Nuuskommentaar: Objektiewe joernalistiek, selfsensuur en betaalmure

Argieffoto: Pixabay

Danksy moderne kommunikasietegnologie kan ’n terreurdaad letterlik in ons sitkamer, waar die TV staan, ons hare laat regop staan. “Die wêreld, ’n neutedop!” het iemand verbaas uitgeroep toe hy besef hy het beter kontak met iemand in ’n ander land as met sy buurman agter die biergordyn langsaan. Maar daar is steeds faktore wat kennis aan bande lê, soos selfopgelegde sensuur deur (sekere) media te boikot, of betaalmure wat dit byvoorbeeld vir media hier moeilik maak om deurlopend buitelandse koerante te raadpleeg.

Die vennootskap tussen lesers en die media wat ingespan word om te wete te kom wat saakmakend in die wêreld aangaan, is waardevol. Dit geld veral waar buitelandse nuus, wat danksy die kubertegnologie bykans dadelik tot ’n joernalis in ’n land – soos in die animasiereeks Shrek “Far far away” – se beskikking kan kom, maar nou deur betaalmure onbeskikbaar is. Een van die ongelukkige gevolge van die kubertegnologie was dat dit die noodsaak van buitelandse verteenwoordigers en selfs korrespondente “onnodig” gemaak het. Dis goedkoper om bloot die kubertegnologie in te span – maar ook eers nadat die beskikbare nuusbronne, koerante ingesluit, vir geloofwaardigheid, objektiwiteit, noukeurigheid en algemene gehalte gesif is. ’n Broodnoodsaaklikheid, want lesers het dikwels dieselfde soort toegang, en ’n misstap deur ’n nuusverspreider hier kan so maklik die nuusverspreider se geloofwaardigheid verfonkfaai.

Veral in ’n era van fopnuus en sekere regerings se klandestiene inspan van beïnvloedingsagente, wat “stringers” insluit, kan nuus skeef oorgedra word. En toe kom eers die Poetin-, en toe die Trump-era en ander vorme van mensverering waaroor niks verder gesê hoef te word nie – dié objektiwiteitsoorlog is daar vir elkeen om te sien en sal nog lank duur.

Maar die beoordeling van objektiwiteit geskied lank nie meer in ’n voldoende objektiewe omgewing nie. Volgens die jongste peiling van die agentskap Rasmussen glo net 32 persent van die Amerikaanse kiesers dat die meeste joernaliste in hul beriggewing oor die gebeure wat ten doel het om pres. Donald Trump in ’n staat van beskuldiging te plaas, daarin belangstel om akkuraat daaroor verslag te doen.

Volgens die peiling glo 53 persent van die kiesers dat die media die saak probeer bevorder vir diegene wat die president voor stok wil kry.

Dit is lank reeds algemene kennis dat daar ’n vry algemene opvatting is dat veral The New York Times en CNN daarop fokus om Trump te probeer sink, en alle geloofwaardigheid oorboord gegooi het. Peilings het al aangetoon dat relatief min Amerikaners sluk aan The New York Times se geloofwaardigheid. ’n Kuiertjie by dr. Google toon dat die koerant al lank besig is om lesers te oortuig dat daar peilings is wat sy objektiwiteit oor Trump staaf – gewoonlik peilings wat deur die koerant self gedoen is – weliswaar dikwels in samewerking met instansies soos die Siena College. Siena, informeel bekend as Saints, is nie sonder geloofwaardigheidsredes as vennoot gekies nie. Siena bemark homself as moraliteit- en religieusgerig, met deernis vir die armes.

Kortom, joernaliste wat hul sout werd is, of eerder, so na as moontlik daaraan probeer kom, sal nie sommer The New York Times of CNN as bronne inspan nie, al is daardie inligting volgens kruisverwysings ook in die kol. Maar die blote inspan van dié media, al is die feite 100 persent in die kol, is gewaarborg om by baie lesers by voorbaat die oortuiging te laat die ganse produk is kwaadwillige, subjektiewe twak, gelaai met leuens.

Die rol wat betaalmure in nuusbeperking speel sal nog lank nadat die media beter befondsingsmodelle ontwerp het, ontleed word. Die stryd om akkurate nuus te bekom met betaalmure wat hier en oral opduik en die pogings kompliseer, vind gewoonlik agter die skerms plaas.

’n Onlangse voorbeeld hom by Maroela Media afgespeel. Twee mense, een ’n Nederlander en die ander ’n Belg wat albei in Mosambiek woon, is by die bekende Marlothpark in Mpumalanga vermoor. Uiteraard was dit dadelik groot nuus in Nederland en België, en geen berig hieroor sou volledig wees sonder om nuus uit die twee lande se media in te sluit nie. ’n Bedrewe joernalis het die storie aangepak, maar sy het haar teen betaalmuur op betaalmuur vasgeloop by elk van die “kranten” wat reeds as geloofwaardig geïdentifiseer is. Die persoon lees nog die berig, dan vervaag die skrif, en weg is die teks. Dit is maar een van talle maniere waarop die betaalmuur sy werk doen.

Uiteraard word Google ingespan om die probleem te oorkom. Dit gebeur dikwels dat ’n koerant die nuus via ’n nuusdiens, soortgelyk aan wyle Sapa, bekom. In Nederland se geval NOS, en in België se geval Belga. Laasgenoemde se berigte is in Vlaams en Frans. Sommige koerante laat hul lesers vir hierdie nuus betaal, en ander bied dit gratis aan hul lesers. Maar dié dag was dit nie so eenvoudig om die nuus elders te kry nie. Eers nadat die spoor via Belga na die Britse media gevolg is, kon die volledige prentjie bekom word.

Dié pad is nie altyd so gewaarborg nie. Die uwe het jare gelede via die Nederlandse media die nuus oor ’n redelike groot vliegramp in Duitsland bekom. Die Duitse media is geraadpleeg en daar kon volledig daaroor verslag gedoen word. In die proses is die Britse media ook geraadpleeg, maar volgens Google het dit gelyk of die Britte dit ignoreer, of nog nie daarvan kennis geneem het nie. Eers ’n hele rukkie later het dit die Britse media bereik. Die min Britte wat enige ander tale as Engels magtig is, het die nuus aanvanklik effektief geblok. In min of meer dieselfde tyd het die Duitse kanselier Angela Merkel ’n groot nuuskonferensie oor ’n ander saak toegespreek. ’n Britse joernalis het tydens die vraesessie gevra of Merkel nie asseblief haar vraag in Engels sal beantwoord nie, want sy is nie Duits magtig nie. Merkel het haar vererg vir die Britse vermetelheid om iemand wat nie Duits magtig is nie, in Duitsland te stasioneer, en geweier om haar eie Engels in te span. Merkel, wat in die voormalige Oos-Duitsland gebore is en grootgeword het, maak gewoonlik van ’n tolk gebruik.

In ’n veeltalige land soos Suid-Afrika is dit ook kompleks. Verskeie buitelandse joernaliste wat as korrespondente in Suid-Afrika geplaas word, kan of wil nie die Afrikaanse koerante lees nie, en verval so dikwels in ’n narratief wat aan Afrikaanssprekendes vreemd is. Dit herinner aan die Vrystaatse wetgewer wat enkele jare gelede ’n mediamoniteerder aangestel het. ’n Gawe Zoeloesprekende kader wat geen Afrikaans kon verstaan nie. Sonder toegang tot die Afrikaanse media in die Vrystaat kon hy kwalik ’n kwart van sy werk doen.

Wat die vraag laat ontstaan oor hoe doeltreffend die ministers en ander belanghebbendes via die veiligheidsdienste ingelig word oor wat die Afrikaanse media dra. Uit die politici se uitsprake en toesprake klink dit dikwels of hulle ook nie veel weet wat werklik in die land aangaan nie, en dat ’n soort selfopgelegde sensuur toegepas word. So amper of die huidige droogte eers verby sal wees voordat ’n nasionale noodtoestand verklaar sal word. So asof daar nie meer brood op die winkelrakke sal wees voor agtergekom sal word dat daar so iets soos plaasmoorde was nie.

Watter kans staan ’n buitelandse joernalis sonder toegang tot die Afrikaanse media as hy lees Milner Lesufi se woordvoerder sê die LUR se kritici probeer rasgebaseerde skole in stand hou. (Dis ’n strategie van die ANC om taal met ras te vervang, en so die Afrikaanssprekende gemeenskap se aanspraak op internasionaal-erkende minderheidsergte, buite erkende juridiese aansprake te plaas.) In plaas daarvan dat Lesufi as taalimperialis sonder ’n regsgeldige onderbou ontmasker word, klink dit vir die joernaliste wie se kapasiteit tot Engels beperk word of Lesufi ’n heroïese stryd teen apartheid voer. So word die eerbare mense, soos die Instituut vir Rasseverhoudinge wat Lesufi by die Openbare Beskermer verkla het, as apartheidskurke aan die wêreld voorgehou.

Sonder ’n kommunikasielyn na Afrikaans sal kritici van Gelyke Kanse se stryd oor die manier waarop die nuwe kanselier aangewys is, nie kan aanvaar dat daar ’n gekonkel was nie, en eerder glo die kwaadwilligheid lê by Gelyke Kanse.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Piet ·

Jô, ‘n goeie analise wat maar eintlik gegroepeer word as fopnuus. Die hele inligting uitset word bepaal deur die redaksie.
‘n Goeie voorbeeld speel hom af 7 uur op die enigste Afrikaanse nuus kanaal. Drie groot items wat nuuswaardig is bestaan volgens hulle nie en soos klokslag die gebruiklike anti-Trump brokkie wat in elkgeval twak is. Die gebruik van Afrikaans en gebrek aan begrip pla mens.
Doe so voort Herman – vra sommer vir ‘n verhoging.

Leon ·

Betaalmure in Suid Afrika is maar net so erg.
Was jare terug by ‘n bekende dagblad ingeteken. Dit sou 5-uur die oggend afgelerer word. Word so tussen 5-uur soggens en 7 uur saans afgelewer want dit is ‘n SEB mmatskappy wat nie weet wat en waar en hoe nie. Ek wou toe nou maar deur die dag weet wat aangaan waneer ek nie ‘n koerant kry nie. Die koerant was ‘n paar honderd rand en die aanlyn ook ‘n paar honderd rand. Toe kanselleer ek maar die koerant en nou ondersteun ek maar Maroela Media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.