Nuuskommentaar: Van Kubane tot spioene

Pres. Jacob Zuma en pres. Raúl Castro van Kuba in 2013 Foto: Departement van kommunikasie (GCIS)

Pres. Jacob Zuma en pres. Raúl Castro van Kuba in 2013 Foto: Departement van kommunikasie (GCIS)

Die wêreld is min of meer besig om vrede te maak met Kuba, een van die laaste formele kommunistiese lande ter wêreld. Die VSA beweeg in die rigting daarvan om betrekkinge met Kuba te normaliseer, hoewel die mate waartoe dit gebeur, afhang van ’n toutrekkery tussen pres. Barack Obama en die Republikeins-beheerde Kongres.

In Suid-Afrika word egter na Kuba uitgereik asof dit die groot in-ding in die wêreld is. Regeringslui laat dit klink of die invoer van Kubane die aller-oplossing bied vir al die land se probleme.

Kubaanse dokters en ingenieurs word asof “op bestelling” ingevoer. Soms het die praktyk ooreenkomste met mensehandel, maar die vernaamste beswaar is dat daar dikwels geïmpliseer word dat daar tekorte aan sulke mense in Suid-Afrika is – soms in velde waar paslik-opgeleide Suid-Afrikaners nie werk kan kry nie. AfriForum het immers in ’n japtrap bewys daar is genoeg Suid-Afrikaners met die regte opleiding in water-ingenieurswese wat die werk kan, en wil doen wat die Kubane op die salarisvlak van adjunk-direkteur in Suid-Afrika gaan kom doen.

“’n Onverbloemde wandaad” noem dr. Tienie Mynhardt, ’n Bloemfonteinse politieke ontleder, die proses in sy brief aan Volksblad.

Kuba gebruik sy eie mense inderdaad soos handelsware. In ruil vir spotgoedkoop olie uit Venezuela is Kubane ook as gesondheids- en ander werkers na afgeleë plekke gestuur waar die opgeleide Venezolane nie kans sien om te gaan werk nie.

Suid-Afrika betaal Kuba ook om arm Suid-Afrikaners in Kuba as mediese dokters op te lei.

Ook in Suid-Afrika was daar al ’n krisis deurdat van die Kubaans-opgeleide, asook plaaslike opgeleide dokters, verbete plasing vir hul gemeenskapsjaar in landelike gebiede teengestaan het. Die regering het selfs gedreig om hul registrasie as mediese dokters terug te trek.

Met die werwing van die Kubaanse wateringenieurs het die minister ’n verdere bisarre stelling gemaak. Die Kubane wat vir die werk gekeur is, is oor hul “politieke bewussyn” gekeur. Hulle is voorts aangemoedig om by die plaaslike politiek betrokke te raak – ’n versoek wat verdag baie soos aanmoediging tot kommunistiese imperialisme klink.

Die beheptheid met Kuba het onlangs weer geblyk toe die Vrystaatse premier ’n half koverte besoek met ’n reuse-afvaardiging aan Kuba gebring het. Minstens een munisipaliteit is nou kniediep in die rooi nadat die burgemeester genooi is om die besoek mee te maak, maar die munisipaliteit die erg opgeblase rekening self moes betaal. Met premier Ace Magashule se terugkeer het dit in die oortreffende trap geblyk hoe die invoer van Kubane as sy agtergeblewe provinsie, en eens modelrepubliek – se aller-oplossing beskou word. Een van die twee vernaamste regeringsgeboue gaan ook nou die Fidel Castro-gebou heet – vernoem na die man wat vir die ganse duur van sy bewind van byna 50 jaar die ontwikkeling van demokrasie en menseregte teengestaan het.

Suid-Afrika, wie se begroting nou nie juis vol oorskotte is nie, het selfs miljoene rande aan Kuba geskenk.

Deur Kuba se diktatoriale regering so te omhels word nie juis baie gerusstellende boodskappe na Suid-Afrikaners gestuur oor die regering hier se verbintenis tot menseregte en die basiese demokratiese regte soos meningsvryheid, waaronder mediavryheid nie. Die leier van die amptelike opposisie, Helen Zille, het juis die afgelope week in haar brief aan ondersteuners goed mond uitgespoel oor hoe die ANC besig is om van die privaat media in besit te neem.

Dié kwessie bied die opening na die impak op vrye meningsuiting deur die “glips” van die seinblokkeringstelsel in die parlement. Hieroor word nou al so lank bont en blou gepraat, dat niemand hulle meer aan die verduidelikings steur nie. Al wat seker is, is dat Suid-Afrika se spioenasiedienste daaragter sit.

En juis toe bars die “spy cable”-skandaal toe Al Jazeera geklassifiseerde dokumente uit Suid-Afrika se spioenasiedienste (en ook ’n paar ander lande s’n) publiseer. Plaaslik, so blyk dit uit die reaksie, is daar nou ’n heksejag na die bron van die lekkasie.

“Dit blyk dat Suid-Afrika se spioenasiedienste hulle ook besig hou met aktiwiteite wat ons lankal vermoed het hulle mee besig hou,” was die droë kommentaar van ’n spioenasiekenner.

Kan enigiets nog onthullend van aard wees na die bekendmaking van hoe die Amerikaanse NSA wêreldwyd selfs die privaat telefoongesprekke van vriendskaplike wêreldleiers meegeluister het? Van dié lande wou nog verontwaardig reageer, toe dit blyk dat hul eie spioenasiedienste min of meer dieselfde gedoen het, dikwels in samewerking met Amerikaanse agentskappe.

Dit is geen geheim nie dat die wêreld se spioenasiedienste onderling inligting uitruil nie. In Suid-Afrika is al buitelandse spioene vasgetrek danksy inligting wat van oorsee verskaf is. Hoewel dit ’n ope geheim is dat dit gebeur, word die praktyk om verstaanbare redes klandestien uitgevoer.

Daar is baie risiko’s aan verbonde. Die spioenasiediens van ’n vriendskaplike land kan sterk ondersteun word, en byvoorbeeld waardevolle inligting oor die bedrywighede van insurgente kan voorsien word. Maar dan werp die insurgente die bewind omver, en dié sensitiewe inligting beland in die verkeerde hande as dit nie betyds vernietig kan word nie. Of daardie land sluit ’n vredesooreenkoms met die insurgente, met uitvloeisel regeringsdeelname en insae in die spioenasiegeheime.

Daar is wette en spelreëls, maar die twee loop heel duidelik nie altyd saam nie. ’n Spioenasiediens kan nie ingespan word om wettige prosesse om die president te vervang, in die kiem te smoor nie. Dit kan nie gebruik word om die opposisie te rysmier nie. Dit is nie in diens van ’n politieke party nie. Dit is nie veronderstel om op demokraties-verkose verteenwoordigers te spioeneer nie, maar wat nou as herhaalde kontak tussen ’n politikus en bekende subversiewe persoon wat wel dopgehou word, daarop dui dat die politikus sy wettige politieke aktiwiteite as front gebruik om nié onder die vergrootglas te kom nie?

Is die spioenasiediens se eerste taak nie om die burgers teen bedreigings te probeer vrywaar nie?

Deur onderlinge warmbroeiery word daar in donker hoekies maklik ’n klimaat gekweek van paranoia – waar die grense bietjie-bietjie versit word, met onderlinge versekerings dat dit nodig is, tot dinge soos die “parlementêre “glipsie” gebeur.

Suid-Afrikaners verdien eenvoudig beter.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Illa Conradie ·

Klink vir my meer soos “Kom vreet hier by ons krip, hier is nog baie geld en kos.” En wie moet hulle bedank? Jan van Riebeeck en alles wat hy hier aan die gang kom sit het dalk? Laaste foto’s wat ek nog van Kuba gesien het, het daar nog motors uit die 1950’s rondgery. Weet nie of Kuba intussen darem tot in die huidige eeu gevorder het nie? Sou pateties komies gewees het as mens nie geweet het jy as belastingbetaler help daarvoor betaal nie.

Grassie ·

Ek weet nie waarom die ANC so behep is met Kuba nie. Kuba is ‘n onderontwikkelde, derdewêreldse kommunistiese land wat geen respek het vir menseregte of demokrasie nie, tog word hul sogenaamde “opgeleide” wateringeneurs en werktuigkundiges hier werk gegee ten spyte van goed opgeleide blanke vakmanne wat weens regstellende aksie werkloos is. Dan het die ANC die vermetelheid om blankes van rassisme te beskuldig!

Henrietta Klaasing ·

Nog steeds “pay back time” : om dankie te sê vir die hulp tydens die Grensoorlog. En om sout in die wonde van witmense te vryf.

Moeks ·

Wat my pla is dat die Kubane in poste by “sleutelplekke” geplaas word. Ons hospitale,weermag en ons water. En dan moet hulle nog by politiek betrokke raak. Hier is iets meer as wat ons besef aan die gang.

Cathy Kotze ·

Pres Nelson Mandela het Kuba en Fidel Castro reeds so vroeg soos 1991 besoek (voor hy president geword het) en hom gehuldig vir sy en sy land se groot bydrae tot Suid-Afrika se “bevryding.”
https://www.youtube.com/watch?v=0Abqg7iNab8

Fidel Castro was een van die gewildste eregaste by pres Mandela se inhuldiging.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.