Nuuskommentaar: SA op kantelpunt

(Foto: Wikimedia Commons)

Of Suid-Afrika ’n volwaardige Mafiastaat gaan word, ’n piesangrepubliek of voorbeeldige ontwikkeling- en regstaat, gaan hierdie week grootliks beslis word. ’n Belangrike stap is die Zondo-kommissie wat die hof gaan nader om toestemming te kry om oudpresident Jacob Zuma te mag dagvaar om voor die kommissie te gaan getuig. Namate die ondersoeke en vervolgings begin vorder, word die omvang van die endemiese korrupsie in die land al hoe duideliker, en hoe betrokke verskeie regeringslui daarby was, en heel duidelik nog is.

Waarnemers is dit min of meer eens dat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en ander wetstoepassingsagentskappe nou al hoe ernstiger word om dinge reg te ruk, veral namate van die vrot appels ontslae geraak word wat skynbaar doelbewus geplant (ontplooi) was om te keer om van die opperhoof van die Mammon-dienaars te vervolg.

Volgens die waarnemers vang die NGV nou eers die klein vissies met die idee om skulderkenningsooreenkomste met die NVG aan te gaan om tronkstraf vry te spring in ruil vir getuienis wat die werklike grootkoppe se turf kan laat sit. Vir die klein vissies is dit natuurlik ook ’n groot risiko, want dit is reeds duidelik dat die groot visse nie vir sluipmoorde wegdeins nie. Hierdie groot visse het ook heel duidelik enorme geldpotte om vir hulle die beste regsverteenwoordiging te bekostig.

’n Euwel waarmee die wetgewers gerus kan klaarspeel, is om ’n verbod te plaas op mense om te tender, en dan toe te laat dat die suksesvolle tenderaar dit dan uitkontrakteer. Die misbruik hiervan het gou na 1994 aan die lig gekom toe dit geblyk het iemand het die kontrak gekry om melk aan skole te lewer. Die suksesvolle tenderaar het egter nie eens ’n melkbees besit nie, en ook nie die voertuie en toerusting om die melk mee te lewer nie. Hy het toe die vorige kontrakteur gekontrakteer. Die suksesvolle tenderaar hoef nie ’n steek werk te gedoen het nie, terwyl die vorige kontrakteur presies gedoen het wat hy voorheen gedoen het. Die verskil was dat die staat veel meer as voorheen moes opdok. Dit het ’n taamlik algemene “bemagtigingstegniek” geword, soos ’n suksesvolle tenderaar vir Oliewenhuis in Bloemfontein, en nou kunsmuseum, se tuindienste. Hy het toe die vorige kontrakteur genader om die werk te doen.

Nou is sewe mense, onder wie ’n oud-LUR gearresteer omdat hulle in wese dieselfde gedoen het met die Vrystaat se asbesdak-projek.  ’n Astronomiese bedrag het in die hande van die tenderaars beland, terwyl die mense wat gesubkontrakteur is, veel minder in hul sakke kon steek, en blykbaar net ’n druppel van die veronderstelde werk gedoen is.

Intussen het die Zondo-kommissie begin kyk na ’n “behuisingsprojek” waar ’n voormalige LUR van die Vrystaat en later minister (met sterk Gupta-bande), Mosebenzi Zwane, ’n enorme bedrag goedgekeur het vir ’n reuse-behuisingsprojek. Die geld is uitbetaal sonder dat twee bakstene op mekaar gelê is, hoewel dit moontlik is dat van die kontrakteurs al bietjie moeite gedoen het. Onder die “begunstigdes” tel glo ’n vorige minister van polisie se vrou, en die vorige bedryfshoof van die SAUK, Hlaudi Motsoeneng. Die saak het op die lappe gekom toe senior amptenare ’n dossier voorberei en by die hooggeregshof ingedien het. (Lees hier.)

Heel pikant het Zwane voor die Zondo-kommissie die skuld op die amptenare gepak.

Dit wil voorkom asof daar met elke onthulling van korrupsie oë is wat nog wyer gesper word oor die omvang daarvan. Voorts lyk dit of besonder baie mense wat andersins skaars ’n ooglid sou knip, onthuts is oor nuus oor ryk tenderpreneurs wat ruim geld geoes het wat vir die armes bedoel was, en oor diegene wat die armes beroof en rykes nog ryker maak, en dat dit die ANC in aanstaande jaar se munisipale verkiesings kan knou. Sekere waarnemers meen die ANC loop die gevaar om nie meer as 50% van die stemme te trek nie.

Ramaphosa mag in baie opsigte erg teleurstel as staatshoof, maar die land se penarie sal nog groter wees as sy vyande wat tot in sy eie kabinet “dien” en oranje oorpakke vir Kersfees verwag, permanent van hom ontslae raak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Pieter ·

Ons het lankal n mafia en piesang staat mense moet net begin wakker skrik

Kokerboom ·

As die trein in die Vrystaat so totaa roekeloos ontspoor het, dan wil ek graag weet wat die korrupsie scenario in die 7 ander provinsies is wat deur die ANC beheer word? Skrikwekkende gedagte! Baie werk vir jou Jacques Louis Myburgh

Werner ·

SA het al die bodem getref jare terug al gekanteld.Ons is al verby piesangs republiek status hierdie artikel is n paar jaar te laat

annie ·

En die prez kondig so op Sondag nogal ‘n nuwe droomprojek aan… vir nog miljarde en 41,000 werksgeleenhede. En raai wie staan hom by? Antie Pat van kuikendraad-faam. Wie is die projekbestuurder en wie gaan dit finansier? Not to worry. Kul-jou-hier-kul-jou-daar en sie-daar: We is de darlings of de world.

My siening ·

Praat nie met iemand oorsee nie want as ek antwoord lag hulle vir my. Dit kom al saam met zelda se baas se tyd. Is daar n 5de wereld land, dis ons!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.