Nuuskommentaar: Nou byt die “Westerse konsep” die land séér

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Nhlanhla Nene. Foto: GCIS

Dit is nie net korrupsie wat tot die broekskeur mini-begroting Donderdag bygedra het nie, maar die aandeel daarvan dat die land die gordel styf – of dan stywer – sal moet intrek, kan nie onderskat word nie.

Iets wat volgens die president net ’n Westerse konsep is, en in sy eie geval “niemand skade berokken het nie,” gaan nou daartoe bydra dat belasting in alle waarskynlikheid verhoog moet word, en uitgawes drasties ingeperk moet word.

Dit is nie om dowe neute nie dat die Wêreldbank korrupsie beskryf as die handeling wat ’n land van sy toekoms beroof (Westerse konsep of nie).

In 2011 is die “rekening” vir korrupsie in Suid-Afrika op 20% van die BNP bereken, aldus Lawson Naidoo van die raad vir die bevordering van die Suid-Afrikaanse Grondwet. In 2010 het die ouditeursfirma, BDO bereken dat korrupsie die land R100 miljard gekos het. (Lees gerus meer oor die omvang van korrupsie hier.)

Suid-Afrika tuimel onvermoeid op die korrupsiepersepsie-indeks; van die 54ste posisie in 2009 toe pres. Jacob Zuma president geword het, tot die 72ste posisie op die jongste lys. Op die omkoopindeks vaar Suid-Afrika egter werklik beroerd, met selfs die DRK wat beter vaar.

Dat dit ʼn impak op die ekonomie het, blyk uit ’n stelling van Transparency International in 2011 dat korrupsie breed staan in die pad van die oplos van die wêreld se skuldkrisis, wat weer onderliggend is aan die wêreld se ekonomiese krisis. Sedertdien het die wêreldkrisis ʼn bietjie verlig, maar toestande in Suid-Afrika het konsekwent agteruit geboer.

Maar soos die minister uitgewys het, daar was ook ander faktore wat tot die krisis bygedra het. Die uitgerekte AMCU-staking het die land na raming R30 miljard gekos. Dié staking was nie die enigste wat die land tot dusver vanjaar getref het nie – selfs die Poskantoorstaking kos die land elke dag heelwat, al het die rol van slakkepos die afgelope aantal jare afgeneem. Die minister van finansies wil nou deur verhoogde belasting R15 miljard oor die volgende twee jaar in.

Die land het ’n enorme kabinet – wat hoe dieper die land weggesak het, net al hoe groter geword het. Die bykomende koste van die jongste kabinet, onder meer in die skep en herstrukturering van departemente, kos die land R56,7 miljoen. Dit is twee keer meer as wat daarvoor opsy gesit is. Hierna volg die jaarlikse sleureffek van bykomende salarisse, vervoer, verblyfkoste, verversings ens.

Die koste van ʼn swaardiens-president met sy vier vroue laat die land se oë ook kort-kort rek. Op die duur is die koste van Nkandla se “sekuriteitsopgraderings” kleingeld teen die “lopende” (en vlieënde) koste van die president en sy gevolg.

En op ’n manier word geld vir vredesoperasies in Afrika gevind (soms deur die internasionale gemeenskap gedra), terwyl die land gebuk gaan onder grensskendings met veediefstal, renosterstropery en selfs plaasaanvalle as newe-produk.

In ’n nuusverklaring meen die DA dat die beleid van kader-ontplooiing die land jaarliks miljarde rande aan verlore fondse en gebrekkige dienslewering kos.

Paul Hoffman, hoof van die Instituut vir Verantwoordbaarheid het reeds in 2011 daarop gewys dat die beleid van kaderontplooiing ongrondwetlik en onwettig verklaar is (Mlokoti v Amathole District Municipality and Another).

Voeg hierby die koste van affirmative action (wat nie met regstellende aksie of te wel corrective action, verwar moet word nie). In 2013 het Siegfried Walther ʼn verband getref tussen affirmative action-aanstellings en onreëlmatige uitgawes van die staat, wat in 2012 R21,1 miljard beloop het.

Die probleem met verhoogde belasting om die gevolglike tekorte aan te suiwer is dat net nog geld uit die produktiewe sektor na die onproduktiewe sektor “gesuig” word. Selfs al word hierdie model van ekonomie die ekonomie van ’n ontwikkelingstaat genoem, skryf Paul Joubert, senior ekonomiese navorser van Solidariteit oor die mini-begroting soos volg: “Die minister van finansies, Nhlanhla Nene, se mediumtermyn-begrotingsraamwerk, wat vandag in die parlement ter tafel gelê is, is soos met dié van sy voorganger Pravin Gordhan, steeds op ʼn onvolhoubare model van ʼn ‘ontwikkelingstaat’ met begrotingstekorte, groeiende regeringskuld en swaar belasting gebaseer.”

Dr. Pieter Mulder, leier van die Vryheidsfront Plus, sê die minister berei Suid-Afrika duidelik voor op nuwe en verhoogde belastings en tariewe om die tekorte na die besnoeiing van uitgawes op te maak. Dit is ‘n fout in ‘n tyd van baie lae ekonomiese groei en sal ‘n groot demper op entrepreneurskap en groei plaas.

Die kort en die lank is dat die somme lank reeds gemaak is dat die land Zuma nie as president kan bekostig nie. Verkiesingsuitslae dui daarop dat die meeste Suid-Afrikaners glo dat die land wel die ANC as regering kan bekostig, en die spreekwoord in die politieke wetenskap lui dat ’n land die regering kry wat hy verdien. Net so jammer vir die minderhede.

En as sekere fundamentele dinge soos korrupsie, vermorste uitgawes, onrealistiese inkomsteverwagtings aangehelp deur verwoestende stakings, kaderontplooiing, ’n beheptheid met affirmative action, nie aangespreek word nie, sal selfs die beste minister van finansies en die doeltreffendste tesourie nie die wa op sy wiele kry nie. Dit is, soos die vergelyking wat iemand onlangs getref het, om ’n varksog se bakkies op te kikker deur lipstiffie aan die lippe te smeer.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

6 Kommentare

Michael ·

Het iemand al uitgewerk hoeveel belasting SA al verloor het met die uittog van belasting betalers. Die ANC en ander is vinnig om te se die wittes moet loop. Maar dit is juis DIE mense wat wel land uitgaan, wat oorsee gaan werk en daar belasting betaal.

Hennie Louw ·

Dis mos nou demokrasie op sy beste. Ou Piet Croukamp en sy gebreinspoelde joernalistieke gepeupel moet hierdie verskynsel vir ons verklaar. Die mense moet net die geleënthede kry en sal ons as reënboognasie geen einde ken nie. Ek is bevrees hierdie is weereens ‘n bewys van ons afwaartse spiraal wat so tipies van ons mede Afrika broeders se lot is. Sekere mense is nou maar net nie bevoeg genoeg om te kan lei/bestuur en wat nog nie. Maar ons word vertel almal is gelyk. Die prentjie wat deur die nie-polties korrekte ekonome geskets word is nag. Hoe dit ooit deur die huidige bewindhebbers reggestel kan word weet ek nie.

Dr Pieter van der Dussen ·

Dit is natuurlik dat mense skerp op die aangekondigde verwagtings en dreigemente reageer omdat dit niks goeds vir die werksame mense in die land voorspel nie. Pasop egter vir ‘n gees van paniek en laat elkeen doen wat hy kan om sy eie werf skoon te hou. Dit beteken in die komende feestyd: Hou matigheid voor o-e. Dit beteken nie noodwendig om in sak en as te gaan sit nie. Moenie begeerte die oorhand oor behoefte laat kry nie en vermy nuwe skuld aan dinge wat nie werklik nodig is nie. Omskep kredietkaarte sover dit moontlik is in debietkaarte teneinde persoonlike dissipline aan te moedig. En dink maar aan die EenRandMan van so twee maande gelede wat net met Rande moes betaal en dit reggekry het om binne sy salaris te bly. Bly self binne die perke van beskikbare middele sonder om die wysheid van Salomo in Prediker 5:17-19, 8:11-17 ensovoorts opsy te skuif.
En moenie eie optrede geringskat nie. Iemand moet begin en as net tien ander hom volg kring die gedagte uit en die gunstige uitkomste versprei al hoe wyer. Aan die Vrystaatse President Jan Brand word die segswyse toegeskryf: Alles sal regkom as elkeen sy plig doen….. Want wie verag die dag van klein dinge (Sagaria 4:10)?

Ant ·

Ons bly vir mekaar preek en ek sien gereeld hierdie berigte op dieselfde trant, maar vir my wil dit voorkom dit het tyd geword om iets te doen eerder as om in ons tronke te woon in ons ou buurte en die nuwe base (politici) ryk te maak. Hierdie is ‘n eenrigting land, niks gaan verander as ons dit nie self verander nie.

Tans dra ons mense nog die grootste deel van belasting betalings by. Ons moet dit gebruik tot ons voordeel en ons ekwiteit beskerm deur saam te snoer en te eis dat ons waarde kry vir ons geld, al beteken dit ons word vervolg daarvoor. As die staat nie behoorlik met ons geld omgaan nie, dat kan ons mos dit terughou en eis dat hulle veranderinge maak, ons hou dan die geld vas, of hoe?

As daar genoeg mense is wat hierdie begin verstaan kan ons begin dink aan ‘n ander SA, tot dan word die water al warmer en die padas is binnekort gaar.

Hanti Smith ·

So word die persone wat het meer,die persone wat deur nalatigheid beseer is,die ouer garde net al hoe swaarder.Verskoon tog as ons dan moedeloos raak,dit lyk of uitkoms nie gaan kom nie.Net bietjie goeie nuus is al wat ons vra,maar dit lyk na ‘n hersenskim.

tamilyn ·

Met elke stap deur die regering is dit duidelik dat jy op die regering op die ou end kommunisme gaan voorstel. Op die oomblik sal niemand daarvoor stem nie, eers wanneer die druk te groot word sal die mense dan net aanvaar en laar vaar

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.