Nuuskommentaar: Skole brand, leë krane en die “goeie storie”

Argieffoto

Argieffoto

Het die ANC werklik so ʼn “goeie storie” om te vertel soos voorgegee word, of sou ʼn ander regering in die post-disinvesterings- en sanksietyd veel beter kon presteer? Volgens Municipal IQ gaan daar vanjaar ʼn rekordaantal beduidende diensleweringsprotesaksies wees – dit lyk dus asof die ANC moeite het om sy gebruiklike stemvee te oortuig dat dit doeltreffend regeer.

Uit pres. Jacob Zuma se Vryheidsdag-toespraak – ʼn ANC-propagandatoespraak kwalik verdoesel as amptelike presidensiële toespraak op staatskoste, is dit duidelik dat die ANC sy “goeie storie” gaan bly verkwansel vir die munisipale verkiesing, soos ook voor die vorige algemene verkiesing.

Dis ʼn ellelange lys wat al meer na prestasies lyk omdat daar soveel algemene verval, in die woorde van Kovsies se kanselier, om ons is, terwyl dit eintlik gewoon die uitset van selfs ʼn swak tot middelmatige regering is; grootliks danksy kundigheid wat uit die bose verlede geërf is.

Gaan kyk maar net na soortgelyke ontwikkelings in verskeie Namibiese sentra, ten spyte daarvan dat daardie buurland veel minder hulpbronne het as Suid-Afrika.

Plaaslik is die ontwikkelings boonop dikwels ten spyte van en nie te danke aan die doeltreffendheid van die regering nie. Praat maar met enige ontwikkelaar oor hoeveel moeite dit is om ʼn projek van stapel te stuur. Net te dikwels word geld onder die tafel vereis, te dikwels is daar die een of ander politikus se nabye familielid wat agter die skerms die kitaar slaan en self misterieus die room van kontrakte losslaan.

En dan praat ʼn mens nie eens van die sonde as dit by die betaalslag kom nie, met talle kleiner ontwikkelaars en subkontrakteurs wat al met aansienlike verliese aan werksgeleenthede ten gronde gegaan het.

As AfriForum nie ingegryp het nie, sou talle dorpe nou weens ʼn kombinasie van swak beplanning, die droogte en die diefstal of verwaarlosing van toerusting sonder water gesit het. Tog is daar berigte van dorpe wat knaend sonder water sit.

Dis ook nie altyd gehuggies wat swaarkry nie. Kroonstad is op die drumpel van ʼn ernstige waternood. As dit nie vir die vorige regering se versiendheid met die Lesotho-oordragskema was nie, was Bloemfontein nou waarskynlik ook sonder water, afgesien van ʼn rits ander gemeenskappe langs die Caledonrivier wat nou water uit die Katzedam kan benut.

Maar daar is ander soorte stemme wat praat, die “stem” van die vuurhoutjie. Skole en ander geboue word afgebrand en voertuie vernietig.

BusinessDay Live skryf, na aanleiding van bevindings van Municipal IQ, Suid-Afrika stuur vanjaar op ʼn rekord aantal protesaksies af. Die soort protesaksies waarna gekyk word, is “major service delivery”-aksies en is dus regstreekse aanklagte teen die regering.

Municipal IQ is voorts bekommerd omdat sulke protesaksies in die verlede voor verkiesings afgeneem het, waarskynlik weens groter belangstelling deur politici. Dié keer gebeur die teenoorgestelde.

Nie alle protesaksies handel oor dienslewering nie, of kan regstreeks daarmee verbind word nie, soos die ANC Jeugliga se stormloop by die hoofkantoor van SARU.

Sekere situasies, soos dié wat met afbakening en veral amalgamasie verband hou, is onregstreeks aan dienslewering gekoppel. Hoewel dit baie polities verkeerd is om die etniese faktor te noem en mense soos die UFS se rektor, prof. Jonathan Jansen, ontken dit is ʼn faktor, bly dit riskant om ʼn munisipaliteit “wydsbeen” oor ʼn etniese grens saam te stel. So is Qwaqwa (Suid-Sotho) en Harrismith (Zoeloe) in een munisipaliteit saamgesnoer en dit het reeds verskeie moleste afgegee as die een of ander gemeenskap voel die ander word voortgetrek. Dit geld ʼn hele rits munisipaliteite noord van Qwaqwa, wat al hieroor in domino-proteste ontbrand het.

En diegene wie ontken etnisiteit is ʼn belangrike faktor in die Limpopo-proteste en skoolverbrandings, pleeg gewoon volstruispolitiek – al is hulle polities korrek.

Verskeie situasies is besonder kompleks, soos by Grabouw. Grabouw was aanvanklik ʼn belangrike afspringplek vir migrante uit die Oos-Kaap wat beplan om hulle in die omgewing van Kaapstad te vestig en Grabouw en omgewing se ekonomie het lankal reeds hul kapasiteit vir indiensneming en ekonomiese absorpsie bereik. Intussen het die situasie ʼn lewe van sy eie gekry, wat enorme eise aan die plaaslike en provinsiale regering stel, terwyl die belange van gevestigde inwoners onder enorme druk kom.

Boonop is die vermoede sterk dat hierdie en soortgelyke aksies deel van die ANC se planne uitmaak om die Wes-Kaap te “bevry.”

Die ironie is die ANC het pas, by monde van sy Wes-Kaapse woordvoerder, Yonela Diko, die DA beskuldig daarvan dat die DA van die Wes-Kaap ʼn “Orania” maak. Hy koppel alles aan rassisme, waarvan hy die ANC vryspreek. (Hy kan gerus gaan kyk hoe goed dinge in Orania werk).

ʼn Paar jaar gelede het ʼn Oos-Kaapse ANC-raadslid die skuld vir die land se waterprobleme op die vorige regering gepak. Hiervolgens sou die NP-regering damme gebou het wat te groot is en moeilik volloop. Die ANC sou kleiner damme bou wat maklik volloop.

Dit was wel geen formele ANC-standpunt nie, maar sover bekend, is dit nie gerepudieer nie. Tog lyk dit of te veel kiesers steeds die kompleksiteit van ʼn doeltreffende bestuurstelsel onderskat.

Egipte se ekonomie, het volgens KMPG, wat nuwe data van die IMF gebruik het, ook stil-stil, soos dié van Nigerië, dié van Suid-Afrika in grootte verbygesteek. En dis nie asof Nigerië en Egipte sonder groot probleme sit nie.

Dit raak eenvoudig al moeiliker om te glo die ANC het so ʼn goeie storie om te vertel. Boonop kan dit nie gemeet word teenoor hoe ʼn ander regering in die post-disinvesterings- en sanksietyd sou gevaar het nie.

Dat Zuma die huidige spulletjie dirigeer, help ook nie vreeslik baie nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

m ·

Hoe op aarde kan die ANC ‘n goeie storie het om te vertel. In die 20+ jaar wat hulle aan bewind is het absoluut niks verbeter nie. n Paar gelukkiges het vet poste gekry maar vir die res is dit maar dieselfde donker prentjie van armoede. Alles wat opgebou is, is in 20 jaar afgebreek. Korrupsie, geweld, rassisme in die ergste graad en geld mors is aan die orde van die dag, so daar is geen goeie storie nie, net een groot nagmerrie.

Xa ·

Kan iemand my antwoord op die belangrike vraag: waarom trek die swart regering grense so dat etniese groepe in dieselfde munisipaliteite grdruk word wat konflik veroorsaak, as reeds dit een van die grootste kritiek is teen die ou koloniale moondhede? Die feit dat ou kolonies se grense nie etnisiteit in ag neem nie word vandag nog as een van die duisende verskonings voorgehou waarom Afrika arm bly, tog doen vandag se eie regering dit?? Hoe so?

alida ·

Al goeie storie sal wees as hulle die R4 miljard se geld wat vir die vliegtuig wil gebruik die skole herbou

Niel ·

Die hoofnar en sy sirkus het daarin geslaag om hierdie land so te sê te vernietig

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.