Nuuskommentaar: Selfmoord-moorde van vlieëniers nie heeltemal onbekend

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto: Mirror.co.uk

Wrakstukke van die Germanwings-vliegtuig wat op 24 Maart 2015 in die Franse Alpe neergestort het Foto: Mirror.co.uk

Terwyl ’n verstomde wêreld moes aanhoor dat die medevlieënier van ’n Airbus van Germanwings sy eie dood en die dood van nog 149 mense veroorsaak het deur die vliegtuig doelbewus te laat val, blyk dit dat dit al minstens vyf keer tevore ook gebeur het.

Die vyf keer sluit nie die gedoemde vlug  MH370 van Air Malaysia in wat vermoedelik iewers in die suidelike Atlantiese Oseaan verdwyn het nie. Daar lyk dit ook of een van die loodse 238 mense saam met hom  na hul graf geneem het.

Die eerste bekende voorval was op 9 Februarie 1982 toe ’n DC-8 van die aanloopbaan in Japan in die see beland het. Van die 174 mense aan boord het  24 mense, waaronder die loods, omgekom. Groter lewensverlies is voorkom deurdat ander bemanningslede die loods oorrompel het en die vliegtuig byna weer onder beheer gekry het.

In 1994 is 44 mense dood toe die loods van ’n vliegtuig van Air Maroe dit onderweg na Casblanca laat neerstort het. Die selfmoord word deur die vlieëniersvakbond betwis.

In 1997 is 104 mense dood toe ’n vliegtuig op Sumatra laat val is. Amerikaanse lugvaartondersoekers het bevind die vlieënier het selfmoord gepleeg. In ’n burgerlike proses is die skuld ook op die hoogteroer van die vliegtuig geplaas.

In 1999 het 217 mense omgekom toe die medevlieënier van ’n Air Egypt-vlug in die afwesigheid van die vlieënier oor die beheerstelsels gemompel het: “God is groot” en die vliegtuig na benede gestuur het. Die vlieënier het teruggekeer en op sy eie stuurstok probeer om die val te keer.

In 2013 het ’n vlug van Mozambique Airlines  onderweg na Angola in Namibië neergestort. Altesaam 33 mense is dood. Op die stemopnemer kan gehoor word hoe die uitgesluite medevlieënier op die stuurkajuit se deur moker tot die vliegtuig die grond tref.

In heelwat van hierdie gevalle het een van die vlieëniers die stuurkajuit verlaat toe moeder natuur geroep het, waarna die ander een die deur gesluit het.  Die ondeurdringbaarheid van die deure, met komplekse veiligheidsmeganismes, is ironies juis vir veiligheid so ontwerp – om te probeer voorkom dat die vliegtuie gekaap word. Hoewel die deur gewoonlik deur iemand wat die veiligheidskodes ken van buite oopgemaak kan word, sal tydsvertragingsmeganismes, as die persoon binne die ander uitgesluit wil hou, dit eers na ʼn ruk laat oopgaan – genoeg tyd vir die persoon in die stuurkajuit om die vliegtuig onherroeplik in die grond vas te stuur.

Na die jongste voorval het verskeie lugvaartmaatskappye ’n reël ingevoer dat sou een van die vlieëniers die toilet moet besoek, daar altyd ’n derde personeellid sy plek in die stuurkajuit moet inneem.

Die jongste voorval sal waarskynlik daartoe lei tot intensiewe navorsing oor waarom dit soms gebeur dat ’n skynbaar baie stabiele persoon nie net sy eie lewe neem nie, maar ’n hele vliegtuig vol mense saamneem. Trouens, in die streng keuring van vlieëniers word juis hiervoor opgelet, maar daarna word vlieëniers net streng vir alkohol- en dwelmmisbruik gemonitor.

Op die vlieëniers se aanlyn-besprekingsforum het ’n lid uitgewys dat die groot ophef wat oor die geestesgesondheid van vlieëniers gemaak word, waarskynlik daartoe kan lei dat ‘n vlieënier wat sulke probleme ervaar, dit weens die stigma wegsteek en die probleem net opbou. Hy pleit dat daar groter gemak daarmee moet wees, sodat vlieëniers wat probleme ervaar, makliker na vore sal tree en behandeling ontvang.

Sedert die verdwyning van Vlug MH 370 is daar groter druk dat die vergrootglas nog sterker op vlieëniers se geestestoestand moet wees.

Die probleem is nie tot die lugvaart beperk nie. Hoewel nie noodwendig ’n soort van selfmoord-poging nie, ervaar die meeste van ons ongemaklik gereeld hoe ’n padvark met sy hele gesin ‘n ander voertuig teen hoë spoed op ’n blinde hoogte verbysteek.

Dit is moeiliker om vas te stel of ’n busbestuurder of motoris wat sy voertuig met passasiers en al verongeluk het, dit doelbewus gedoen het en of dit ’n selfmoord-moord was. By vliegtuie verklap die “swart bokse” byna alles.

Uiteindelik lê daar ’n groot verantwoordelikheid by elkeen van ons, om waaksaam te wees en op te let as vriende, familielede, kollegas of ander kennisse om ons probleme ervaar wat aangespreek moet word. Selfs te midde van ’n groot groep mense kan die swart wolk van eensaamheid oor iemand kom vassteek. En wanneer iemand laat blyk dat hy hulp nodig het, dat ons reg daarop sal reageer, en hom nie bloot as “koekoes” afskryf en selfs spot nie.

Want op ’n dag soek daardie donker wolk jou ook op.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

16 Kommentare

anet ·

Herman, dit is baie hartseer oor wat gebeur het. Ek stem saam met jou oor die feit dat daar
mense is met donkerwolke en worstel met persoonlike probleme, maar ons mensdom is so besig met ons eie daaglikse oorlewewing dat ons nie sien as iemand eensaam of depresief is nie.
Ek stem ook saam dat ons meer empatie en simpatie teenoor mekaar, as vriende,familie en kollegas moet toon, en ook sensitief optree teenoor ander mense se stryd en pyn

Delia ·

Dit irriteer my grensloos as daar van ‘n loods gepraat word. Loods is ‘n ‘hanger’ en ‘pilot’ is ‘n vlieenier.

Herman Toerien ·

Bosman, Hiemstra en Van der Merwe se Tweetalige woordeboek gee inderdaad loods aan as die Afrikaans vir “pilot”. Ons ken dit ook in die volksmond waar iemand met die van Loots die bynaam Pilot kry.

Dave ·

Dit klink steeds onvanpas Herman, neig om selfs half anglisisties te klink. Ek het self vele vliegure agter die rug met my eie vliegtuig en loods is ‘n woord wat jy nooit in ons kringe sou hoor. Afrikaans is so ‘n pragtig beskrywende taal wat ‘vlieënier’ tòg die regte woord maak.

Herman Toerien ·

Ek het gaan oplees (ook ‘n stuk wat Maroela in 2013 oor die woord se herkoms geplaas het), en kon geen aanduiding van ‘n Anglisitiese herkoms kry nie. Dit word wel in Nederlands ook aangetref. Loods het die betekenis van “stuur”, soos om ‘n wet deur die parlement te loods, of die haweloods wat skepe die hawe in loods. As ‘n mens op Google se vertaalgerief die Afrikaans vir “pilot” vra, gee dit die woord “loods.” Miskien het dit te make oor die plek war ‘n mens grootgeword het. Ek het in Stellenbosch grootgeword toe die dorp nog baie Afrikaans-puristies was. Vir my is dit dus nog moeilik om hier in die binneland gewoond te raak aan mense wat operasies “kry” of “ontvang” in plaas van ondergaan.

Dave ·

Baie dankie vir jou interessante opvolg-kommentaar. Ek is geen taalkundige maar bloot ‘n vol fiemies taalliefhebber. Het jou verduideliking oor die herkoms van die woord baie interessant gevind. En wat jy sê oor Stellenbosch het my opnuut laat besef dat woordgebruik uiters omgewingsgebonde is.

Ek dink dat geeneen van ons nougeset taalreëls navolg. Hierbo het ek ‘n sin met ‘en’ begin wat (dink ek) nie gramaties korrek is èn (waarskynlik omdat ek slegs Afrikaans praat in my huis en in ‘n uiters Engelse konteks woon) het ek basies die dubbel negatief afgeskaf. Dìt sal jy ook raaksien in my skrywe.

Ek dink of ten minste wonder ek of die woordeboekopstellers hul menings nie dalk laat beinvloed deur die omgangstaal.

Dave ·

Herman. ek het jou gekomplimenteer met jou terugvoering. Maroela se stoepid sisteem het dit ‘gemodereer’ totdat dìt besluit het ek beledig jou of ek gebruik klakkkelose woorde of iets in dier voege. Ek het dit, omdat ek die onnooslike sisteem ken, steeds op geheue en pos dit weer direk hierna. Indien jy diet nie kry nie, indien dit weer om een of ander onnooslike rede gesensor word, ek het net komlimente vir jou antwoord.

Dave ·

Ek ondersteun jou grensloos met wat jy sê, Delia. ‘n ‘loods’ is ‘n vliegtuigskuur en ‘n ‘pilot’ is ‘n vlieënier. En ‘loots’ is soos wanneer ek ‘n papiervliegtuig sou loots om deur die lug te vlieg deur dit met ‘n handbeweging te loots.

Leendert van Oostrum ·

Mens moet versigtig wees met woordeboeke:

“Pilot” word inderdaad in Afrikaans vertaal met “loods” – beide in die seevaart, en in die lugvaart. Mens praat dus van ‘n skeepsloods of ‘n haweloods as “die loods”. Die woord word ook as werkwoord gebruik – “hy loods die skip deur die kanaal”.

Dit is anders in Nederlands. Van Dale (handwoordeboek) gee by “loods” as die eerste betekenis volgende aan: “1. iem. bekend met de ondiepten en gevaarlijke plaatsen in een vaarwater, die de shepen er veilig doorheen brengt, inz. die daartoe van overheidswege is aangesteld; – 2. loodsmannetje.” Die tweede betekenis is beperk tot ‘n gebou, en in samevoeging, ‘n “loodsballon” en ‘n “loodsboot”. “Piloot”, op sy beurt, vermeld Van Dale as “vliegtuigbestuurder”. “Vliegtuigbestuurder”, weer, het slegs die sinoniem “piloot”.

In Nederlands verwys “loods” dus SLEGS na die seevartkundige konteks.

Terblache se tegniese woordeboek gee “vlieënier” aan as die eerste betekenis van “pilot”, en so ook die weermagwoordeboek.

Die WAT, wat sekerlik die mees gesaghebbende bron is, erken inderdaad “loods” as sinoniem vir vlieënier.

Dit is dus duidelik ‘n ingeburgerde gebruik om “loods” te gebruik as sinoniem vir “vlieënier”.

Ten spyte van wat die weermagwoordeboek sê, was dit wel in die SA Lugmag voor ’94 vaste gebruik om SLEGS van “vlieënier” te praat, en menige vlieënier sou erg kapsie maak as iemand hom ‘n “loods” noem.

’94 was natuurlik lank gelede, maar ek self praat nog steeds slegs van “vlieënier” in lugvaartkundige konteks en van “loods” in seevaartkundige konteks.

Dave ·

Baie dankie vir jou interessante opvolg-kommentaar. Ek is geen taalkundige maar bloot ‘n vol fiemies taalliefhebber. Het jou verduideliking oor die herkoms van die woord baie interessant gevind. En wat jy sê oor Stellenbosch het my opnuut laat besef dat woordgebruik uiters omgewingsgebonde is.

Ek dink dat geeneen van ons nougeset taalreëls navolg. Hierbo het ek ‘n sin met ‘en’ begin wat (dink ek) nie gramaties korrek is èn (waarskynlik omdat ek slegs Afrikaans praat in my huis en in ‘n uiters Engelse konteks woon) het ek basies die dubbel negatief afgeskaf. Dìt sal jy ook raaksien in my skrywe.

Ek dink of ten minste wonder ek of die woordeboekopstellers hul menings nie dalk laat beinvloed deur die omgangstaal.

Dave ·

Baie dankie vir jou interessante opvolg-kommentaar. Ek is geen taalkundige maar bloot ‘n vol fiemies taalliefhebber. Het jou verduideliking oor die herkoms van die woord baie interessant gevind. En wat jy sê oor Stellenbosch het my opnuut laat besef dat woordgebruik uiters omgewingsgebonde is.

Ek dink dat geeneen van ons nougeset taalreëls navolg. Hierbo het ek ‘n sin met ‘en’ begin wat (dink ek) nie gramaties korrek is èn (waarskynlik omdat ek slegs Afrikaans praat in my huis en in ‘n uiters Engelse konteks woon) het ek basies die dubbel negatief afgeskaf. Dìt sal jy ook raaksien in my skrywe.

Ek dink of ten minste wonder ek of die woordeboekopstellers hul menings nie dalk laat beinvloed deur die omgangstaal.

Henry ·

Siende dat jy jouself as ‘n ‘vol fiemies taalhebber’ beskryf, wonder ek of jou ‘loots’ nie eintlik loods behoort te wees nie.

Eliza-beth ·

Ek wens net ALMAL, oral wil veral van die laaste sin in die berig kennis neem. Iemand kies nie om “mal” te wees nie, daar is baie onderliggene faktore wat bydra tot geestesversteurdheid. En voor almal op my afstorm met “ja maar is dit nodig om ander saam met jou te verongeluk” ens, onthou maar weer so persoon het nie beheer oor wat hy doen/dink nie. Ek weet ek het al male sonder tal genoem dat ons op die maan geland het, ruimtevlugte is sommer alledaags en ons het die diepste areas van die see “ontdek”, maar van die menslike brein en sy werkinge weet ons nog bittermin. Ek hoop maaar hulle vind ‘n tipe “toets” wat elke vliënier/bemanningslid van elke vlug voor die tyd moet onderneem wat enige persoonlikheidsprobleme op daardie tydstip sal uitwys en die persoon dan nie mag vlieg daardie dag nie.

Dave ·

Baie dankie vir jou interessante opvolg-kommentaar. Ek is geen taalkundige maar bloot ‘n vol fiemies taalliefhebber. Het jou verduideliking oor die herkoms van die woord baie interessant gevind. En wat jy sê oor Stellenbosch het my opnuut laat besef dat woordgebruik uiters omgewingsgebonde is.

Ek dink dat geeneen van ons nougeset taalreëls navolg. Hierbo het ek ‘n sin met ‘en’ begin wat (dink ek) nie gramaties korrek is èn (waarskynlik omdat ek slegs Afrikaans praat in my huis en in ‘n uiters Engelse konteks woon) het ek basies die dubbel negatief afgeskaf. Dìt sal jy ook raaksien in my skrywe.

Ek dink of ten minste wonder ek of die woordeboekopstellers hul menings nie dalk laat beinvloed deur die omgangstaal.

Peet Schabort ·

En die hele aangeleentheid draai om ‘n toilet. Wat van ‘n porta-potti in die kajuit?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.