Nuuskommentaar: Skiet die boer; skiet ’n volk – skiet ’n nasie

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Kort-kort vermaan die een of ander kommentator sy lesers dat mense nie emosioneel oor landboukwessies soos plaasaanvalle en plaasmoorde moet raak nie. Nou, ironies, het Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, in ’n vuurwarm grond-imbizo die regering se optrede verdedig deur te sê emosie kan nie uit hierdie debat gehaal word nie.

Die boere het met die staatsrede ’n hewige skop in die tande van die president gekry. Dr. Piet Croucamp beskryf dit in ’n rubriek in Beeld soos volg “Staatsrede verpletter grondpakt”.

Die kern van die huidige krisis is dat die georganiseerde landbou onder die indruk was dat hulle “nog weke” gehad het om hul voorstelle oor grondhervorming in te dien, bloot om voor daardie afsnypunt die president radikale uitsprake te hoor maak en klaarblyklik ’n streep deur alles trek.

Voorts het die president in sy staatsrede oor plaasmoorde en plaasaanvalle geswyg.

Die boere het hierdie kort lootjies getrek terwyl hulle met ’n knellende droogte, en ook ander probleme soos veediefstal en gewasdiefstal te kampe het.

Intussen gaan die DA aan die ministers van landbou en polisie skryf om te verneem wat die spertyd is vir die daarstelling van die beloofde landelike veiligheidseenhede. Dit volg na die SAPD die vorige dag geen statistiek oor plaasaanvalle en plaasmoorde in die portefeuljekomitee kon verskaf nie.

Die minister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, Gugile Nkwinti, het onlangs nog die boere vir hul grondhervormingsinisiatiewe geloof. Met gister se imbizo was hy en die minister van landbou skoonveld – glo op die laaste nippertjie ander verpligtinge op die lyf geloop.

Mantashe se antwoord was om die boere te dreig sou hulle die regering in die tande skop. Dit is heel duidelik dat die ANC ’n groot ongemak het nadat verskeie landbou-organisasies sedert die staatsrede met jota en tittel uitgewys het dat die regering alle bestaande ooreenkomste met die landbou verpletter het. Dit is ’n billike vraag om te wonder of gesprekvoering met die regering dan nog enigsins ʼn doel dien.

Mantashe se reaksie was om te dreig as die landbou nie wil praat (waarskynlik eintlik bedoel luister) as die regering met hulle wil praat nie.

Oor of die aangekondigde grondplanne in pas is met die Nasionale Ontwikkelingsplan, het Mantashe bont gepraat, maar darem gesê die NOP is dan die ANC se plan. Die probleem is dat Zuma in staatsrede eerder die Vryheidsmanifes afgestof het – ’n erg verouderde dokument wat deur sy eie opstellers beskryf word as ’n dokument wat vir ’n bepaalde tydsgewrig geskryf was.

Intussen is nog ’n Vrystaatse egpaar op hul plaas aangeval en beroof.

Een van die landbou-organisasies wat na die staatsrede dit uitgespel het dat regstreekse regeringsbetrokkenheid by grondhervorming nie aangemoedig moet word nie, is ASUF – Agri Sector Unity Forum wat uit Agri SA, die TLU SA en twee swart landbou-verteenwoordigende organisasies bestaan. ASUF meen ander metodes moet vir grondhervorming gevolg word wat investering, en daardeur voedselsekerheid, intak sal laat.

Om in ’n land wat volhou om van die wêreld se beste boere op te lewer (wat dikwels onder erg marginale omstandighede boer soos die huidige droogte toon) daardie landbouers stief te behandel, doen nie die land enige guns nie.

Een van die juweeltjies wat Mantashe tydens die imbizo kwytgeraak het, was om te noem dat China, volgens hom, ’n groot sukses gemaak het van boerdery op klein plasies. Hy versuim om te meld dat dit waar is van hoë reënvalgebiede of die beskikbaarheid van besproeiing onder omstandighede waar tot drie rysoeste per jaar van dieselfde lappie grond gehaal word. In China se uitgebreide droë en woestyngebiede is daar van klein plasies geen sprake nie.

Dit is goed en wel dat Mantashe voel emosies moet ook in die debat ingemeng word. Sy persepsie oor emosies wat ter sprake behoort te wees is natuurlik heeltemal anders as wat die landbou in gedagte het. By die landbou handel dit oor emosies soos ’n buurgesin wat tydens ’n plaasaanval wreed aangerand en vermoor is. Dit handel oor veeverliese weens diefstal, en wreedheid soos om beeste wat nie gesteel kan word nie, se hakskeensenings af te kap. Dit handel oor kommer oor droogtes of veldbrande. Dit handel oor paaie wat so versleg dat dit plek-plek byna nie meer moontlik is om gewasse by graansuiers of die markte te kry nie.

Vir Mantashe gaan dit oor persepsies dat swart mense hul grond weens gronddiefstal kwyt is (wat deur die ad hoc komitee oor eiendomsreg as die groot leuen beskryf is), oor die persepsie dat grondbesit landelike armoede kan verdryf (soos verskeie kere deur die president genoem is, wat selfs aangedui het dat dit deur die uitdeel van klein lappies grond gedoen kan word) en ander faktore wat nie altyd met die realiteite verband hou nie.

Oor die jare het die landbou aanskou hoe die staat die een onwerkbare grondhervormingsprogram na die ander aanpak, wat dikwels heel voorspelbaar misluk. Produktiewe grond staan dikwels kort voor lank onproduktief, en boerdery-eenhede totaal gestroop van produksiemiddele. Munisipaliteite in minder grondbelasting.

Daar is suksesverhale ook. Baie van hierdie gevalle was egter sonder enige regeringsbystand, of was danksy die georganiseerde landbou se eie programme (wat lof by die minister gekry het).

Die soort emosie wat Mantashe bepleit, is die soort emosie wat die ANC in verkiesings stemme kan besorg, maar nie kos in die maag van baie sal plaas nie. Dit sal ook nie werksgeleenthede bring in ’n land waar enorme werkloosheid heers nie. Dit sal ook nie ’n belastinginkomste bied wat die regering se stelsel van maatskaplike toelaes kan befonds nie.

In ’n demokrasie moet ’n regering in algemene belang regeer, nie sektorale belang nie. Dikwels is die groot kuns daarvan om onrealistiese verwagtinge op so ’n verantwoordelike manier aan te spreek dat die mense verstaan.

Maar, so lyk dit, in Zuma se wêreld word verwagtinge met beloftes beantwoord, maak nie saak of hierdie beloftes teenstrydig is met ander Zuma-beloftes nie, en of die beloftes uitvoerbaar is nie. Dit was bloot beleef, eintlik vrygewig, van die groot indoena om dit te maak. Terwyl die magskliek om hom, Mantashe inkluis al is dit via sy vrou, volgeprop word.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

7 Kommentare

HEVW ·

Aan hierdie problem sal daar nie n einde aan kom nie. Die se persepsie is, om maar alleen polities in beheer te wees is nie goed genoeg nie. Die plase moet bekom word, al ontaard dit in armoede, verwaarlosing en verval, dan eers besit hul na reg die land.

willem ·

Ek stem saam. Vir ‘n revolusie gaan dit nie oor voedselsekuriteit nie maar om grond te “Redistribute”. Dit is sinneloos om verder met die regeering te probeer debat voer op die basis van voedselsekuritiet en ekonomie, hulle luister lank al nie meer nie. Zuma voer net ANC beleidrigtings uit. Carel Boshoff was reg toe hy so paar jaar terug gese he, die boere gaan nie die grond geveg wen nie. Ons sal vinnig moet rat verander en besef ons is midde ‘n aankomende revolusie waar die debat van voedselsekuriteit asem mors is.

PJ ·

Kan Zuma nie sien dat comrade Mugabe se plaas besettings Zimbabwe in ‘n staat van armoede
gelaat het nie sodat ons nou vir sy burgers sorg nie. Ek is bevrees Zuma moes lankal gefire gewees het en dan moet ons tog bid en glo dat ons iemand met verstand in sy plek kry.

Pierre Celliers ·

Zuma dink hy is daar om te skep soveel hy kan as president en niks meer nie!
Los alles, laat die land homself bestuur!

Jan ·

Dit is to duidelik wat die ANC beoog. Die ANC net soos die EFF stel nie belang in die argument van voedselsekuritiet nie, hulle stel net belang in een ding. Dit is om die grond te “Redistribute” ,ongeag die ekonomiese gevolge. Vir ‘n kommunistiese revolusie is voedselsekuriteit ‘n onbelangrikke aspek. Na my mening moet osn ophou om te probeer debat voer met die regeering t.o.v voedselsekuriteit. dit werk bloot nie. Ek wil se dit is sinneloos om nog debat te probeer voer met die regeering. Het die ANC nie onlangs in ‘n debat met die Vryheidsfront, DA en EFF gese dat hulle lankal nie meer luister na die Vryheidsfront nie? Dit is hulle houding en hulle het klaar besluit. Carel Boshoff was reg toe hy ‘n paar jaar terug gese het die boere gaan nie die grond geveg wen nie.

Malinda ·

Wanneer gaan ons blankez nou opstaan vir ons regte. Word net gepraat en gepraat wAAR is ons leiers vir wie ons n x sie getrek het wat is die plan van aksie

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.