Nuuskommentaar: Politieke geweld nie deur Grondwet self gekeer

Geweld in Barcelona, Spanje. Foto: (AP Photo/Manu Fernandez)

Die geweld wat die naweek met die Katalaanse referendum oor onafhanklikheid uitgebreek het, en wesenlik daartoe gelei het dat Spanje Katalonië geherkoloniseer het, toon hoe belangrik dit is dat ’n grondwet vanuit die staanspoor werklikhede, soos heterogeniteit, behoorlik ondervang. Ook die geweld tydens die ANC se Oos-Kaapse kongres kan na gebreke in die Grondwet teruggevoer word, hoewel die situasies in Spanje en Suid-Afrika hemelsbreed verskil.

Politieke geweld is feitlik wêreldwyd nie ongewoon nie. Die naweek is politieke geweld in onder meer Suid-Afrika en Spanje ervaar. Albei lande het grondwette, en boonop word Suid-Afrika se Grondwet as een van die bestes, en soms nog selfs as die beste ter wêreld, beskryf.

Die oorsake van geweld tussen wat in Spanje en in Oos-Londen (en op ander vlakke elders in Suid-Afrika) gebeur, is uiteenlopend.

Spanje

Spanje se probleem is breedweg dat ’n welvarende minderheid, die Katalane, ’n referendum wou hou om oor onafhanklikheid te beslis. Die Spaanse grondwet vereis egter dat die hele Spanje, en nie net die Katalane nie, hieroor moet beslis, en dié standpunt word sterk deur die konstitusionele hof en die Spaanse regering gesteun.

Vir die Katalane voel dit soos ’n blywende veroordeling tot ’n posisie van kolonie wees. Algemeen is aanvaar dat die meerderheid – tot sestig persent, van die Katalane – nié onafhanklikheid steun nie, maar die imperialistiese en gewelddadige wyse waarop Spanje die situasie hanteer, het vermoedelik die situasie aansienlik verander. Die referendum, wat Spanje deur polisiegeweld probeer keer het, het wel plaasgevind. Honderde mense is beseer. ’n Kloof is tussen die Katalane en die Spanjaarde ingeslaan, lui koerantopskrifte.

En die Europese Kommissie (die kabinet van die Europese Unie) swyg in alle tale. Dis glo ’n “interne aangeleentheid”.

Tog is daar die moontlikheid dat, na gelang van die uitslag, Katalonië eensydige onafhanklikheid sal verklaar.

Die Spaanse eerste minister verklaar vroom dat hy nie die deur vir dialoog toeklap nie, “maar dan moet dit binne die perke van die wet geskied”. En die wette en grondwet sluit Katalaanse onafhanklikheid uit. Die gemors is juis dat die Spaanse wetgewing, wat indruis teen die internasionale reg, nié ’n kompromis toelaat nie.

Aanvanklik is Spanje aangeprys omdat dit, ter wille daarvan om lid van die Europese Unie te kon word, taamlik wydlopende selfregering aan die Baske en die Katalane toegestaan het. Dit het gehelp om die Baskiese terreuroorlog wat oor dekades gestrek het, tot ’n einde te bring. Onder die opskrif, “Koel koppe nou in Spanje nodig”, skryf Leopold Scholtz egter dat die Spaanse konstitusionele hof dié ongelyke magte tussen provinsies in 2010 ongrondwetlik verklaar het.

In ’n stadium het politieke wetenskaplikes groot gewag daarvan gemaak dat as daar ’n tipe oorkoepelende regering tot stand kom, soos die Europese Unie, minderhede in bepaalde lande ’n strewe na ’n losser band met hul “moederland” sou begin ervaar, en eerder regstreeks by die oorkoepelende regering sou wou inskakel. Dié skynbaar nugtere siening het skynbaar in politieke inkorrektheid verval.

Tog was dit baie duidelik met Skotland te sien. Selfs voor die Skotse referendum was die Europese en Britse parlement as gelykes op die webwerf van die Skotse parlement aangebied. Die pro-onafhanklikheidsgroep het hulle sterk ten gunste van voortgesette lidmaatskap van die Europese Unie uitgespreek en dit het ook so geblyk toe Brittanje ʼn referendum oor die voortgesette lidmaatskap met die EU gehou het.

Min of meer dieselfde tendens was in België sigbaar waar Vlaamse politici toenemend internasionale rolle begin aanneem het asof daar geen Belgiese regering was nie. Dié posisie het ietwat verander nadat die Vlaminge die Belgiese regering “oorgeneem” het.

Ook nou beroep die Katalaanse politici hulle sterk op die Europese Unie om sy verantwoordelikheid na te kom.

Maar die Europese Unie se sentimente teenoor minderheidsgroepe het skynbaar aansienlik afgekoel. Dit is vir Skotland duidelik gemaak dat voortgesette lidmaatskap ná onafhanklikheid van Brittanje feitlik onmoontlik sou wees. In die geval van Spanje word (nog) geswyg.

Suid-Afrika

Ontevrede afgevaardigdes en sommige lede van die provinsiale uitvoerende komitee het Saterdagaand uit die konferensie gestap nadat ʼn bakleiery tussen twee faksies in die Oos-Londense Konvensiesentrum uitgebreek het. Foto: ANA

In Suid-Afrika is die geweld in die Oos-Kaap ’n manifestasie van die tweespalt in die ANC, wat plek-plek op ’n gewelddadige magstryd uitloop. Dit, op sy beurt, is gebore uit die eenparty-belewenis van die ANC wat nog deur baie ervaar word. Vir baie is daar geen politieke (en materialistiese) bestaan buite die ANC nie. As iemand dit nie binne die ANC maak nie, so word gevoel, is daar geen alternatief nie, al beteken dit hongersnood.

Met die krimpende ANC word die soustrein egter korter. Sommiges sien hoe die wind waai en sluit hulle by opposisiepartye aan, vir ander bly die opsies daarvoor uitgesluit.

En wie uitgesluit word, word behoorlik uitgesluit. Al manier is om howe toe te gaan, en dit verhoog die spanning. ’n Gekonkel met die nominasieproses vir kongresse het tot ’n fyn kuns ontwikkel, en sommige politici het meesters daarvan geword. Selfs ouditeringsprosesse om te bepaal wie wettige afgevaardigdes is, wat langer as ’n dag kan duur, skakel nie die werklikheid van ’n gekonkel na alle kante uit nie.

Dis uiteraard ’n swak plaasvervanger vir veelparty-demokrasie, juis noudat dit lyk of Suid-Afrika uiteindelik op pad is om ’n demokratiese werklikheid te verkry wat in pas is met dit waarvoor die kiesstelsel ontwerp is.

Grondwet

Bogenoemde uiteensettings is heeltemal te oorsigtelik om reg te laat geskied aan die kompleksiteit van albei situasies. Wat wel baie duidelik blyk, is dat ’n grondwet in ’n heterogene land voldoende voorsiening moet maak vir die heterogeniteit.

Ideaal gesproke sou dit beteken dat politieke sosioloë ter aanvang ’n werklikheidsprofiel saamstel, dit deur politieke wetenskaplikes, bygestaan deur politieke geograwe en ekonome, opgevolg word en dan ’n staatkundige model voorstel. Staatsregslui giet dit daarna in ’n grondwet. Dié grondwet moet in pas wees met die internasionale reg (wat minderheidsregte insluit).

As die argitektuur weens ideologiese oorwegings van die werklikheid afwyk, word uiteindelik op sand gebou.

Dan word die belaglike situasie beleef waar die Spaanse premier hom op die reg kan beroep, gerugsteun deur die konstitusionele hof, dat Spanje kolonialisme kan pleeg, en die veronderstelde waghond oor selfbeskikking vir minderhede, die Europese Kommissie, soos die grondwet van die Europese Unie vereis, sit en tande tel wanneer dit gewelddadig onderdruk word.

Dit is wel ’n erg oorvereenvoudigde uiteensetting, en daar is byvoorbeeld nie onderskei tussen die reg op selfbeskikking en die reg op onafhanklikheid nie.

Laasgenoemde is baie kompleks en streng voorvereistes geld. Dit word ook deur die Suid-Afrikaanse Grondwet uitgesluit, waar die Grondwet wel in artikel 235 vir selfregering (geografies en korporatief) voorsiening maak.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Rupert Ashford ·

Ek is nie ‘n grondwetkenner nie so verskoon die vraag: Beteken Herman se laaste sinne dan dat daar nie ‘n onafhanklike nasionale volkstaat vir enige groep in SA toegelaat sal word nie, maar sleg beperkte selfregering (outonomie) terwyl mense nogsteeds burgers van die groter RSA sal wees – basies soos die Skotte, Kalane en Baske tans het?

Eish ·

Ek verstaan dit ook soos jy.
Dus is diegene wat hul daarvoor beywer, se pogings n futiele oefening in die onverkrygbare wat slegs gemoedere tot kookpunt bring.

Loeis ·

Eish… geografiese selfbeskikking is steeds beter as niks.

En dit is iets om op te bou – tot volle onafhanklikheid. Of jy, die ANC, die regering of die hele wereld daarvan hou of nie.

Herman Toerien ·

Hallo Rupert
Die onafhanklikheid van ‘n land is nie altyd in die hande van die “moederland” en sy regering en grondwet nie. As daar erge menseregtevergrype teen ‘n minderheid is, bv volksmoord, tree heel ander reëls in werking, en neem die internasionale reg eintlik “oor.” ‘n Land word eers as onafhanklik erken na meer as ‘n sekere hoeveelheid lande daardie nuwe land se onafhanklikheid erken. So erken niemand in effek Samalieland nie (wat nie met Somalië verwar moet word nie). Die nuwe land kan ook nie teen sy minderhede diskrimineer nie – Kosovo oordoen dalk sefs die regte wat aan Turkse en ander minderhede toegestaan word).

Sebastiaan ·

Bygesê, bitter min grondwette maak voorsiening vir ‘n eenvoudige afskei van provinsies. Na my wete is Ethiopië is een van die min grondwette wat dit blykbaar toelaat, maar of dit in praktyk gebeur is ‘n ander vraag. Ons moet ons egter nie te veel vasstaar in grondwette nie. Meeste state het sonder grondwetbepalings onafhanklik geword omdat hulle politieke druk uitgeoefen het. Daar kan altyd weer wysingings tot ‘n grondwet gemaak word. ‘n Volk wat vry wil wees kan jy nie keer nie. Om egter te dink jy stuur net ‘n afvaardiging van een of ander Afrikanerorganisasie VN toe en kry die afdwingbare reg tot jou eie staat is naief.

Frans C ·

Die gedagte aan selfbeskikking is maar soos ‘n nagedagte deur die grondwetopstellers in die grondwet ingevoeg, amper soos ‘n toegif aan Np onderhandellaars want dit verskyn onder ‘Other matters’ en lees:
Self-determination
235.
The right of the South African people as a whole to self-determination, as manifested in
this Constitution, does not preclude, within the framework of this right, recognition of the
notion of the right of self-determination of any community sharing a common cultural
and language heritage, within a territorial entity in the Republic or in any other way,
determined by national legislation.

Jy kan dus nie afstig en ‘n onafhanklike vrye republiek vorm nie.Mense kan my maar met klippe gooi en slegsê maar die NP onderhandellaars het selfbeskikking vir ‘n pot lensiesop
‘n ANC-brousel verruil en die Afrikaner uitverkoop aan ‘n sosiaal/kommunisties bestel,waar minderhede lasposte is, amper soos vlooie op ‘n hond se rug-met minagting vir taal,kultuur en geskiedenis.

Johan ·

Ek lees nou hierbo van “heterogeniteit” as grondslag vir selfbeskikking.
Hoe klink dit dan vir my baie soos kulturele, taal en (sonde bo sonde) die etniese groeperinge vir wie daar gepoog is om ruimte te bied vir die diversiteit in Suid-Afrika.
Snaaks hoe met nuwe terme gepoog.word om nuwe inhoud te gee aan ou waarhede wat die liberale pseudo denkers afgeskryf het

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.