Nuuskommentaar: Pasop vir fopnuus en ‘onnosel’ nuus

Herman Toerien

Die Coligny-2 se appèlhoftoestemming om teen die uitspraak en vonnis in die hooggeregshof te appelleer het benewens regsimplikasies ook ’n groot invloed op die rol wat die media speel om reg en geregtigheid te laat geskied.

Al het die vak Kommunikasiekunde eers in die orde van 1972 staanplek op sommige kampusse gekry, het hierdie wetenskap al veel, veel vroeër begin ontwikkel, en die beginsels daarvan het lank reeds na die nuuskantore van die media versprei. Dit het egter nie verhinder dat fopnuus ontstaan en vastrap gekry het nie. Die Amerikaanse skrywer en politieke ontleder, John Stossel, het pas ’n artikel die lig laat sien wat weer heelwat lig werp op hoe die probleme in Suid-Afrika aangeraak behoort te word. Dis leeuwêreld.

Hoofartikelskrywers, rubriekskrywers, ontleders en politieke kommentators produseer binne die uitgebreide grense wat persvryheid bied die geleentheid om ’n betreklik deeglike perspektief op die werklikheid te bied.

’n Goed ingeligte lesers- en luisterpubliek is gewoonlik ’n groot aanwins vir die gemeenskaplike welsyn van die wêreldbevolking. Maar ons weet ook dit is nie so eenvoudig nie.

Word leserskommentare onderaan hierdie soort pennevrug gelees, is daar verskeie soorte lesersreaksies. Terwyl sommige se kommentare uitstekend is, is ander s’n deurspek met vatbaarheid vir onbeskryflike bollie. Daar is byvoorbeeld afgetrede mense wat nou oor ’n kombinasie van tyd, toegang tot uitstekende nuusbronne oor die wêreld heen, uitstekende feitegebaseerde insigte, beginselvastheid, gebalanseerdheid en dikwels goeie opleiding uitstekende waardetoevoeging aan rubrieke en artikels bied.

Ja, ook dikwels aan berigte, wat nie deel van vandag se nuuskommentaar uitmaak nie.

Enige rubriekskrywr wat sy sout werd is, waardeer hierdie waardetoevoeging, en selfs as die leser met sy bydrae die foute wat die skrywer begaan het, reghelp. Nie almal beskik oor die beste “bedside manners” nie en die kritiek kan soms kras en beledigend klink. ’n Goeie rubriekskrywer sal egter van die standpunt uitgaan dat niemand ooit te oud is om te leer nie. Sy bloed mag dalk naby kookpunt wees vir ’n leserskommentaar, maar hy of sy behoort groot waardering te hê daarvoor, want daarsonder sal hy maklik in voorop-ingesteldheid vasgevang wees en die leser of luisteraar met “gesag” met donkie-ore uitrus.

Om net een voorbeeld te noem. Een politieke ontleder is ’n gewilde panneellid op aktualiteitsprogramme. Hy het egter al minstens twee keer na die polisie as ’n nasionale verantwoordelikheid (amptelik die gruwoord, kompetensie) verwys en daarom gesinspeel regters het in uitsprake hieroor gefouteer. Maar die polisie is nié ’n nasionale kompetensie nie. Dit is ’n gedeelde nasionale en provinsiale funksie, met “doeltreffende polisiëring” as een van die belangrikste polisiefunksies wat die Grondwet aan die polisie oplê. Die ontleder het ook so sy mes in vir Solidariteit en AfriForum, sy gebrek aan objektiwiteit hang gereeld soos ’n vuil onderrok uit.

Terwyl sommige kommentators tot die dood toe sal ontken dat hulle ook uit die pennevrug van ander politieke ontleders put, erken van die wêreld se voorste kommentators dat hulle daagliks tot sowat ’n dosyn van die artikels en rubrieke van ander ontleders lees. So dra hulle ten minste kennis van faktore wat die werklikheid beïnvloed wat hulle andersins moontlik sou gemis het. Daarsonder kan selfs belangrike tendense misgekyk word. Hy leer ook nuwe tegnieke aan. Sy insigte verbreed sy vermoë om te onderskei tussen “nuus” wat deur redaksionele beïnvloeding geplooi is, die produk van propaganda en selfs formele sensitering van oorsese sensiteringsaksies deur regerings is, of waar ’n joernalis die waarheid so onopmerklik (hoewel soms blatant) manipuleer om deur sensasie of opspraakwekkendheid naam te kan maak.

Natuurlik voel dit vir die rubriekskrywer lekker as al die kommentare op ’n rubriek positief sou wees, iets wat nie sommer gebeur nie. Gister se Nuuskommentaar was egter so ’n rare voorbeeld.

Die agtergrond tot hierdie artikel is juis die pennevrug van die betreklik bekende John Stossel. Hy is veelsydig, onder andere as skrywer en politieke ontleder. Wikipedia beskryf hom as ’n “libertarian pundit”. In hierdie fassinerende artikel, onder die opskrif, “Stupid News”, oortref Stossel hom, en dis duidelik die pennevrug en omvattende insig wat deur dekade lange studie en ervaring verryk en beredeneer is.

Die omvattende aard van Stossel se ontleding blyk uit die titel van sy boek, No They Can’t! Why Government Fails – But Individuals Succeed. Die insig in hierdie boek slaan mildelik neer in sy jongste artikel, “Stupid News”.

In baie opsigte kan sy artikel, asook die boek, van toepassing gemaak word op die situasie in Suid-Afrika. Dit bied goeie insig oor hoekom die regering hier misluk (het), veral toe Jacob Zuma aan bewind was, en die vestiging van ’n omvangryke patronaatskap staatskaping moontlik gemaak het – iets wat so deeglik en omvangryk gedoen is dat dit duidelik nog lank gaan neem om uitgeroei te kry.

In hoe ’n mate Stossel se jongste artikel (onbedoeld) wel insig oor die huidige Suid-Afrikaanse werklikheid bied, blyk uit enkele punte wat hy aanraak:

  • “But I smiled when I first heard him use the phrase (fake news), not because news stories are ‘fake’ – they typically aren’t (reporters who make things up are usually caught and fired) – but because so much of what people call ‘news’ is press releases and breathless exaggerations of isolated problems … It’s stupid
  • Verskeie faktore speel ’n rol in wat daartoe lei dat die belangrikste nuusstories nie noodwendig die meeste nuusdekking kry nie.

Onlangs het ’n ontleder uitgewys dat die inspan van mediawoordvoerders in Suid-Afrika so algemene praktyk geword het dat dit afgesien van baie voordele ook ’n rits nadele inhou. Hierdie woordvoerders se funksie is immers om so ’n positiewe prentjie moontlik van die werkgewer te skets dat dit nie altyd objektief is nie. In ’n saak waar die UV (oftewel UFS) Volksblad by die persombudsman gaan verkla het, is Volksblad wel skuldig bevind. Die ombudsman het egter ook bevind dat dit ten dele die UV se skuld was deurdat hy strykdeur versuim het om sekere saakmakende inligting, wat minder positief vir die universiteit se beeld was, te belig. Volksblad moes dus ook ander bronne inspan.

Wat die politici betref, het die mediawoordvoerders dikwels ’n reusetaak om die minister of senior personeel se droogmakery in positiewe stories te omtower. Die invloed wat politieke korrektheid daarop uitoefen, dra tot die probleem by.

Ter afsluiting spreek Stossel die frustrasie aan oor hoekom mindere nuus dikwels meer nuusdekking en reaksie kry as die werklike groot stories:

“Those events were worth covering, but why do media mostly ignore more important events like the creation of cell phones and Google or how millions have lifted themselves out of poverty?

“One reason is because they happen gradually. When Facebook was being invented, few reporters noticed.

“Another is because the big stories happen in more than one place. We reporters are good at covering plane crashes and murder. We can easily interview the official in charge.

“But the biggest news, like changing attitudes about gender, happens all over the place.

“When I graduated, 60% of the world’s population lived in extreme poverty. Now, fewer than 9% do. Globally, that’s probably the most life-changing event over the past 50 years – a great victory, made possible by freer markets.

“But most reporters don’t like free markets, and politicians rarely talk about change they don’t control.

“The ‘Band-Aid’ concert meant well, but journalists hardly covered the big cause of famine in Ethiopia. It wasn’t African drought; it was Marxist governments that were happy to starve their enemies.”

Om hierby aan te sluit – om verskeie redes sal mense se nuussmaak verskil.

Sommige verkies “harde nuus” en ander meer akademiese leesstof wat die intellek aanspreek. Verskeie faktore, waaronder geslag en ouderdom, bepaal weer wat as harde nuus beskou word. Uit die bestudering van verskeie Europese koerante lyk dit of daar ’n groter aanbod van artikels deur onafhanklike kundiges is, soos ook van akademici. Die hoofredaksies sou nie maklik so ’n besluit geneem het as daar nie ’n toename in lesersaanvraag hiervoor was nie.

Persepsies word immers ook deur assosiasie gevoed. Hoe hoër die aansien van die rubriekskrywer, hoe meer lesers voel hulle verkeer in goeie geselskap en dit maak daarom sin om lojaal teenoor ’n publikasie te wees. Die bydraes van iemand soos dr. Leopold Scholtz in Maroela Media is dus goud werd.

Natuurlik is harde nuus baie belangrik, maar die fokus moet steeds wees die belangrikheid van die nuus. Soms sal konsensus oor watter harde nuus belangrik is, baie oortuigend wees, soos die appèlproses van die Coligny-2 waar die appèlhof pas die besluit van die verhoorregter omgekeer het en die mans nou hul skuldigbevinding aan onder meer moord opnuut kan betwis. Van die redes wat die saak meer nuuswaardig maak, is die aanraak van ’n groeiende opvatting dat swart regters soms rasbevooroordeeld is. Dit kan eenvoudig nie geduld word dat fopnuus (die hoofgetuie se beweerde onbetroubaarheid) rassespanning se temperatuur laat styg nie. Einste leserskommentare vanoggend dui daarop dat lesers oorweldigend meen die regter in die hooggeregshof was rasbevooroordeeld en dat hy ’n regsonreg gepleeg het.

Dit is ook nodig dat die opvatting rakende die Openbare Beskermer wat onbevoeg, bevooroordeeld en met gebrekkige moraliteit sou wees, onder meer via hofuitsprake, so gou moontlik belig en uitgeklaar moet word.

Oor ander kwessies is daar meningsverskil. Maroela Media het byvoorbeeld verskeie items geplaas oor die SA Nasionale Bloeddiens se besluit om nie meer Afrikaanse vorms vir bloedskenkers te gebruik nie, en baie reaksie gekry. ’n Soektog deur die argiewe blyk egter dat van die ander media geen of bitter min nuusdekking hieraan geskenk het.

Ten slotte. Oudmin. Faith Muthambi, en die voormalige bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng, ontken nou ’n bevinding dat hulle nie net by die redaksionele onafhanklikheid ingemeng het nie, maar dit met intimidasie en blatant gedoen het. Daar sal stellig ’n verband wees tussen die swak en onwettige bestuurspraktyke, en die feit dat die SAUK hopeloos in die skuld is.

Die publiek het nie ’n aptyt vir fopnuus nie, en net so min vir onnosel nuus.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Peet ·

Baie dankie vir die goeie stuk – duidelik goed nagevors. Dit maak mens eintlik meer de viesde in wanneer mens wonder waarom sg. joernaliste nie die moeite doen om feite deur te gee in plaas van hulle opinies, swak vermom as feite.
‘n Ander drog gewoonte om ou opinies te herhaal om die publiek te probeer oortuig van die meriete van ‘n saak.
Die gebruik van, wat mens net huursoldaat (nie noodwendig) joenaliste om gravitas aan ‘n saak te verleen. Dié is gelukkig ook baie swakbedekte “pay for play” stories.
Om tot die punt kom – sulke aksie maak dat groot nuusdienste integriteit inboet.

Antoon ·

Stem 100% saam. Dit is frustrerend hoe die gemiddelde internasionale nuus in SA slegs “cut and paste” is. Veral wat die VSA en Trump aan betref.
Net een ligte positiewe kritiek. Onthou tog Shakespeare en sy skrywe oor “brevity” :-)

Therese ·

@Antoon
Lees dan maar tot waar die konsentrasie hou, want ons ouer garde waardeer die langer artikels en nuuskommentare; beskou die res as afskeepwerk, geskik vir skermverslaafdes.

Erna van Biljon ·

Ek stem saam met die artikel, aangesien ek ook al onnosel genoeg was om FB-bollie te glo en die nuusbrokkie te deel, net om later blosend te moes erken dat ek nie navorsing gedoen het om die feite te bevestig nie. Deesdae is ‘n knippie sout, en soms sommer ‘n hele sak sout nodig voor ek glo wat ek lees. Iemand het eendag gese: glo net die helfte van wat jy sien, en niks wat jy hoor nie. Ware woorde!

J van Rensburg ·

Hier is hoe ek die nuus en rubriek skrywers se artikels lees: 1) Joernalis en aktivis is sinoenieme. 2) Wie besluit wat is nuus? Wat is daai persoon se motiveering, en wie betaal sy salaris?
Met die twee punte kan ek redelik vinnig agter kom watse nuus is vir my van waarde, en wat kan met sekerheid ignoreer.

ChrisE ·

Jy kry gewoonlik goeie nuus of slegte nuus. My oorlé ma het altoos gesê, geen nuus is goeie nuus. Jy kry ook altyd drie kante van ‘n storie, myne, joune en die waarheid. Die mens is naiëf (gullable). Hy wil net glo wat hy wil. Die emosie speel ook ‘n groot rol. Nuus met die wie wat waar hoe en wanneer beginsel aan voldoen. Die koerant opskrifte bepaal partykeer jou gemoedstoestand reeds voor jy die artikel gelees het.

Johan ·

Is die hoof getuie se beweerde leuens wat hy erken het en wat glo op band vasgevang is, werklik fopnuus?

Pieterd ·

Ek waardeer hierdie rubriekskrywer se artikels en die navorsing wat hy doen. Op sy “uitnodiging” wil ek egter kommentaar lewer op die styl en vertrou dit sal in daardie gees aanvaar word.
Dit lyk soms asof ‘n baie langer artikel binne die bestek van minder woorde “ingeforseer” word.
Die artikel sal vir my baie meer waarde hê as die logiese vloei meer aandag geniet en voorbeelde nie los staan daarvan nie. Soms word ‘n punt halfpad argumenteer en dan op ‘n ander plek weer aangeraak. Dit laat soms ‘n vraagteken oor wat die “hoofpunt” van die artikel is.

Herman Toerien ·

Dankie PieterD. Hierdie nuuskommentaar is een van die waarvoor ek ‘n uur vroeër as gewoonlik opgestaan het. Dit blyk dat dit nie genoeg was nie. Ek gaan volgende week vir hopelik my laaste (36ste) chemo, en ek hoop dat die “chemokop” spoedig sal opklaar. Maar intussen probeer ek my bes om gehalteprodukte te lewer.

Human ·

Herman soos die engelse sê, “I beg to differ,” as die narratief die publiek pas, eet hulle als vir soetkoek op, al is dit onnosel of fopnuus.

Pieter ·

Is daar nog iets soos gereg en geregtigheid lyk nie vir my so noe die regstelsel waar van gepraat word is n groot grap asb

Dries du Toit ·

Baie goeie artikel Herman. So tik jy ons oor die vingers. Maar jy slaan ou Jerry sommer bloedneus. Maar n feit is jy sal altyd liberale aktivistiese joernaliste kry en regdenkende koelkop behoudende joernaliste

Vlakvark ·

Ons as varkerasie-soogdiere waardeer pittige en treffend opbouende en wedersydse verrykende kommentare van ons mede-soogdiere, die Suid-Afrikaanse Homo sapiens sapiense. Belangrik daardie sprinkel van kwinkslag humor soos speserye in lesers se kommentare.

Uiters belangrik dat alle Suid-Afrikaanse soogdiere elke dag probeer om geregtigheid en naasteliefde te bevorder en na Moeder Natuur omsien. Apatiese en oningeligte soogdiere moet nie kla as hulle slawe is van Die Groot Leuen nie, hetsy in welke gedaante, inbegrepe die beloftes van opportunistiese politici.

Mnr Toerien, groot dank vir al u kommentaar-insette.

Groetnis van Die Suid-Afrikaanse Varkerasie Gemeenskap wat vir alle Suid-Afrikaanse soogdiere omgee.

Arno Scheepers ·

Dankie Herman, dit is n ontsettend insiggewende artikel.
Die publiek word maklik mislei deur sogenaamde fopnuus en ook deur verskeie uitsprake waar veral rasseverskille ter sprake is.
Goeie, verantwoordelike, onpartydige en korrekte beriggewing is ontsettend belangrik. Dit kan n groot rol speel in die stabalisering van ons land. Ongelukkig is daar n groot getal mense wat slegs sal glo dit wat hulle wil glo.
Dankie weereens aan elke rubriekskrywer, dwarsdeur die wye spektrum, vir hulle moeite om ons op hoogte van sake te hou.
Ons besef ook dat intimidasie ook n groot rol speel

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.