Nuuskommentaar: Om dankie te sê

"Freedom From Want" - olieskildery deur Norman Rockwell (1943) - http://www.curtispublishing.com/gallery/free.htm via Wikipedia

“Freedom From Want” – olieskildery deur Norman Rockwell (1943) – http://www.curtispublishing.com/gallery/free.htm via Wikipedia

Vandag vier Amerikaners een van hul groot feesdae, Dankseggingsdag, of by hulle bekend as Thanksgiving. Dit vind altyd op die laaste Donderdag van November plaas, en maak saam met Kersfees en Nuwejaarsdag die pilare van die “feesseisoen” uit.

Omdat so baie Suid-Afrikaners nou in die VSA woon, en mense op groot skaal met mense in die VSA kommunikeer en selfs sake doen, is daar nou ’n groter bewustheid oor hoe belangrik Thanksgiving vir die Amerikaners is.

Suid-Afrika het 15 vakansiedae, en bykans dertig dae (vakansiedae ingesluit) waar sekere sake herdenk of gevier word, byvoorbeeld Moedersdag. Nie een is, soos die Israeliete se oesfeeste, daarop gemik om die Here spesifiek te dank vir gawes nie.

By baie Suid-Afrikaners bestaan die opvatting dat Thanksgiving eintlik die sekulêre weergawe van Kersfees is. Tog, in sy tradisionele ontstaan vanaf die vroeë 1600’s, tot sy amptelike verklaring in 1863 deur pres. Abraham Lincoln, was dit ’n dag met diep godsdienstige betekenis. Lincoln het dit spesifiek as dankdag aan die Hemelse Vader opgedra.

Baie van die vroeë setlaars was pelgrims en het soos die Verbondsvolk na die inbring van die oeste die Here spesiaal met ’n fees daarvoor gedank. Tot vandag is tekens hiervan in die kaartjies waarmee Amerikaners ’n gelukkige “Thanksgiving” toegewens word, te bespeur.

Een van die oudste, en interessantste weergawes dateer uit 1621 toe die pelgrims by Plymouth dit saam met die plaaslike Rooihuide van die Wampanoag-stam begin vier het. Die setlaars se voorraad wat hulle uit Engeland saamgebring het, was die winter onvoldoende, en hulle het by die stamkaptein kos gekry.

Sedertdien het dit dikwels vir immigrante-gemeenskappe ’n belangrike betekenis oor die kans op ’n nuwe lewe wat hulle in ’n welvarende land gekry het.

Ons hoor dikwels die aanklag dat ons gou is om biddae vir reën te hou, maar wanneer die sluise van die hemel oopmaak, vergeet ons om in gelyke mate dankie te sê.

Daar is baie goeie redes waarom ons nié sommer openbare geleenthede van dankie sê maak nie. Vir baie is dit praktyk om dit ’n persoonlike saak op die knieë in die binnekamer te maak. Pragmaties – terwyl sommige dele van die land deurnat is, is daar dele waar die droogte nog nie gebreek is nie. Elders is die grond goed nat, maar die damme wat die dorpe van water moet voorsien is nog leeg.

Ons het ook ’n geneigdheid om sake te laat ontaard. Dink maar aan die jare van ernstige politieke toesprake by Geloftefeeste – temas wat maar net hier en daar kunsmatig aan die betekenis van die dag self gekoppel is. En word baie van die feeste nie nou nog maar politiek gekaap nie?

Net so kan gevra word by hoeveel Thanksgiving- en Kersfeesvieringe staan die gebakte kalkoen in plaas van die Here sentraal?  Selfs in Suid-Afrika, waar sowat 85% van die mense hul Christenskap op sensusvorms bely, word “Merry Christmas” met “Happy Holidays” van sy oorspronklike betekenis losgemaak. Ter wille van politieke “korrektheid”.

Is dit dan nie van meer betekenis om naamloos kos in die kerk se koskas te laat en so konkreet dankie sê vir die seëninge wat persoonlik ervaar word nie? Gaan dit nie meer betekenis hê om meer van die bedoelde inhoud in bestaande dae soos Kersfees, Goeie Vrydag, Paassondag of Geloftedag te gee nie?

Of verdien liefde sonder perke nie dankbaarheid sonder grense nie?

Vandag vier baie Amerikaners Thanksgiving, terwyl groot dele van Kalifornië nog onder ’n ongekende droogte wurg. Sou die Israeliete met dieselfde oorgawe die oesfees vier as die Amalakiete of ander vyand met hul oeste vort is?

Dit is geen kuns nie, om in plaas van seëninge te tel, te sit en dinge wat verkeerd is bymekaar te tel. Die tema vir vandag se nuuskommentaar kon net sowel die probleme van Eskom gewees het. Individue en sake-ondernemings het reeds enorme skade gely weens beurtkrag, en die impak daarvan. Die regering se bitsige reaksie op AfriForum, die TLU SA en die VF Plus se voorleggings oor onder meer plaasmoorde voor die VN se Forum vir Minderheidsaangeleenthede is opruiend-tragies. Die regering se blindelingse omhelsing van die Palestyne is skokkend uit pas met die werklikheid. Dat net 25% van die staatsdepartemente skoon oudits gekry het, is ’n skande. Die groeiende plakkerskampe en die werkloosheidskoers is neerdrukkend. Die misdaadkoers terwyl mense se huise soos tronke beveilig is, is enige dag materiaal vir ’n nuuskommentaar. Die deurlopende druk op Afrikaans is ’n bron van polarisasie. Sondag het die blondekopvrou wat Rapport op die straathoek verkoop, sopnat gereën…

Al het ons self nie ʼn spesiale dankseggingsdag nie, vier baie kerke en gemeentes op ’n Sondag in veral Oktober en November ’n Dankbaarheidsondag. ’n Vlugtige blik deur die elektroniese argiewe dui daarop dat die koevertjies met iets in om dankie te sê, baie dikwels sentraal staan, en hier en daar word selfs met die omvang van hierdie “dankbaarheidsoes” gespog.

Of ’n mens nou saamstem met die Amerikaanse gebruik van Thanksgiving of nie, die gebruik is tog ’n herinnering aan ons om bietjie te besin oor waarvoor ons rede het om God te dank.

Kom net ’n oomblik tot stilstand, en tel jou seëninge een vir een. Sê dankie, en as jy kan, toon dit konkreet. As ’n bydrae aan jou gemeente jou nie aanstaan nie, kan dit altyd ’n welkome bydrae vir Helpende Hand wees.

“Want ek het geklop…”

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Elke dag, elke Sondag, elke erkende Christelike herdenkingsdag is ‘n geleentheid om ons Here Jesus Christus te dank. Ons Afrikaners hoef nie te veramerikaniseer nie, maar behoort in navolging van Christus en die huidige FAK-veldtog Geloftedagvierings as ‘n niepolitieke Christen-dankfees te laat herleef.

Henkst ·

Herman, Dankseggingsdag is ‘n ou Germaanse Oesdankfees wat gekersten is!
In die Germaanse gebiede vorm die Oesdankfees of Dankfees ‘n besondere hoogtepunt. Die oes is van die lande afgehaal en die herfs is in aantog. Hierdie dankfeeste is gevier vanaf 21 September, in Oktober en soms selfs in November. Hierdie Dankdag is ook in Duitsland bekend as Boete en Gebedsdag en in Nederland as Biddag/Dankdag vir gewas en arbeid. In Amerika en Kanada staan die fees bekend as Thanksgiving of Dankseggingsdag en word dit daar vandag as ‘n openbare vakansiedag gevier. Die Amerikaanse fees word vandag besonder laat gevier, naamlik op die 4de Donderdag in November. Die Kanadese fees word vandag gevier op die 2de Maandag in Oktober. Hierdie dankfeeste is vandag gekersten en word die ou Godinne en Gode nie meer bedank nie, maar die Christelike God.
Onder die Kelte het hierdie Dankdag bekend gestaan as Mabon. Mabon is ´n inkorting van die Keltiese God met die naam Mabon map Modron.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.