Nuuskommentaar: Problematiek om versnipperde lande

(Argieffoto: Timo Wielink/Unsplash)

Die gewapende konfrontasie tussen Armenië en Azerbeidjan oor die enklawe Nagorno-Karabach hou meer lesse vir Suid-Afrika en die wêreld in as wat baie mense besef. Enklawes en eksklawes kom veel meer verspreid oor die wêreld voor as wat algemeen besef word. Boonop is die statutêre status van die gebiede nie almal dieselfde nie, en nie almal se status word noodwendig internasionaal erken nie.

Enklawes en eksklawes se bestaan hou dikwels verband met ’n ander begrip – irredentisme. Irredentisme is wanneer ’n beduidende groep mense wat dieselfde taal praat en kultuur deel in ’n ander land woon as die land wat hoofsaaklik deur hul volksgenote bewoon word. Een van die bekendste voorbeelde is Suid-Tirool in die noorde van Italië, maar word deur Duitssprekendes bewoon. Die gebied het ook ’n tipe selfregering.

Die meriete vir die bestaan van ’n eksklawe is nie altyd so maklik bepaalbaar nie omdat lande dikwels erg lukraak met die waarheid omgaan om hul reg op die besit van sulke gebiede te probeer versterk. ’n Goeie voorbeeld is die besitreg van die Falkland-eilande aan die kus van Argentinië, waarop Brittanje en Argentinië albei aanspraak maak. Volgens die Britte is die bevolking Britte en wil hulle deel van Brittanje bly. Waaroor die Britte swyg is dat die eilande deur hoofsaaklik Spaanssprekendes bewoon is, en deur die Britte van die eilande afgesit is nadat Brittanje die gebied van die Spanjaarde afgeneem het. Argentinië se aanspraak word deur baie lande, hoofsaaklik lande in die Amerikas, erken. So onlangs soos Oktober vanjaar het agt Sentraal-Amerikaanse lande hul steun aan Argentinië se aanspraak op die Malvinas toegesê, soos die eilande by Argentinië en sy vennote bekend staan, asook op ander eilande in die omgewing soos die Suid-Sandwich-eilande.

In Europa is daar verskeie voorbeelde waar stede naby die grense is, maar onder die buurland se soewereiniteit val. Die dorp Baarle word deur Nederland en België gedeel, maar hoewel vyf kilometer in Nederland in, regeer die twee lande elk oor ’n deel, onderskeidelik bekend as Baarle-Nassau en Baarle-Hertog.

Spanje beskik oor twee stede in Marokko, naamlik Ceuta en Melilla. In ’n stadium het die status van die twee stede die Brexit-planne amper gekelder omdat Spanje op sy beurt op Gibraltar aanspraak maak.

Nog ʼn interessante variasie is dié van Indiaanse reservate wat ’n tipe soewereine status geniet.

Nou hoe raak dit Suid-Afrika? Die eerste is Walvisbaai wat deur die Britte (in wese die Kaapkolonie) geannekseer en bestuur is voor Duitsland Duitswes geannekseer het. Tegnies het Namibië dus geen aanspraak op Walvisbaai gehad nie, in elk geval nie op die gronde waarop Namibië sy aanspraak gebaseer het nie, naamlik dat Walvisbaai aan Namibië “teruggegee” moes word. Enkele jare gelede is byvoorbeeld bekend gemaak dat ’n potensieel groot olieveld gevind is in wat Walvisbaai se gebiedswater sou wees.

Die wye verskeidenheid maniere waarop enklawes en eksklawes hul status vestig, beïnvloed die volkereg, en bykans enige variasie word in ’n mindere of meerdere mate erken.

Die grondbeginsels bly dat wanneer staatkundige modelle onderhandel word, moet van die begin af raakgevat word. Eerstens moet politieke sosioloë met aanbevelings kom wat op die realiteit gefokus is. Daarna moet politieke wetenskaplikes die beste praktiese model voorstel, en derdens die staatsregslui die mees paslike grondwet voorstel. Anders is ’n lugkasteel die bykans onafwendbare gevolg.

Die belangrikste is dat dit opsies bied om verspreide gemeenskappe wat na gemeenskapselfbestuur streef, opsies gee om ook binne gemeenskapsverband staatkundig ingebind kan word. Dit bly ’n ingewikkelde proses, en kan nog komplekser word as dit met sesessie gemeng word. Inhalige politiekery kan die proses nie net komplekser maak nie, maar maklik tot gewapende politiek lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hendrik ·

Ek dink die grootste fout wat Suid Afrikaners maak is om aan te neem dat die land se grondwet is in beton gegiet. Dit is daar om te verander soos die land/ekonomie ens. verander. Die druk is al hoe meer daar om te verander na ‘n federale stelsel, soos een van die voorstelle was in CODESA, Die huide situasie met die vernietigende ANC aan die stuur is nie volhoubaar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.