Nuuskommentaar: Net een “show” vir 2017?

Argieffoto

Argieffoto

Uit besprekingsprogramme op die radio en rubrieke in die koerante kan maklik die indruk gekry word dat die opvolgstryd in die ANC is, soos ’n rubriekskrywer dit gestel het, dat daar “… only one show in town in 2017” is. Daar is egter talle belangrike “shows” hier en internasionaal waarop Maroela Media ’n oog sal werp.

Baie Afrikaanssprekendes, die uwe ingesluit, kry op slag erge sooibrand as kunstenaars, en dikwels ook “kunstenaars”, so na hul “shows” verwys.

Maar die bekende joernalis, Ranjeni Munusamy, skryf in die Daily Maverick soos volg: “There is only one show in town in 2017. The ANC succession battle will dominate the political agenda and various factions are destined to eviscerate the organisation even more as they campaign for their preferred candidates to occupy the top positions in the party. As in the past, dirty tricks and negative campaigning will be part of the game. At the end, a portion of the ANC will be crushed.”

Llewellyn Prince, politieke verslaggewer van Netwerk 24, sluit hierby aan: “2017 gaan duidelik, soos dieselfde politieke kenners sê, ‘bloedig en morsig’ intern vir die ANC wees. Daar kan net aanvaar word dat hierdie leierstryd ook net die ANC verder gaan verdeel. En die ANC is die regerende party.”

Maroela Media se nuuskommentaar kan egter nie heeljaar tydig en ontydig aan hierdie “een ‘show’ van die jaar” aandag skenk nie. Die lesers raak, en is dalk reeds in ’n mate, sat vir die Zuma-tentakels wat nie behoorlik uitgeryg kom nie, en tweedens is die verwikkelinge nie so dinamies dat dit daagliks die aandag weg van ander belangrike nuusgebeure behoort te sleep nie.

Maar dit kan ook nie onderspeel word nie, en gister het Este Meyer-Jansen reeds op Maroela Media ’n omvattende artikel geplaas waarin die menings van die land se voorste kenners weergegee word.

Trouens, amptelik keer die ANC nog dat die leierskapstryd nou al ontbrand – iets waaraan die ANC se Vroueliga hulle nie gesteur het nie, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma is as sy voorkeurkandidaat aangewys. En dit maak saak, want enigeen wat ervaring van ’n oorwegend swart party het, weet hoe die party se Vroueliga die geledere om ’n (vroue-)kandidaat kan sluit, en ander kandidate feitlik kan platloop.

Dit gebeur weliswaar gewoonlik op ander vlakke as die partyleier self, maar as die Vroueliga se reuse-afvaardiging kort voor die stemming al singende die lokaal inkom, is dit ’n baie oorweldigende en gekonsolideerde prentjie.

Boonop sit die “logiese” opvolger, Cyril Ramaphosa, met die tameletjie dat pres. Jacob Zuma duidelik sy voorkeur toesê aan sy eksvrou, die einste dr. Nkosazana Dlamini-Zuma. Hy het onder meer die kluitjie kwytgeraak dat dit nie noodwendig “tradisie” in die ANC is dat die adjunk-president die president opvolg nie en dat dit tyd is dat Suid-Afrika ’n vrouepresident kry. Voorts het Zuma Ramaphosa se steun vir sy eie presidentskap gereeld beloon deur sy adjunk gereeld met “hospitaalaangeë” te probeer uitverkoop, soos met die grondwetlike krisis in Lesotho.

Ramaphosa het ook ʼn bietjie blokke aan die been opgedoen, soos met die Marikana-aangeleentheid. Boonop is hy ’n Venda, die kleinste taalgroep in die land wie se taal wel ’n amptelike taal is. Hy is egter ’n kind van Soweto, en skakel goed by ander in.

Sy grootste bate is waarskynlik dat hy oudpres. Nelson Mandela se voorkeurkandidaat was om hom op te volg, maar Thabo Mbeki het met die louere weggestap (en later daaroor gestruikel).

Tog bly sy beste kans om president te word om ’n ruk lank die geleentheid te kry om werklik te toon hoe presidensieel hy kan wees. Omtrent die enigste manier waarop dit kan gebeur, is as die wiel nou baie vinnig draai en die #ZumaMustFall-veldtog die president in die slag laat bly. Die indruk word egter nou gewek dat ’n gelatenheid op die land neerdaal dat Zuma sy tweede termyn as ANC-president gaan voltooi, en waarskynlik ook tot in 2019 president sal wees wanneer sy tweede, en volgens die Grondwet, laaste termyn as president van die land aanbreek.

’n Gedagte wat af en toe genoem word, is dat ooreengekom word dat Ramaphosa nou president van die ANC word, en Dlamini-Zuma die adjunk-president. Dit is nie seker of bedoel word dat daardie posisie dan net so in 2019 na die land se presidensie oorgedra word nie.

Kenners wys daarop dat Zuma se voorkeur vir sy eksvrou net dalk op hom mag boemerang. Dlamini-Zuma deel nie noodwendig die persepsie dat sy president moet word om haar gewese man se belange en bas te beskerm nie. Sy sal egter ook weet dat dit die verwagting van baie van Zuma se aanhangers is, en as sy nou vir Jacob Zuma ’n koue politieke skouer gee, is sy waarskynlik baie van hierdie steun kwyt.

Die Sarafina-skandaal wat soos ’n albatros om haar nek hang, maak waarskynlik geen verskil in die ANC nie. Prof. Steven Friedman het immers by geleentheid gesê dat skandale wat die land raak, nie noodwendig binne die ANC as skandale ervaar word nie.

Luidens koerantberigte, wat nie die skynbaar gesaghebbende bronne se name bekend maak nie, gaan Zuma binnekort vir Nkosazana plek in sy kabinet maak. So iets sou haar profiel beslis verhoog, mits dit nie weer deel van brouwerk is, soos om Pravin Gordhan uit die kabinet weg te laat om vir haar plek te maak nie.

Twee ander moontlike kandidate se name word ook genoem. Die Speaker van die parlement, Baleka Mbete, het pas haar naam in die hoed gegooi. Sy maak waarskynlik staat op haar voorsitterskap van die ANC, asook die feit dat sy ’n voormalige adjunk-president van die land was. Die bedrieglike rybewys wat sy in Mpumalanga bekom het, tel egter teen haar.

Boonop staan sy op die mespunt van die konstitusionele hof se bevindings dat die parlement sy verantwoordelikhede jeens die Grondwet in die Nkandla-sage skandelik versuim het. Mbete hoop waarskynlik op Xhosa-steun (en doen al lank voetwerk daar), maar die feit bly, sedert Zuma die toneel begin oorheers het, het die ANC se magsbasis van die Oos-Kaap na KwaZulu-Natal verskuif. Soos die wind nou waai, met die verskuiwing van magsbasis wat deur Zuma se Zoeloefikasie opgevolg is, lyk dit nie of die Xhosas ooit weer empiries in staat sal wees om die magsentrum van die ANC te vorm nie. Die verdeeldheid van die ANC in KwaZulu-Natal kan uiteraard ’n rol speel. Voorts is dit onwaarskynlik dat Mbete, benewens ’n paar afvalliges, steun onder die vroueliga sal kan trek wat na verwagting ’n sterk blok om Nkosazana sal vorm.

Die vierde naam in die hoed is die ANC se tesourier-generaal, dr. Zweli Mkhize. Mkhize het hom reeds as knap bevestig. Hy is aanvanklik as ’n Zuma-pion beskou, maar dit lyk of die verhouding met Zuma nie meer so hartlik is nie.

Mkhize het nog nie sy belangstelling om president te word getoon nie, en fokus nou eers daarop om eenheid in KwaZulu-Natal se ANC te bewerkstellig. Dit is egter moontlik dat dinge so na die einde van die jaar kan ontwikkel dat hy as ’n soort kompromis-kandidaat na vore gestoot kan word.

Maar wat intussen met Zuma self gemaak?

Dit kan aanvaar word dat sy teenstanders nie hul aksies om nou reeds van hom, in landsbelang, ontslae te raak sal laat vaar sonder ’n soort kompromis nie. Moontlik is een van die vroeë tekens hiervan die feit dat Ramaphosa, en nie soos in die verlede Zuma nie, die Suid-Afrikaanse afvaardiging na Davos lei. Verlede jaar het Zuma juis daar yslike skande gemaak deur hom van ’n uitsending te onttrek wat net vir staats- en regeringshoofde bedoel was, en Suid-Afrika toe die blootstelling heeltemal misgeloop het.

Kortom, dat Zuma sover moontlik net seremonieel aangewend word, en onder ’n groter verpligting staan om by sy geskrewe toesprake te hou. Met die sogenaamde 8 Januarie-toespraak – een wat deur die NUK voorberei is en bedoel was om net so gelees te word, het hy egter rug styf gemaak en periodiek van die geskrewe teks afgewyk. Is dit hoegenaamd moontlik om Zuma tot die seremoniële te beperk en so sy onhebbelikhede uit te skakel?

Tegnies, as optimisties na die verkiesingstrajekte gekyk word, is dit moontlik dat die hele “show” kan platval en dat ’n koalisie in 2019 aan bewind kan kom.

Hierin lê vir opposisiepartye en die media ’n groot uitdaging om nie so op die ANC se opvolgstryd te fokus dat die algemene indruk gewek word dat dit vanjaar (en tot 2019) die enigste “show” is wat die moeite werd is nie.

Daar is inderdaad verskeie parlementêre en buiteparlementêre “shows”  wat verdien dat die oog daarop gehou word. Kan ’n klimaat voortgesit word dat meer swart mense besef die ANC is nie die enigste opsie om voor te stem nie? Dat nie net die DA nie, maar partye soos Cope, die UDM en die IVP ook beduidende stemme trek om ’n koalisie te kan vorm. Die EFF het immers reeds daardie “slegs ANC-konsep” ’n knou toegedien.

Buite hierdie speelveld is daar ’n aantal verwikkelinge om minderheidsregte. Die Solidariteitbeweging se projekte realiseer op ’n streep danksy die steun wat onder die Afrikanergemeenskap geniet word.

Maar dit is nie al nie. Onder die Khoi-San en die bruin mense is ook ’n besef aan die ontwikkel dat hulle nie hul tweede- of derdeklas-burgerskap in die voue van die ANC gaan ontsnap nie. Dit is nou afgesien van ’n aantal “ere-swartmense” vir wie die ANC sorg dat die “dice” reg val. Dit het nie baie nuusdekking geniet nie, maar tydens die behandeling van ’n wetsontwerp oor Khoi-San-regte het dit seergemaak toe die (swart) lede van die Huis van Tradisionele Leiers met deftige parlementêre eetgerei en uit pragtige borde kon eet, maar van die tradisionele Khoi-San-leiers, wat veg vir hul status as eerste nasie, moes op die grond sit en met plastiek-eetgerei uit papierborde eet.

In ’n basies unitêre staat is die geveg vir minderheidsregte ongelukkig nie maklik nie, maar noodsaaklik.

So suksesvol het dit onder die Afrikaner posgevat dat Max du Preez Solidariteit van ’n “staatskaping” op die Afrikaner beskuldig het.

Daar is soveel ander “shows” plaaslik en internasionaal wat “must go on”. Dit is “shows” wat almal Suid-Afrika raak, en in hierdie rubriek sal hard gewerk word om lesers van genoeg toeligting hieroor te voorsien dat dit ook in die openbare oog bly.

As die verbrande fopnuus en die skade wat dit reeds aangerig het net omgekeer kan word.

 

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Charmaine Griffiths ·

Die fopnuus maak slegs opslae omdat daar te veel liggelowiges in die omtrek is. Ek verneem die woord “liggelowige” is uit die woordeboeke verwyder

Grassie ·

Dit lyk asof Zuma begin besef hy sal nie nog ‘n termyn aan bewind kan bly nie daarom ondersteun hy nou sy eks om, soos Herman hierbo sê, sy eie bas te probeer red. Maar ek vertrou steeds nie die vrede nie. Zuma is onvoorspelbaar en tot enigiets in staat. Hy kan nog baie probleme soos bv burgerlike onrus aanstook.
Iets wat my pla – sal ‘n koalisie waarin die EFF ‘n groot rol speel, noodwendig ‘n verbetering op ‘n ANC-regering wees? Meng jou met die semels…….

Rynhardt ·

Kom ek spel dit uit vir die wat die politiek nog steeds nie verstaan nie, en wat in permanente ontkenning leef! Daar was destyds volgens die Vryheidsmanifes geonderhandel wat rewolusie uitspel.Die Anc se Jesse Duarte het verlede jaar aan SABC2 nuus die volgende gese:”Nobody would stand in the way of our revolution!”Nog steeds wil talle dit nie glo nie! Die Anc gaan nie n koalisie-regering met enige Anc-faksie soos die DA of EFF (albei ondersteun Vryheidsmanifes) he nie, nog minder gaan hy die mag vrylik afstaan op n skinkbord met koekies en tee! Dit kan talle in hul dagboeke opteken wat in ontkenning leef.In die verlede was daar te veel mense wat op die manne in kerkpakke vertrou het, plus daar was ook te veel rugby gekyk, daarom die eenrigtingverkeer in politiek vandag!

Koalisie ·

Ons het ‘n koalisie SO nodig, tensy dit gaan werk soos ZIM se KOALISIE waar MUGABE steeds die kitaar slaan en sy opposisie steeds geboelie word en kort kort in die tronk gesmyt word as hulle hom teegaan, daai vorm van ‘koalisie’ werk nie lekker nie.

John ·

Zuma speel heeltyd kersvader wat briefies lees en die wense belowe. Die ex wil president word in ruil vir Zuma-‘security’. Die vroueliga droom oor ‘n vrou bo, een beter as Clinton. Die ANC-boy-scouts is bok vir sports en staan voor in die koor vir nog lekkerder. Zuma het iets teen sy adjunk gevind. Die’ se kritiek teen hom sal nooit vergeef word nie. Mbete hoop verniet en die res ook. Die Zoeloes gaan een stap verder as rassisme, hulle bedryf Zoeloeisme en nepotisme is hul trots en plig. Daar is ‘n wereld daarbuite, maar vir die ANC bestaan net die ANC. Mag ons asb die jaar ook hoor wat elders gebeur… en nie net eers as die bom bars nie…

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.