Nuuskommentaar: Narrepresidente

Bron: http://ozziesaffa.blogspot.com/

Bron: http://ozziesaffa.blogspot.com/

Pas het Rapport in sy redaksionele kommentaar goed gemotiveerd na pres. Jacob Zuma as “nar-president” verwys. In die VSA is die Republikeinse Party se benoemingstryd vir die Republikeinse kandidaat vir die volgende presidentverkiesing in ’n warboel gelaat deur die toetrede van die magnaat Donald Trump as hoopvolle. Veral die Huffington Post verwys gereeld na hom as nar en het ook aangekondig dat alle toekomstige nuusdekking oor Trump voortaan in die vermaakdeel van die koerant gedra sal word, en nié in die politieke deel nie. Trump is lekker boos hieroor.

Soos die EFF en Zuma hier slaag Trump daarin om die aandag op hom te vestig – nie altyd om die regte redes nie. Hy sê die populêre goed wat die publiek wil hoor, maar is net so vrygewig in sy omstrede menings oor kwessies soos vroue en ander groepe wat deur sy opmerkings seergemaak word. Maar dan skarrel hy weer soos ’n vryskut-verkleurmannetjie.

Peilings en ander ontledings verskil nog baie oor hoe groot die gevaar is dat Trump die presidentskandidaat kan word. Daar is al na hom as die “Trump”-kaart verwys, maar geleidelik lyk dit of Trump se groot eiedunk besig is om sy kanse ’n knou toe te dien. Die grootste gevaar, blyk dit, is dat as Trump nie die paal as Republikeinse kandidaat haal nie, hy as “derde party”-kandidaat sal staan. Volgens die jongste Rasmussen-peiling sal 29% van die kiesers steeds vir Trump stem, wat beteken die Republikeine se kanse om sy kandidaat in die Withuis te kry, is so goed soos daarmee heen.

Suid-Afrika kan egter geen vinger wys nie. Dat iemand soos Zuma president kon word, is grootliks aan die wyse waarop presidente in ons land verkies word te wyte. Die kuns is om president van die ANC te word, en daarna is die “kous klere”, want die koukus verseker dat hy ’n parlementêre meerderheid sal behaal en ingestem sal word. Van ’n presidentsverkiesing waaraan die publiek deelneem, soos in die VSA, Frankryk en selfs Zambië en Zimbabwe, is hier geen sprake nie.

Nie dat dit maklik is om president van die ANC te word nie. Die persoon moet ’n komplekse en diverse klomp steunbasisse, soos dié van die Cosatu-geaffilieerde vakonde, die SAKP, etniese faktore, die steun van tradisionele leiers en vele meer gemonster kry. En hiermee was Zuma meesterlik. Kort nadat hy as adjunk-president gepos is, het hy by Polokwane juis daardie steun gemonster en die sittende Thabo Mbeki uit die kussings gelig.

Toegegee, baie van diegene wat hom destyds gesteun het, sou nie weet watter skadelike invloed Zuma sou kon uitoefen, sodat hy kort-kort in die oorsese media gekap is omdat hy sy eie land se naam so bollie maak nie.

Maar daar was tog ook talle waarskuwings, waarvan nie die minste nie die verhoor van Zuma self in die hooggeregshof in Pietermaritzburg, en voor dit dié van sy sake-vennoot, Shabir Shaik. As is gedagte gehou word hoe daar steeds ’n veldtog is om Hillary Clinton se gebruik van ’n private e-pos-adres terwyl sy minister van buitelandse sake was, te laat ondersoek, kan ’n mens maar net dink hoe groot die storm sou wees as sy Zuma se bagasie op haar kerfstok moes gehad het.

Kunswerk: GR Openheimer

Kunswerk: GR Openheimer

Die spreekwoord lui immers in ’n demokrasie kry die mense die regering (en president) wat hulle verdien. In ’n land bestaande uit vele minderhede kan dit egter ’n tragiese werklikheid wees. In Zuma se geval is die kommer veel meer oor sy swak bestuur en manipulasie van omtrent alle staatsinstellings, as oor sy narrestreke, omdat dit besig is om die land séér te maak – die groei wat wel daar is, is ten spyte van, en nie danksy Zuma en sy kornuite nie.

Zuma se presidentskap veroorsaak vreemde dinge. Onlangs nog is die Solidariteit Beweging vanuit links-liberale kringe erg onder skoot geplaas omdat die woord “self” ’n aantreklikheid begin kry het. In ’n stuk patetiese hoernalistiek is die dam onder die eend uitgeruk en sommer aan onafhanklike volkstate gelyk gestel.

Maar met die regering se hopelose gevoortploeter (dikwels waar hard probeer word om dit in die geheim te doen) het die woord “self” ’n nuwe aantreklikheid gekry. Dit word nou as bate aangebied dat daar waar die kundigheid en vermoë bestaan, “self” werk van gemaak word om die agteruitgang te stuit en om te keer.  Op die afgelope Sondag se uitsending van RSG se program Kommentaar was een van die paneellede, dr. Piet Croucamp, baie uitgesproke oor die waarde van “self”.

Dit beteken natuurlik nie dat daar nou oornag nuwe alliansies gevorm gaan, of hoegenaamd gevorm sal word nie. Die inhoudelike van die term “self” verskil immers nog baie.

Wat egter duidelik is, is dat die “self” net ’n impak sal hê as daar genoegsame kollektiewe optrede is. En dit lê nog ver in die verskiet. Dit sou byvoorbeeld goed wees as al die persoonlikhede en instansies wat begaan is oor die toekoms van Afrikaans op die Potchefstroomse kampus van die Noordwes-Universiteit, uit een mond kon praat of minstens aan ’n gesinchroniseerde strategie werk.  Maar baie energie word vermors waar verskillende benaderings mekaar erg in die wiele ry, sodat dit vir die ondersteuners van een groep kan lyk of die ander rolspelers self “met die vyand heul” en selfs as amptelike woordvoerders optree. Op die oog af lyk dit soms of daar heeltemal van kamp verwissel is.

Dan is daar ook Solidariteit se gewoonte-kritici, wat in rubrieke (dikwels maar van erg bedenklike kwaliteit), siedende aanvalle op Solidariteit loods, en net om bietjie impetus te kry, sommer die destydse Mynwerkersunie se vermeende uitgangspunte as “bewyse” opper.

En is die proses word Zuma “toegelaat” om met sy slopingswerk voort te gaan.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Johann Marx ·

Huh? Nar-president? ‘n Nar het talent, ‘n repertoire, oefen baie, en doen sy eie grimering. ‘n Nar het ‘n gehoor en hy entertain tot almal se vermaak….. ‘n Idioot darenteen….

Peet Schabort ·

Party narre moet opleiding ondergaan terwyl ander so gebore word. Dan is daar ook dié wat nie weet hulle is narre en dié wat dink hulle is narre.

Winston ·

Narre werk hard vir baie min geld. Hierdie bespotting werk nie. Dis nie narre nie tensy jy hulle Chucky noem. Hulle maak mense dood sonder om aan hulle te raak.

Jannes ·

Mens is veronderstel om vir ‘n nar te lag, nie in Zuma se geval waar hy vir mense lag nie. Hy is allesbehalwe ‘n nar eerder ‘n idioot. Ek dink ook nie jy kan ‘n idioot anders teken nie.

Nikolaas Pienaar ·

Def.
Politikus:
Iemand wat wanneer hy hoor dat daar kannibale in sy kiesafdeling is, beloof om vir hul sendelinge te stuur.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.