Nuuskommentaar: Ou idees bring nie nuwe resultate

(Argieffoto: Rapitse Montsho/Flickr)

“Dit is ʼn groot verantwoordelikheid om ʼn land te regeer. Die regering moet die beste kaders hiervoor inspan.”

So het pres. Cyril Ramaphosa die afgelope naweek by die ANC se verjaardagviering gesê. Dit is regtig die moeite werd om ʼn oomblik uit jou dag te neem en die lagwekkendheid hiervan te waardeer – en hardop daaroor te lag.

Dit is dieselfde as om met ʼn donkie by die Durban July op te daag, herhaaldelik vér te verloor en dan tot die gevolgtrekking te kom dat jy net ʼn vinniger donkie volgende keer moet inskryf. Die probleem was nooit die kwaliteit van die donkie waarmee jy verloor het nie – die probleem is dat jy met donkies teen volbloed resiesperde probeer kompeteer.

Ramaphosa se toespraak is sprekend van die ANC vandag. Die party is heel goed daarmee om die probleme van die land te identifiseer: korrupsie, ondoeltreffendheid van die regering, swak ekonomie en die regering se swak geloofwaardigheid onder landsburgers. Tog het hulle bloot nie die vermoë om die kernoorsake daarvan te identifiseer nie. Al wat hulle kan doen is om oppervlakkige “oplossings” te bied wat aan die simptome aandag probeer gee, eerder as om die siekte self te teiken.

Ramaphosa se stelling is presies dieselfde as die stelling waarmee sosialiste vorige mislukkings van dié ideologie probeer verdedig: “Dit was nie regte sosialisme nie.” Sosialiste glo werklik dat sosialisme en kommunisme net in die verlede misluk het omdat dit nie reg uitgevoer is nie. Die fout lê altyd net by die implementering, eerder as die idees self.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Kopano Tlape/GCIS

Die ANC glo werklik dat ons probleme veroorsaak is deur die swak implementering van hulle goeie idees. “Kaderontplooiing self is nie die probleem nie – in die verlede het ons net nie die régte kaders ontplooi nie,” meen die ANC. Hulle verstaan egter nie dat kaderontplooiing een van die grootste redes vir ons land se huidige toestand is nie. Die oomblik wat jy partylojaliteit bo bevoegdheid stel, gaan jy noodwendig verval tot ʼn staat verlam deur onbevoegdheid en patronaatskap.

Die ANC se 109de verjaardag word vanjaar saam met die SAKP se 100ste verjaardag gevier. Ons vergeet soms die absolute absurditeit daarvan dat ʼn openlike kommunistiese party een van die ANC se grootste bondgenote is.

Kommunisme is ʼn ideologie wat ná die val van die Sowjetunie van grootskaalse geloofwaardigheid gestroop is. In die 20ste eeu is dié idees nog as populêr, modern en vooruitstrewend gesien. Ná die Koue Oorlog het die grootste en omvattendste implementering daarvan tot ʼn val gekom. Vandag probeer verskeie politici en lande kommunisme nog in verskillende gedaantes laat herleef: hetsy deur dit “demokratiese sosialisme” te noem, die rasse-Marxisme van bewegings soos Black Lives Matter, die “groen kommunisme” van rolspelers soos Gretha Thunberg of China vandag. Hierdie is alles bewegings wat nog vasklou aan ou idees – nie omdat dit noodwendig goeie idees is nie. Dit is eerder uit ʼn soeke na mag gekombineer met ʼn blinde naïwiteit teenoor die verlede.

Die bondgenootskap met die SAKP spreek ook daarvan dat die ANC ʼn uitgediende organisasie met uitgediende idees is. Hulle klou nou al vir 109 jaar aan presies dieselfde idees vas. Hulle jaag ook kommunisme na onder die vaandel van dinge soos Swart Ekonomiese Bemagtiging, Nasionale Demokratiese Rewolusie en sentrale beheer van alles.

Dit beteken ook dat ʼn toekoms onder die ANC vanselfsprekend sleg lyk. Die party sál volstaan met idees wat van die grootste humanitêre krisisse in die geskiedenis veroorsaak het. Ná 26 jaar aan bewind het die party nog net nader aan, eerder as verder van, dié idees beweeg. Selfs tydens ʼn pandemie moes hulle vasklou aan hierdie idees. Hulle móés entstowwe nasionaliseer. Hulle móés in die verspreiding daarvan swart besighede voortrek.

Ten spyte van die feit dat die ANC se kommunistiese en sentralistiese idees al herhaaldelik misluk het, stel hulle nie werklik in nuwe idees belang nie. In die sogenaamde idee-oorlog verloor hulle nie net herhaaldelik nie, maar leer hulle ook nie uit die nederlae nie. Dit beteken dat nuwe oplossings en ʼn beter toekoms nie by die ANC se idees lê nie, maar by ander idees.

Dit is soms moeilik om oor idees en politieke teorieë om te gee wanneer dit in ʼn mens se wêreld en werklikheid só sleg gaan soos wat tans die geval is. Gewone mense word weens die ANC se absolute onbevoegdheid gedwing om hulle daagliks oor basiese goed soos finansiële oorlewing, veiligheid, gesondheid en opvoeding te bekommer.

So ook is dit moeilik om die belangrikheid daarvan raak te sien om aan die sogenaamde idee-oorlog deel te neem wanneer die drukkende probleme in jou lewe stewig in die werklikheid gesetel is. Dit is egter baie belangrik om te verstaan waarom dit letterlik lewensnoodsaaklik is om nie net oor die idee-oorlog om te gee nie, maar ook om seker te maak jy wen.

Indien goeie idees nagejaag word, met die veranderende politieke konteks in gedagte, kan beter werklikhede vir ʼn beter toekoms geskep word. Selfs ten spyte van die groot las wat die ANC is, is ʼn beter werklikheid en beter toekoms moontlik.

Die ANC gaan nie sommer van plan verander nie. Daarom is dit belangrik om alternatiewe (en beter) idees na die tafel te bring. As ons op die regering gaan staatmaak, gaan ons saam met hulle in die argaïese idees en slegte uitkomste vasgevang bly.

Indien ons vir alternatiewe idees veg en dit implementeer, kan ons vir onsself ʼn beter wêreld skep. ʼn Wêreld waarin die “beste kandidaat” eerder as die “beste kader” voorkeur geniet. ʼn Wêreld waarin normaliteit voorkeur geniet.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Voordat daai donkie weer ingeskryf word, sal die jokkie die skuld kry, dan die veearts, dan die kos wat hy eet, dan die ouens wat die kos maak, dan die mense wat hom moet voer, dan die saal, en so kan ek aan gaan. En ons word verwag om alles te glo!

Pierre

Spot on. Verduidelik dit nou net aan ” my fellow South Africans”! Solank SASSA vir hulle sorg, sal die ANC in bewind BLY.

Chris

Dit gaan my verstand ten bowe. Ek kan dit nie verwerk wat tans aan die land aangaan nie. Is daar nog ‘n funksionele departement wat nie aan grootskaalse onbewoegdheid skuldig is nie. Die Dunning – Kruger effek is aan die orde van die dag. Sirrel die Sqwirrel moet ook nie met sy sielkunde “fellow Souf Efrikens” begin nie. Ons is nie meer almal onnosel nie. Een ding weet ek verseker elke dag is ‘n dag nader aan hul val.

Annatjie

Baie goeie vergelyking die donkie en die resiesperd. Baie goeie artikel!

JohanR

Wat het gebeur met al die ANC “intelectuals” of nou “intellektueles” van 1990? Soos die jare aangegaan het die in die ANC net dommer en dommer geword, of liewers die IN die ANC. Dink net die dommes in die ANC as hulle vir ‘n 1000 jaar regeer! Dink naie maal self Cyril Ramaphosa het dommer geword sedert 1990.