘n jaar lank, maar waarskynlik langer, nie meer besef wat om hom aangaan nie. Hieroor het Tutu gesê Madiba sou ontsteld wees as hy nog sou kon weet wat vandag aangaan. Hierdie era sal waarskynlik onthou word as die era waar verskeie partye daarop aanspraak gemaak het dat hulle die ware erfenis van Mandela verteenwoordig. As “teenvoeter” het die ANC ‘n hoëvlakafvaardiging na Mandela se huis gelei en verkondig dat Madiba entoesiasties meegedoen het. Die TV-beelde het egter die teenoorgestelde getoon, en die aksie het sleg geboemerang.

Die wêreld sal nou ‘n ruk lank behoorlik gebombardeer word deur goeie en minder goeie stukke wat op die lewe van Madiba, en die impak daarvan op Suid-Afrika en die wêreld sal fokus. Talle boeke gaan verskyn.

Die onbeantwoorde vraag is egter hoe sy afsterwe die land se toekoms gaan raak.

Dat hy as ikoon onthou sal word, is ‘n gegewe.

Maar of die versoeningsdeel sal drakrag hê, is onseker.

Die antwoord hierop moet waarskynlik reeds in die samestelling van Mandela se kabinet gesoek word, en die lanseerplatform wat dit aan toekomstige leiers gebied het. Sy kabinet was ‘n veelpartykabinet met twee adjunk-presidente wat volgens die oorgangsgrondwet gelyke status sou geniet. Die een pos is deur oud-pres. FW de Klerk verkies, wat saam met Mandela die Nobel-vredesprys verwerf het en dus in die oë van die wêreld saam met Mandela krediet vir die “versoeningswonder” gekry het. De Klerk is as die argitek van die nasionale Vredesakkoord, die vredeskomitees en tot ‘n groot mate die Waarheids- en Versoeningskommissie beskou. Hiervoor het hy ‘n prys onder ‘n deel van sy eie mense betaal.

Maar in die praktyk is daar na De Klerk as die “tweede adjunk-president” verwys, met Thabo Mbeki wat die “status” van “eerste adjunk-president” geniet het. Mbeki het die kroonprins geword. Mbeki, met sy Afrika-visie, het op die oog af min erg gehad aan hoe vervreemd of nie die “non African Africans” die nuwe Suid-Afrika ervaar het.

Na Mandela se uittrede was daar geen duidelik sigbare ingeboude versoeningsingesteldheid by sy opvolgers in die regering en die ANC nie. Die reënboog is “afgeskakel” en die beleid van neo-apartheid het momentum begin kry, met die onlangse kongres van die Bruin Bemagtingingsbeweging as ‘n sterk teen-manifestasie hiervan. Burgerregte-organisasis soos AfriForum, en die vakbond Solidariteit, is bykans voltyds besig om rassediskriminasie te beveg, of die sake voortspruitend uit die Vredesakkoord in stand te probeer hou, soos om die aanslag op veral Afrikaanse plek- en straatname te stuit.

Standbeeld van voormalige president Nelson Mandela by die Drakenstein korrektiewe sentrum in Paarl vanwaar hy op 11 Februarie 1990 vrygelaat is. Foto: Nardus Engelbrecht/SAPA

In die era tussen Mandela se uittrede en voordat hy sy verbintenis met die werklikheid verloor het, het Mandela tot die ongemak van die versoeners in die land geswyg.

En hierin lê die lakmoestoets vir diegene wat versoening die vernaamste kenmerk van Mandela se nalatenskap wil laat voortleef. Om handjies gevou te kyk wat gaan gebeur gaan dit laat sneuwel. Elkeen wat ‘n premie op versoening stel, moet die woord voer daaroor, en dan daad by die woord voeg. Die media, met die hulp van die publiek, moet die versoeningsbarometer ‘n akkurate weergawe maak van die stand van sake in die land – nie net op rasgronde nie, maar die sosio-ekonomiese groeperings wat neig om al hoe meer versuil te word. Identifiseer die slopers, en oefen druk uit dat hul invloed beperk word. Identifiseer die versoeners, en versterk hul hande.

Dis geen maklike taak wat voorlê nie, maar as iemand aan Madiba ikoonstatus wil gee en sy nalatenskap daarvolgens wil eer, kan hy of sy nie wegdeins nie. Anders as wat dikwels voorgehou word, is versoening nie op ‘n enkele uiteindelike staatkundige model afgestem nie. Om die wysheid van dr. Tjaart van der Walt, destyds president van die RGN voor 1994 aan te haal: “As die mense van ‘n land mekaar nie verstaan en vertrou nie, dan sal doodeenvoudig geen staatkundige model, nie eens die beste ter wêreld, werk nie.”

Vir diegene wat meen daar is iets politiek te wen uit ‘n verdieping van wantroue, is daar slegte nuus.

Daarom behoort elke verantwoordelike Suid-Afrikaner, waar hy of sy ook al op die politieke spektrum verkeer, minstens die ideaal van versoening te laat voortleef. Daarsonder sal daar nie weer kleur na die reënboog terugkeer nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

9 Kommentare

Ida ·

Ons is ‘n land waar jy nie eens jou buurman vertrou. Hoe kan ons verwag om ons regering te vertrou en glo. ‘N kind vertrou sy pa, maar as die pa van die huis nie betroubaar en man van woord en daad is, tevergeefs bou ons aan daardie huis. Die ” vader” van ons demokratiese land het ons gegroet, maar met ‘n legesie, bou saam aan ons land.

Thea Kluckow ·

Ek is bevrees die reenboog het verdwyn en so die droom van n reenboognasie. Daar is nie in hierdie land EEN leier wat die ideaal wil of sal laat voortleef nie. Van nou af is dit “The power of the sword”.

Frans ·

Daar was nog nooit ‘n reenboog nasie nie, en daar sal ook nooit een wees nie. Dit is ‘n valse duiwelse droom, en enige een wat glo aan die’ droom moet sy ogies oop maak, want hulle is elke dag toe agv media breinspoeling.

Hugo De Groot ·

Ek dink dat more soos gister sal wees. Die ANC het sedert 1994 homself polities geposisioneer en ritme opgebou in hoe dinge in S A sal ontwikkel op die gebied van onderwys, regspleging, ekonomiese welfaart ens. En soos die destydse NP wat voorheen prominent was, en nou nooit meer van gehoor word nie, sal tyd ook die ANC se verouderingsproses en raklewe aanhelp. Met of sonder Madiba. Die aan of afwesigheid van Madiba sal na my mening geen rol speel in hoe die ANC onder leiding van President Zuma die land bestuur nie. Zuma sal steeds onkunde pleit betreffende aangeleleenthede van nasionale belang, soos wat die geval was met Shaik, Gupta en Nkandla. En soos wat sy stoel al hoe warmer raak sal daar poitici en generaals wees wat ter wille van hul eie oorlewing van onder af die stoel koud blaas. Madiba sal onthou word vir wat hy gedoen het vir S A. Noudat hy ‘weg’ is gaan niks gebeur wat nie in elk geval sou gebeur het terwyl hy geleef het nie. Dis hoe dit is in Afrika. Sela.

Theresa Papenfus ·

Nelson Mandela se grootheid lê m.i. nie daarin dat hy ‘n soort heilige was, soos sommiges reken nie. Dit lê in sy uitstyg bo bitterheit en haat, sy selfbeheersing, sy vermoë om uit te reik. Dis ‘n skaars kommoditeit. Maar dit maak ‘n verskil.

Demokraat ·

Dis korrek Theresa – dis Madiba se onderskeiding van diegene wie vandag aan die roer van sake is. Ons moet egter nie moed verloor nie al lyk die toekoms bleek en donker – daar sal weer lig opgaan en ‘n helder toekoms voor ons lê. Ons moenie toelaat dat pessimisme ons oorweldig nie – daar was slegter dae as nou wanneer ons op die geskiedenis let.

Gemsbok ·

Waarom sou Mandela bitter kon wees?

Moes hy bitter wees omdat hy die land op ‘n skinkbord sou ontvang?

Moes hy bitter wees omdat rykdom en roem vir hom gewag het saam met sy vrylating, meer as wat enige hardwerkende, wetsgehoorsame burger oor 27 jaar kon bymekaarmaak?

Moes hy bitter wees nadat hy daagliks kos en skuiling ontvang het van belastngbetalers, ten spyte daarvan dat hy saamgesweer het om hulle te moor?

Ek dink nie hy het werklik iets gehad om oor bitter te wees nie. Hy was dan die man met die meeste geluk in die land.

Frans ·

Gemsbok

Stem 100% saam met jou. Interessant dat onse volkie partykeer so “narrow minded” kan wees.

Frans ·

Mandela is nie opgerig en verheerlik deur sy eie mense nie (want hulle het nie die vermoe en infrastruktuur om dit te doen nie), maar hy is deur die wit liberale media en naiewe wit liberale vanoor die hele wereld opgerig tot iemand wat ‘n afgod geword het, want hulle het natuurlik geldelik en andersins voordeel daaruit gepit. Wat het Mandela nou eintlik gedoen wat enigsins noembaar en so wonderlik is? Ek kan aan geen ding dink nie. As iemand weet, laat weet ons asb op hierdie forum.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.