Nuuskommentaar: Soweto-opstande 40 jaar later – nou ’n kruispad

jeug_hoop_efegy_org.jpg

Foto: efegy.org

Is daar nog genoeg momentum oor van die destydse Vredesakkoord dat Jeugdagvieringe vandag nog inklusief genoeg kan wees om die jeug in te sluit? Het die ouer geslag ’n erflating vir vandag se jeug nagelaat wat feesvieringe regverdig? Is vandag se jeug enigsins beter daaraan toe as 40 jaar gelede toe die Soweto-onluste ontbrand het? Herman Toerien kyk na ’n paar syfers wat die konteks in die sogenaamde “twilight zone” plaas.

Vandag is die 40ste herdenking van die Soweto-opstande, en ontleder ná ontleder skets hoe daardie “geboorte” se naelstring tot vandag deurgetrek kan word. Oppervlakkig beskou uit die berigte lyk dit of skoon vergeet word dat dit Jeugdag is vandag – ’n dag wat teen die agtergrond van die Nasionale Vredesakkoord ’n betekenisvolle dag vir alle jong mense in die land moet wees; nie net vir diegene met ’n besondere velkleur of negatiewe ingesteldheid teenoor Afrikaans nie.

Seker die belangrikste vraag is: Hoe is dit vandag met die jong mense in die land gesteld?

’n Onderwyskundige van Theunissen in die Vrystaat, dr. Magda Cronjé, skryf onlangs in Volksblad dat ondersoeke aan die lig gebring het dat sowat 80% van die kinders wat graad 2 begin het in 1993 kon lees. Tien jaar later het die syfer tot ongeveer 20% teruggesak. Sy skryf dit aan uitkomsgebaseerde onderwys toe, maar dit bly ’n ramp wat met die post-1994-bedeling saamgeval het.

Die nuwe regering is destyds daarvan beskuldig dat hy plaaslike kundigheid oor onderwyssake in die tande geskop het, en allerlei randfigure uit die buiteland getrek het – dikwels mense met idees wat reeds in hul eie lande beproef en gediskrediteer is.

Die Soweto-opstande word steeds as deel van ’n omvattender vryheidstryd aangeprys, maar is die jong mense werklik sinvol bevry, veral gegewe die hoë werkloosheidskoers onder jong mense? Die regte van kinders in Suid-Afrika het volgens die jongste indeks van die internasionale kinderregte-organisasie, KidsRights, agteruitgeboer. In 2015 het Suid-Afrika nog die 86ste plek uit 165 lande beklee, maar in 2016 het die land na die 109de plek teruggesak.

KidsRights meet die toedrag van kinderregte in ’n land aan die hand van die reg op lewe, die reg op gesondheid, die reg op opvoeding, die reg op beskerming en die algemene kinderregteomgewing. Die punte word dan saam verwerk om ’n oorsigtelike punt en posisie aan ’n land toe te ken.

Suid-Afrika vaar betreklik goed met die reg op beskerming (84) en die kinderregte-omgewing (59–66). Met die reg op lewe vaar Suid-Afrika maar swak en beklee die 127ste posisie, maar vaar nog swakker met die reg op gesondheid en beklee die 134ste plek. Ook wat die reg op opvoeding betref, vaar die land nie te goed nie deur die 117de plek te beklee.

Wat die algehele posisie betref, vaar Suid-Afrika swakker as Botswana (100ste posisie) en Namibië (93ste posisie). Altesaam agt Afrikalande vaar beter as Suid-Afrika.

In ’n opiniestuk van AJ Jacobs wat Woensdag op Maroela Media geplaas is, wys die skrywer op ’n onlangse opmerking van die statistikus-generaal dat ’n ondersoek deur Statistiek Suid-Afrika bevind het dat die swart jeug tussen 25 en 34 jaar nou minder geskoold is as hul ouers.

Pas is ’n hele aantal skole in Limpopo vuurgemaak. Ontevredenes – dikwels eerder die ouers as die kinders – gebruik dikwels skole as gyselaar vir ontevredenheid. Die skole word dikwels nie gebrand nie, maar daar word eerder van boikotaksies gebruik gemaak. Die redes vir hierdie protes is uiteenlopend, soos ongelukkigheid met brouwerk wat die Afbakeningsraad aangerig het, teerpaaie wat beloof is maar nie werklikheid word nie, die dreinering van Afrikaanssprekende onderwysers uit oorwegend bruin, Afrikaanssprekende gebiede, die afdwing van skoolhoofde op skole met ’n bepaalde, dikwels Afrikaanse, kultuur, maar wat self nie Afrikaans magtig is nie, en vele meer. Kortom, dikwels hou die protesaksies teen skole met skoolverwante aangeleenthede verband, maar dikwels nie. Die een gemeenskaplike faktor is eerder ’n regering wat op die een of ander wyse verbrou.

Daar sal mense, veral politici, wees wat vandag met groot oortuiging sal verkondig hoeveel beter vandag se jeug daaraan toe is as 40 jaar gelede, en hoe ’n groot rol die Soweto-opstande gespeel het om hierdie verbeterings te bewerkstellig. Dat daar ’n teenkant is, sal nie sommer verkondig word nie.

Daar is ook in sekere kringe ’n nugterheid oor hoe Jeugdag vandag gevier behoort te word. Dr. Michael le Cordeur fokus in sy artikel op Netwerk 24 in die aanloop tot Jeugdag op die belangrike rol wat meertaligheid in versoening kan speel. “Hopelik sal politieke leiers nie Jeugdag misbruik om hul eie politieke aspirasies te bevorder nie, maar eerder ’n gesindheidsverandering teenoor ander tale bevorder deur in die openbaar te wys op die waarde van ons inheemse tale. Ons toesprake moet fokus op die belangrikheid van meertaligheid. Ons moet Jeugdag benut deur ons kinders in te lig oor die verlede, en die moontlike gevolge van ’n onverskillige omgaan met landgenote se taal. Wat ek vir Afrikaans verlang, moet ek ook vir ons ander inheemse tale gun.” In die breër konteks meen hy Jeugdag moet op nasiebou en versoening afgestem wees.

Le Cordeur sluit af deur daarop te wys dat die wyse van viering daarop afgestem moet wees om dit relevant vir alle jong mense in die land te maak.

Maar kon Jeugdagvieringe tot dusver daarin slaag om ’n inklusiewe baadjie vir alle jong mense aan te trek? In 2014 besluit AfriForum Jeug om nie aan die Jeugdagvieringe deel te neem nie, maar eerder te begin om self ’n beter toekoms te skep. Die organisasie stel sy Groenbussieprojek by die Voortrekkermonument bekend.

Die volgende jaar het AfriForum Jeugdag (wat in ’n spoggeleentheid vir politieke partye ontaard het) geboikot. AfriForum Jeug het eerder die witkruisprojek (wat slagoffers van plaasaanvalle herdenk) gerestoureer en duisende kruise is geverf.

Dit is onwaarskynlik dat alle jong mense vandag gemotiveerd sal voel om aan feesvieringe of selfs gedenkbyeenkomste deel te neem. Daarvoor is die erflating wat die jeug, ook die afgelope twee dekades, van vorige geslagte gekry het eenvoudig te gebrekkig.

Die erflating vir jong mense bly steeds ontstellend gebrekkig. ’n Vlugge lees van mediaopskrifte vanoggend vertel ’n skrikwekkende verhaal – ’n oupa wat naakfoto’s van sy kleindogter neem en haar oplaas verkrag, ’n ma wat haar baba vermoor omdat sy nie weet waar om kos vir die kind vandaan te kry nie, ’n negejarige meisie wie se moordenaar nog soek is, ’n pedofiel van Mitchells Plain naby Kaapstad wat altesaam 187 jaar tronkstraf opgelê is nadat hy skuld op byna 150 aanklagte van ’n seksuele aard teenoor minderjariges beken het …

Ander minder mooi nuus die afgelope tyd is dat Suid-Afrika die wêreld se brandpunt is wat fetale alkoholsindroom betref – duisende kinders wat jaarliks gebore word en die lewe met ’n voorkombare agterstand die toekoms in gelanseer word.

Dis amper verkiesing, en partye gaan meeding om ’n euforie te skep en daaruit te put.

Maar môre is die feesvieringe verby en staar talle in leë koskaste – waar daar nog hoegenaamd ’n koskas is.

Miskien moet die land eers sy verpligting teenoor die jeug gaan herbesoek en iets daadwerkliks doen.

Maar dan moet die heethoofde onder die jong mense ook weet dat afbreek en brandstigting, en die vertrapping van ander se (taal-)regte deel van die probleem, en nie deel van die oplossing is nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

12 Kommentare

Lance ·

Behalwe vir sekere goed soos human rights is ons eintlik slegter af in SA ….veiligheid, korrupsie noem maar op is op hulle laaste bene …veral onderhoud van die infrastruktuur…dit bestaan nie …wens die mense wil wakkerskrik en begin stem vir mense wat n beter rekord het as die anc en wat eintlik kan saakmaak en die land opbou …niks rooi nie hulle weet net van afbreek en brand

Theuns ·

Herman jou waarheid is nie lieg storiies nie maar Zuma se waarheid is! Jy sal more hoor van al die tjol wat hy weer oor Afrikaans en Apartheid vandag op die Orlando Staduim kwyt geraak het.

Theuns ·

Herman jou waarheid is nie lieg storiies nie maar Zuma se waarheid is! Jy sal more hoor van al die tjol wat hy weer oor Afrikaans en Apartheid vandag op die Orlando Staduim kwyt geraak het.

marianne ·

In 1976 het hulle bohaai opgeskop oor apartheid en Afrikaans. In 2016 brand hulle Engelse en andertalifge skole en universiteite af…..
DAARDIE MENSE WEET NIE WAT HULLE WIL HE NIE!!!! NOU NOG MEER AS 40 JAAR GELEDE.

snoefie ·

kan iemand ASB uithelp? sabc nuus het my onder die indruk gebring dat swart stamme voor 1976 in Afrikaans onderrig was. is daar enige waarheid in?

Theuns ·

Snoefie, dit is nie waar nie! Lees die kommentaar van AJ Jacobs op Maroela Media. Gebruik die soek sleutel.

snoefie ·

drankie gemsbok dis insiggewend. maar pleks van drankie se en hulle kinders aanspoor om te leer en Dan wie taal onderrig toe te pas,was amok maak weer aan die order van die dag. nou spog hulle met hulle ondankbaarheid. so tipies. drankie theuns. ek kon dit nie opspoor nie.

snoefie ·

DANKIE nie drankie nie. ek wil beslis niks op hulle snert drink nie.

alida ·

Kan hulle nie maar vergeet van die verlede en bou aan ‘n toekoms nie? Die jong mense van vandag kan begin om reg te stem sodat ons ontslae kan raak van die vrot aartappel in die sak wat die hele land besoedel en besteel. Die wat so tekere gaan is was nog nie eens gebore in 1976 nie. Word wakker !!!

Koos ·

Wat het geword van die busse wat ons ou soldate orlando stadium toe sou geneem het om te gaan versoen,gereel deur al die kapelane predikante ministers en generaals van daai tyd of wou hulle ons maar net weer misbruik.

Armando ·

Herman, kommentaar is oorbodig. Baie dankie vir ‘n fatasties insiggewende artikel.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.