Nuuskommentaar: Van Zille tot Zuma, dit woel in Gupta-Afrika

Spotprent deur Jerm op 16 Maart 2017.

Elke land het unieke kenmerke wat hom van ander lande onderskei. Soms is daar egter raakvlakke wat ook op sekere ooreenkomste dui, en waaruit lande met sulke ooreenkomste waardevolle lesse kan trek.

Die jongste woelinge om die kop van die Wes-Kaapse premier, Helen Zille, is simptomaties van ’n gevoeligheid oor sekere aspekte van die verlede – en soms sommer die hele verlede. So ook die periodieke gevalle van “beeldestorm” wat Suid-Afrika beleef, en dat deelnemers aan die #FeesMustFall-veldtog ook “gedekolonialiseerde” leerplanne eis.

Dié soort sentimente is nie heeltemal vreemd aan ander lande nie. In die VSA is daar ’n veldtog om van monumente en ander simbole uit die tyd van die suidelike konfederasie en Burgeroorlog ontslae te raak. Pas is vier konfederale monumente uit New Orleans verwyder, en die stad Baltimore het soortgelyke planne. Die konfederasie se steun, weliswaar gekwalifiseerd, aan slawerny word as hoofrede aangegee. Selfs die bekende uitgekapte gesigte van ’n aantal Amerikaanse presidente van die rotswand van Stone Mountain in Georgia moet verwyder word omdat van dié gewese presidente slawerny gesteun het, of nie daarteen gekant was nie.

Maar dit is nie hoe die meerderheid Amerikaners voel nie. Volgens ’n nuwe peiling deur die agentskap Rasmussen is 69 % van die Amerikaanse kiesers gekant teen die verwydering van dié simbole.

Dit sou interessant wees om te sien hoeveel steun Zille sou kry as sy en haar twiet oor kolonialisme regstreeks teen die partyleier, Mmusi Maimane, se onverbloemde argwaan teenoor haar gemeet word. Openbaar Maimane se optrede en lyftaal nie ʼn bietjie meer voete van klei as die reaksie van Zille nie? Uit kommentare op sosiale media is dit moeilik om steun af te lei, omdat Maimane formeel die DA en lojaliteit aan die DA agter hom het. Maar dis ook duidelik dat Zille baie steun en selfs simpatie geniet, en dit is nie net van “konserwatiewe wit kiesers” soos wat sommige kommentators op aanspraak maak nie.

Nog voordat GuptaLeaks Suid-Afrika getref het, was dit uit ’n peiling duidelik dat pres. Jacob Zuma nie meer die steun van die meerderheid Suid-Afrikaners geniet nie, maar ook dat die meerderheid ANC-ondersteuners die president nou die rug toekeer. Ook in sy geval het die tweespalt in sy party na die oppervlak geborrel. Veral die ANC in die Wes-Kaap gebruik die Zille-insident om die DA mee by te kom, en eis haar kop, uiteraard sonder om hoegenaamd daarop te wys dat Zuma weens veel erger kwessies eintlik al lankal die trekpas moes kry.

Die Zille-kwessie is kompleks omdat bitter baie (wit) Suid-Afrikaners tot voor die bom gebars het, salig onbewus was daarvan dat dit so ’n sensitiewe kwessie is. Toe Zuma met sy storie vorendag gekom het dat Jan van Riebeeck ’n skurk was, het dit enorme veroordelende reaksie uit wit geledere ontlok, veral omdat hy maar taamlik wild met historiese feite omgegaan het oor hoe idillies die pre-wit Suid-Afrika sou wees. Die lot van die KoiSan is onder meer verswyg. Van Riebeeck was verdiend of onverdiend bloot die simbool van kolonialisme wat in die kollektiewe geheue van baie mense ’n uiters negatiewe historiese perspektief oproep.

Zille op haar beurt, het in wese die “ander kant” van koloniale persepsies geopper. Dié persepsies is nie tot wit mense beperk nie, soos daaruit blyk dat dit ook in skoolhandboeke opgeneem is wat deur swart mense saamgestel is. Betreklik onlangs het ’n verteenwoordiger van Ethiopië in die Pan-Afrika-parlement haar land se ontwikkelingsagterstand teenoor sommige Afrikalande daaraan toegeskryf dat Ethiopië nooit gekoloniseer was nie. Histories was Ethiopië wel ’n rukkie lank onder Italiaanse beheer, en baie lank nadat die Italianers verjaag is, was die infrastruktuur wat die Italianers nagelaat het omtrent al infrastruktuur waaroor Ethiopië beskik het.

Hierdie soort misverstande oor die kleurgrens heen is nie heeltemal ongewoon nie. Hoeveel wit mense was byvoorbeeld voor die eerste “blackfacing”-voorval bewus daarvan dat dit ’n sensitiewe kwessie is? So sensitief dat onkunde nie die onvergeeflikheid daarvan kon versag nie?

Met die toenemende druk op Zuma (en danksy GuptaLeaks ’n uitkringende lys kornuite) namate die kwessie van staatskaping met of sonder ’n geregtelike ondersoek aan die kaak gestel word, is dit te wagte dat die ANC, en veral diegene wat nog hoop dat Zuma ’n reddingsboei suksesvol sal beetkry, enige swak plek in die DA genadeloos sal uitbuit. ’n Mens hoef maar net die Penny Sparrow-geval in herinnering te roep om te besef hoe herhaaldelik en hard die ANC op ’n enkele geval kan toesak.

Hoewel baie skrywers paranoia en neuroties wees as kenmerke van suksesvolle leierskap in ’n onseker omgewing beskryf, bly dit ’n kwesbare opsie in vergelyking met volwasse leierskap met deelnemende en gedelegeerde bestuur. Die DA moet versigtig wees dat die storm oor die kolonialisme-kwessie nie maar die kapstok word vir ernstiger foutlyne wat met die opvolgkwessie binne die party ontstaan het nie.

Hoe groter die verskille tussen die Zille- en Zumagevalle kan wees, hoe beter is dit vir die land.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

32 Kommentare

jongste oudste gewildste
Jacques Venter

Hallo Herman Toerien
Soos jy gesê het verstaan baie blankes nie die sentimente van swart mense nie. Min weet dat kolonialisme vir hulle n vloekwoord is
Helen Zille met haar strugle agtergrond, behoort dit duidelik te verstaan het.
Sy was dus bloot moedswillig en het probeer aandag trek. Haar vergrote ego verhoed haar om te bedank al kos dit die party steun

marous

Dis is vir sommige van ons skreeu snaaks dat die linkses so een vir een in die sop beland , oor hul rassistiese uitlatings.

John

Is dit sensitiewe kwessies of gerieflike weerligafleiers?

Gert

Is dit net ek of buig daardie sneller vinger verkeerde kant toe??
Dui dit aan dat dit nie sosiale media is wat die sneller trek nie maar iemand anders??

Leon van Rensbueg

Hallo Herman, glo dat dit goedgaan.
Ek kan verkeerd wees, ek het altyd dit gedink dit was in Mount Rushmore uitgebeitel. Laat weet asseblief dat ek my geskiedenis kan opknap, soos ek noem ek was onder die indruk?
Mooi dag verder
Groete, Leon