Nuuskommentaar: Tyd dat Navo en Rusland spanning verlig

Foto: pixabay.com

Foto: pixabay.com

Uit verskeie nuusbronne wat gesaghebbendes aan weerskante van die spanningslyn aanhaal, blyk dit dat die wêreld tot gevaarlik na-aan ’n gewapende konflik tussen Oos en Wes beweeg het. Dit is noodsaaklik dat Suid-Afrikaners ook hiervan kennis neem, maar ongelukkig word skrywers wat hulle op hierdie terrein waag, so onder vitrioel toegegooi dat hulle dan daarna liefs wyd hou – en ons verdommingsproses gevoed word.

Tot hoe ’n mate word Suid-Afrikaners van ’n objektiewe beeld oor presies hoe groot die spanning in die “lyn” van die ou Koue Oorlog pas ontwikkel het weerhou, bloot omdat kenners nie graag hul kennis deel nie weens die voorafwete dat hulle deur ongepoetste lesers in die aakligste terme gestriem gaan word?

Een van die min Suid-Afrikaanse rubriekskrywers wat nog gereeld sy kennis en kundigheid deel, is dr. Leopold Scholtz, wat onder meer oor ’n toepaslike doktorsgraad beskik.

Dit is eintlik ’n verligting om deur oorwegend kalm en gebalanseerde leserskommentaar op sy jongste bydrae hieroor op Maroela, Oorlog kan uitbreek, te lees. Ja, daar is hier en daar een wat vasgevang bly in die vernouende insig wat selfopgelegde oogklappe bied, en dan vanuit hierdie “perspektief” harde veroordelende woorde spreek. Maar dis ’n groot sprong van die bydraes in by die vorige rubriek uit Scholtz se pen waar ’n mens werklik skaam gekry het vir die oppervlakkige insigte sowel as die vitrioel waarmee standpunte (dikwels in uiters power Afrikaans) gestel is.

Die feit is egter dat daar ’n uiters gevaarlike globale verwikkeling aan die gang is, iets wat lank nie net deur Scholtz waargeneem is nie, maar ook deur kundiges wat hulle baie na-aan die vuur weerskante van die spanningslyn bevind en hulle daaroor uitspreek. Sou ’n oorlog uitbreek is dit in niemand se belang nie, en daarom moet so ver moontlik verby die kwessie van “wie se skuld dit is” gekyk word na hoe dit ontlont kan word. Nie dat die “wie se skuld dit is” nie belangrik is nie, maar weens wedersydse propaganda is die meningsverskil hieroor so diep gesetel dat ’n twis hieroor nog belangriker kwessies in die kas toegesluit hou, terwyl dit dringend aandag moet kry.

Normaalweg word die oorsaak vir die huidige toename in konflik teruggevoer na Rusland se anneksasie van die Krim. In Suid-Afrika word die kwessie gewoonlik uiters simplisties aangebied, en ’n morele kernelement, die lot van die oorspronklike inheemse bevolking, die Krim-Tartare, heeltemal verswyg, heel moontlik oor politiek-korrekte redes dat minderhede in Suid-Afrika nie idees, en veral simpatie moet ontwikkel nie.

Die Russe het byvoorbeeld die Tartare se verteenwoordigende liggaam, die Mejlis, verbied. In Europa, met sy sterker fokus op minderhede, is dit heel anders. Onlangs het die sangeres, Jamala, wat as Oekraïense sangeres van Tartaarse herkoms beskryf word, die Eurovision-liedjiekompetisie gewen met haar liedjie “1944” wat handel oor haar voorgeslagte se deportasie na Siberië. Hulle kon later terugkeer, maar sedert 2014, nadat hulle verdrukking begin ervaar het, het na raming een uit elke 20 Tartare die Krim verlaat, meestal na Oekraïne. Die Tartaarse kwessie is onlangs goed in ’n artikel, “Crimea Tatars endure second tragedy under Russial rule”, saamgevat.

Veral in die Baltiese state, Estland, Letland en Litaue, is daar kommer dat Rusland die Russiese minderhede in hierdie lande sal gebruik as verskoning om soos in Oos-Oekraïne ’n anneksasie soortgelyk as in die Krim te doen. Hierdie lande het sedert hulle van die ou Sowjet-unie onafhanklik geword het, noue bande met die Weste aangeknoop.

Aan die Russiese kant van die grens is 30 000 Russiese troepe saamgetrek. Navo het pas besluit om vier bataljons, sowat 4 000 man, in die Baltiese state en Pole op ’n rotasiegrondslag te ontplooi. Verskeie Navo-lande het vir die eerste keer in jare hul verdedigingsbegrotings begin vermeerder.

En weerskante hiervan woed ’n reuse-propaganda-oorlog waarin motiewe verdag gemaak word, sodat die spanningsvlak tot gevaarlik na-aan ’n oorlog, of minstens ’n koue oorlog, ontwikkel het.

In die Christian Science Monitor se omvattende artikel, “Next up after Nato’s Poland/Baltic Build-up: Lowering tension with Russia”, word standpunte weerskante van die skeidslyn goed weergegee. Die een boodskap is egter duidelik: Aan weerskante geld die gevoel dat die spanningsvlak ongesond hoog is, en dat selfs net ’n klein misverstand die vet in die vuur kan wees.

Daar is wel verskeie positiewe verwikkelinge, soms op die taktiese vlak, waar opponerende skepe in dieselfde omgewing met mekaar moet kommunikeer om misverstande te voorkom, tot die oorhoofse vlak. So het Turkye, ’n Navo-lidland, en Rusland onlangs verhoudinge grootliks genormaliseer nadat dit ná die neerskiet van ’n Russiese vegvliegtuig aan die Siriese grens erg gespanne was.

Die Siriese kwessie bly gespanne, maar is geweldig kompleks.

Ook die kwessie in Oekraïne is veel komplekser as die uitgediende argument dat “die weste” van ’n verkose pro-Russiese president ontslae geraak het en met “een van hul eie” vervang het. Nadat die eens verkose Janoekowitsj die pad gevat het, het soveel van sy korrupsie aan die lig gekom dat sy eie party hom geskors het. Nuwe demokratiese verkiesings is lankal gehou.

Of ’n mens nou tot die “Poetin is ’n engeltjie-groep,” “Amerika is die Satan,” “Saddam, Ghaddafi en Assad is / was engeltjies,” of “Poetin / China (weens onder meer verwikkelinge in die Suid-Chinese See) hou ’n bedreiging vir wêreldvrede in” behoort, die feit bly dat die wêreld vir ’n ruk gevaarlik op ’n naaldpunt gebalanseer was, en dalk steeds is.

Dankie aan skrywers soos Scholtz wat Suid-Afrikaners in weerwil van strome vitrioel op die hoogte van sake hou, en die sogenaamde “verdommingsproses” stuit.

Om standpunte vanuit samesweringswebwerwe te formuleer of met onderlinge warmbroeiery te voed, is geen manier om komplekse omgewing waarin ons bestaan te verstaan nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

28 Kommentare

jongste oudste gewildste
Wern

Wat ‘n wereldoorlog in die noordelike halfrond vir ons kan inhou, en dit maak my bekommerd: Wanneer groot wereldmagte mekaar so besig hou met oorlog gaan hulle nie hulle steur aan groot menseregteskendings of kleiner belange elders nie. Dan kan die massas of regerings hier in suidelike Afrika doen net wat hulle wil en daarmee maklik wegkom, selfs met volksmoord. Goeie voorbeeld is wat in Haiti gebeur het: toe Frankryk in oorlog was het die massas amper al die witmense vermoor want hulle het geweet dat Frankryk te besig was om te kom help.

gatiep

Herman lyk nie of iets daai oorlog sal kan stop nie hy gaan kom een of ander tyd,al is dit nou of eers oor 20jaar. Ek hou hom nou al n lang tyd dop. Christenskap is vir my baie belangrik en ek hou die USA en Russia baie goed dop,en ek is bang vir die pad wat die weste besig is om te loop. (Lyk al hoe donkerder vir my) As Trump inkom in USA sal my siening oor USA weer verander. Ek kan sien jy hou nie van Putin nie sal hou daarvan as jy my kan se hoekom… Lees meer »

marianna

Wel ek kies Rusland

Loeis

Veronderstel ons staan op die drumpel van so ‘n koue ooprlog, of selfs geweldadige fase, Herman.

Inwonders van die suidpunt van Afrika sit verseker nie tussen die weste en Rusland nie. Enige konflik het wel verreikende ekonomiese gevolge, maak nie regtig saak waar jy is nie. En Suid-Afrika is goed op pad na rommelstatus toe – sonder ‘n oorlog. Jy verwys na Scholtz se kennis en analitiese vermoens. Kan ek versoek dat julle voorstelle maak rondom hoe mense hulself ten beste teen so ‘n ekonomiese krises (dalk resessie) kan verskans?

Kaufman

Die probleem met NATO oftewel die Weste is dat hulle hulle toleransie vir die “bose” op almal wil afrduk. Hulle is kamma humanisties maar kyk watse geweld promofeer hulle via die media wat een van die belangrikste instellings is om jou kultuur af te dwing op ander. Kyk na al die kinderkanale, dit is heeltyd moord en doodslag! Misdadigers se menseregte word go die van slagoffers geldig. Dis dit nie skei healing nie? Verder wil hulle he ons moet hulle groot handelsmerke aanbid, ons ekonomiee oopmaak vir hulle dominerende firmas wat ons familiebesighede dooddruk. Dit is waarom sommiges vies raak… Lees meer »