Nuuskommentaar: Tragiese Colorado-skietvoorval benut vir politiekery

(Foto: Chet Strange/Getty Images via AFP)

Die afgelope Maandag het die tweede massaskietvoorval in ʼn week se tyd in Amerika plaasgevind. Hierdie keer het ʼn man 10 mense by ʼn inkopiesentrum in Boulder, Colorado, doodgeskiet voordat hy in hegtenis geneem is.

Nog voordat enige iemand behoorlik kon rou oor die tragiese gebeurtenis, het dit reeds ʼn politieke speelbal geword. Die establishment-media en politieke elite kon hulself nie help om op dié tragedie te kapitaliseer deur hulle eie agenda en narratief te bevorder nie.

Een van die eerste reaksies van die Twitterati is perfek deur visiepresident Kamala Harris se niggie verwoord: “The Atlanta shooting was not even a week ago. Violent white men are the greatest terrorist threat to our country.”

Tussen die lyne word ook aangevoer dat dié gewelddadige wit man deel is van die wit meerderwaardigheid (white supremacy) wat fundamenteel deel van Amerika is. Dit pas ook in by die narratief dat Amerika se inherente sistemiese rassisme en stelsels van geweld ʼn fundamentele bedreiging vir die land is.

Die Twitterati het ook sonder om te skroom by hierdie aanname ingespring – dit pas perfek in by die narratief dat gewelddadige wit mans Amerika se grootste bedreiging is en ook om streng wapenbeheer aan te moedig.

Kort voor lank het dit egter aan die lig gekom dat die skieter eintlik ʼn man van Siriese herkoms is wat tot Amerikaanse burger genaturaliseer is. Harris het hierna halfhartig om verskoning gevra deur te verduidelik dat sy net gedink het hy is ʼn wit man omdat hy lewend in hegtenis geneem is – weereens verwysend na Amerika se sistemiese rassisme wat via die polisiemag swart mense sonder enige rede net in massas vermoor.

Met mense wat sy herkoms uitgewys het, het die linkse establishment-media en politieke elite ook dít tot hulle eie voordeel gebruik. Demokratiese lid van die huis van verteenwoordigers Ilham Omar het hieroor gesê: “The shooter’s race or ethnicity seems front and center when they aren’t white.”

Enige mens wat werklik establishment-media volg, wéét dat presies die teenoorgestelde waar is. Wanneer ʼn wit persoon iets sleg doen, is hulle sleg weens hulle ras. Wanneer iemand van ʼn ander ras iets sleg doen, is hulle ras óf die mees irrelevante feit op aarde óf hulle het só opgetree weens eksterne omstandighede buite hulle beheer – dan is hulle ʼn slagoffer van (gewoonlik) die stelsels van sistemiese rassisme, onderdrukking en wit meerderwaardigheid inherent aan Amerika.

Dié geleentheid is ook met twee hande aangegryp om strenger wapenbeheer deur te druk. President Joe Biden oorweeg reeds uitvoerende optrede om strenger wapenbeheer deur te voer. Talle ander rolspelers het hierdie gebruik as regverdiging vir streng wapenbeheer en wapenvrysones.

Die probleem hiermee is dat die “oplossing” ten beste nie die probleem aanroer nie en ten slegste dit vererger. State en gebiede met die grootste probleme is gewoonlik dié waar die sterkste wapenbeheer toegepas word. Kriminele sal altyd wapens kan kry en gebruik. Dit is juis waarom wetsgehoorsame burgers hulself ook moet kan bewapen en beskerm.

Verwysend na die Colorado-skieter se geval, moet die onderliggende probleme eerder ondersoek word – dit is hoe die probleem hanteer kan word. Daar moet eerder gekyk word na die manier waarop jong mans deur die samelewing vervreem word tot op die punt waar hulle massas mense helder oor dag in ʼn inkopiesentrum wil doodskiet. Hierdie verskynsel van massaskietvoorvalle en skoolskietery is ʼn probleem. Die oplossing sal daarin lê om die onderliggende oorsake te ondersoek, eerder as om ander gewone burgers se vermoë om hulself te beskerm, te verwoes.

Tog gaan die establishment-media en politieke elite hierdie geleentheid gebruik om hul politieke agenda van wapenbeheer te bevorder. Hulle gaan voorhou dat enige iemand wat nie met hulle oplossings saamstem nie, nie omgee oor die slagoffers daarvan nie. Dit is ʼn klassieke taktiek wat hulle gereeld aanwend – hulle vertel ons ook altyd dat konserwatiewes wat hulle reuse-maatskaplike ondersteuningsprogramme teenstaan, nie vir arm mense omgee nie. Die oomblik wat jy nie met hulle oplossing saamstem nie, word jy deel van die probleem self – jy neem dit dan te ligtelik op óf jy onderhou die rassistiese, onderdrukkende stelsels wat die probleem volgens hulle veroorsaak.

Hierdie spreek net weereens van die stand van openbare debat en politieke polarisering in Amerika. Dit is eintlik verskriklik om mense daarvan te beskuldig dat hulle nie omgee oor mede-Amerikaners wat helderoordag in massas doodgeskiet word nie. Dit is ʼn verskriklike aanklag teen die ander kant van die politieke spektrum – een wat ook geensins in die werklikheid gesetel is nie. Net omdat iemand van jou oplossing verskil, óf skrikkerig is vir die gevolge van jou oplossing, beteken nie dat hulle fundamenteel boos is nie.

Hoewel dit nie in presies dieselfde vorm oor presies dieselfde kwessie plaasvind nie, is hierdie verskynsel iets wat ook in ons eie land gebeur. Hier is enigeen wat grondonteiening sonder vergoeding teenstaan, gekant teen die sukses van arm swart mense. Daar is nie die ruimte vir nuanses waarin onteiening sonder vergoeding (OSV) teengestaan word, maar ʼn ander oplossing vir die grootskaalse oplossing van die probleem moontlik is nie. ʼn Mens kan nie die opheffing van arm swart mense voorstaan en OSV terselfdertyd teenstaan nie.

Dieselfde gebeur ook telkens in die debat oor nasionale gesondheidsversekering (NGV). Diegene wat dit teenstaan, kan dit nie bloot teenstaan weens ʼn diepe wantroue in die regering se vermoëns nie. Enigeen wat NGV teenstaan, wil noodwendig hê dat arm swart mense doodgaan weens ʼn tekort aan gesondheidsorg. Daar is nie ruimte vir ʼn gesprek oor groter toegang tot gehalte gesondheidsorg in ʼn ander vorm as NGV nie.

So ʼn gesprek is uiters onverdraagsaam en onproduktief. Al wat dit werklik doen, is om die openbare gesprek te polariseer tot op die punt van gevaarlike antagonisme. Dit is presies wat gebeur wanneer die media begin om kante te kies, eerder as om net verslag oor die nuus te doen. Indien daar nie aan ʼn onafhanklike, eerlike en neutrale openbare gesprek gebou word nie, sal die gesprek uiteindelik volledig verval. Dit is juis hierdie verval in die openbare gesprek wat uiteindelik tot ʼn verval van die politiek lei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Werner ·

Puik artikel.Die onpraktiese liberale denke gaan net die spanning vehoog en lei tot verdere skiet voorvalle.

Aai ·

Wys jou net hoe is die demokrate net soos die ANC.Ja julle het vir Biden en Kamala gestem kry vir julle.

Barend ·

As vuurwapens onwettig gemaak word kry die massamoordenaars net iets anders, bv. Messe of vragmotors. Dis nie die wapens wat doodmaak nie. Dis die mens.

Jacobus ·

Soos in ons land het die kriminele reeds genoeg wapens. Maar Barend, gee jou gelyk.

Lian ·

Politici en media voel vere vir die feite van die saak. Politici wil stemme werf en koerante wil net meer eksemplare verkoop sodat hulle groter winste kan maak .

Cherokee ·

Monica, alhoewel goed verwoord, lees ek nie raak dat jy selfs een maal die werklike probleem van massa skietery, aanspreek nie. Dit blyk te lyk asof die media die feit dikwels probeer omseil, dat dit die skieters gewoonlik moslems is. En ek omseil die woord ‘radikale’ omdat radikale moslems gewoonlik Christene wil vermoor weens geloof, terwyl die nie-radikale moslem kalm probeer om hulle om die gelowige anders te probeer oortuig. Die nie-radikale moslem is dus gevaarliker.
Ons weet egter wat ons glo is waar.

Natasha67 ·

Ek dink dit is juis die probleem wat sy stel – dat daar nie ‘n rouperiode of simpatie bestaan het vir die slagoffers nie. Die Demokrate het dit onmiddellik omskep in ‘n politieke speelbal. White supremacy.

Jacobus ·

Dit is duidelik dat “voet in mond” sindroom sterk loop in VSA Demokratiese kringe. Dit moes nogal ‘n gesig gewees het toe Iham, Kamala en haar bekkige niggie gelyk hulle voete uit hulle monde probeer ruk. Die voorval is totaal tragies en wys waartoe mense in staat is. Dit sou die VSA betaam om die beskikbaarheid van wapen effens strenger te maak, so ook die kwalifikasie vir stemreg.

Vrijburger ·

Wat ‘n perfekte samevatting deur die skrywer van die hoofstroom media in die VSA! Die kruks van die saak in ‘n neutedop.

“Enige mens wat werklik establishment-media volg, wéét dat presies die teenoorgestelde waar is. Wanneer ʼn wit persoon iets sleg doen, is hulle sleg weens hulle ras. Wanneer iemand van ʼn ander ras iets sleg doen, is hulle ras óf die mees irrelevante feit op aarde óf hulle het só opgetree weens eksterne omstandighede buite hulle beheer – dan is hulle ʼn slagoffer van (gewoonlik) die stelsels van sistemiese rassisme, onderdrukking en wit meerderwaardigheid inherent aan Amerika.”

Natasha67 ·

‘n Fantastiese artikel! Wat nou in die politiek van Amerika gebeur, is ellendig en tragies.

daniel ·

Nog nooit gehoor van n wit person met so n naam en van nie. Wittes is nie almal dom nie net die wat vir Biden ondersteun.

Sarel ·

Hulle is besig om hulle srlf te vernietig maar nou ja wie slae uitdeel sal ontvang.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.