Nuuskommentaar: Wie het vryheid, vrede en versoening voor verkiesing gesteel?

"Die media bestaan lank nie meer net uit die beheerbare SAUK en die minder beheerbare gedrukte media nie. Tegnologie maak potensieel van elke lid van die publiek ‘n 'joernalis'."

“Die media bestaan lank nie meer net uit die beheerbare SAUK en die minder beheerbare gedrukte media nie. Tegnologie maak potensieel van elke lid van die publiek ‘n ‘joernalis’.”

Bykans net ‘n week voor die land weer stembus toe opruk, ontleed die een ontleder en instansie na die ander die ANC se aansprake dat die land nou ‘n veel beter plek is as twintig jaar gelede…

Die gevolgtrekkings gee gewoonlik ‘n balansstaat af wat die huidige positiewe teen die negatiewe afspeel, en die slotsom is gewoonlik dat die land in sekere opsigte inderdaad beter daaraan toe is, veral vir sommige armes wat nou toelaes kry. Maar ook dat baie van hierdie aansprake van beterskap met halfgebakte argumente en verdraaide feite, of selfs blatante leuens opgedis word.

Die rooi kant van die balansstaat dui volgens verskeie waarnemers op ‘n netto-verlies. Die werkloosheidskoers, die respek vir die grondwet en grondwetlike instellings, die vlakke van misdaad en in die besonder van korrupsie, staatsinmenging waar die staat nie tuis hoort nie, die rassetamboer wat kliphard gemoker word en tot onverbloemde diskriminerende rassewetgewing lei. Al meer word die term, diktatuur van die meerderheid, gebruik.

Om enkeles te noem.

En dan is daar nog minderheidsregte wat dikwels blatant deur ‘n wantoepassing van transformasie eenvoudig platgeloop word, al gee die grondwet nomineel erkenning van minderheidsregte soos vervat in die internasionale reg.

Soms is dit maar die klein vissies wat die demokrasie verteer. Soos die lid van Zuma se BBB-eenheid wat ‘n foto van ‘n joernalis se selfoon, wat hy met geweld afgeneem het, verwyder het. Die joernalis se “sonde” was om ‘n foto van ‘n staatsvoertuig te neem wat ANC-verkiesingshemde na ‘n saamtrek gebring het waar Zuma opgetree het. (Klik hier om meer te lees.)

Die lys klagtes van die ANC wat staatshulpbronne inspan om die verkiesing te steel is al ellelank.

Die SAUK is kort-kort onder skoot, hetsy vir wat uitgesaai word, of wat nie uitgesaai word nie.

Solidariteit se navorsingsinstituut het ‘n verslag vrygestel wat toon hoe regeringsinmenging in die lewens van Suid-Afrikaners hul vryheid belemmer.

Hoewel dit gister Vryheidsdag was, het die aandag ook sterk op versoening, of die gebrek daarvan geval. Dit het as tema in verskeie berigte en artikels ter sprake gekom, onder meer in ‘n onderhoud met die oud-Springbokkaptein en minister, dr. Dawie de Villiers. Daar is wye konsensus dat versoening in die land die kreeftegang gaan, en verskeie ontleders skryf dit daaraan toe dat die regering die rassetamboer al hoe harder moker namate die verkiesing nader kom.

In verskeie ontledings word tot die slotsom gekom dat Zuma self, of soos hy self aangedui het, meneer die president, self die hoofoorsaak is dat die balansstaat na die rooi neig. Nie alleen is die president besig om deur eie woorde en dade gereeld die slopingswerk te verrig nie, maar sy geneigdheid om te swyg wanneer iemand wat die verhoog met hom deel in sy teenwoordigheid erge slopingswerk verrig, word tyot sy debiete gereken.

Die kollektiewe mediapoging vandag maak dit doodeenvoudig onmoontlik om nog die “luukse” te veroorloof om vir elke gehoor te vertel wat die gehoor wil hoor, veral as die groot kokkedore so op mediadekking aandring. Maar die media bestaan lank nie meer net uit die beheerbare SAUK en die minder beheerbare gedrukte media nie. Tegnologie maak potensieel van elke lid van die publiek ‘n “joernalis”. Met sy selfoon kan hy foto’s neem en selfs video-opnames maak, hy kan sy boodskap net daar en dan op sy selfoon plaas, en dit na veral die sosiale media kanaliseer waar dit duisende trefslae kan kry. Die konvensionele media kan dit daar raakloop, en kort voor lank maak iets wat vir ‘n bepaalde gehoor se ore bedoel is, opslae onder diegene vir wie se ore dit nie bedoel is nie.

Ook onder potensiële buitelandse beleggers.

Dit is verkiesingstyd, en dit laat ongelukkig ook die slegste eienskappe in sommige mense na vore kom.

Hoewel sommige waarnemers meen dat verkiesingskoors onder die publiek heers, en dat dit selfs die ergste verkiesingskoors is wat in verskeie verkiesings ervaar word, meen ander waarnemers dat daar ‘n ongekende vlak van apatie en belangeloosheid in die verkiesing is. Hierdie waarneming van belangeloosheid is ook nie uit die lug gegryp nie. ‘n Ontleding van lesersterugvoer oor ‘n wye spektrum van sosiale media toon dat daar heelwat minder reaksie is, en soms selfs byna geen reaksie is nie, terwyl kwessies soos die Oscar Pistorius-verhoor, en Suid-Afrikaanse spanne se algemene geploeter in die Super 15, veel meer aandag trek. Van die verwagting dat dit sal “optel” namate die verkiesing nader kom, et ook nog nie vreeslik baie gekom nie.

Soms lyk dit inderdaad of die “demokrasie” hom buite-om die verkiesing afspeel, soos die gewelddadige diensleweringsbetogings.

By voorbaat lyk dit of die land na hierdie verkiesing deur ‘n ongekende na-verkiesingsdepressie geslaan gaan word.

Sekere politieke verskuiwings maak hierdie verkiesing tog uniek. Verskeie waarnemers bespiegel oor hoe die DA se teikengroepverskuiwing sy tradisionele steun gaan raak. In werklikheid is daar wêreldwyd ‘n tendens om méér van kiesers te verwag – in plaas van ‘n blindelinge gewoontestem, ‘n aanspraak op kiesers om te besin dat dit waarvoor hulle stem, inderdaad is wat hulle wil hê. Plaaslik en in die buiteland is daar op die internet, dikwels by koerante soos Die Burger en De Standaard, nou elektroniese vraelyste waar lesers nie vir partye “stem” nie, maar bepaalde beleidsaspekte. By voltooiing van die vraelys verwerk die blikbrein die data om te bepaal watter party se beleid die naaste ooreenstem met die beleids- en beginselkeuses wat die leser uitgeoefen het. Dit sal interessant wees om te weet hoeveel van die deelnemers om so by die party uit vir wie hulle wil stem.

Op die keper beskou, as die stemkeuses ontaard bloot in ‘n instinktiewe stem vir of teen die ANC, ongeag of die stemkeuse enigsins beleidsvoorkeur verteenwoordig, is die demokrasie van sy diepste wese gestroop. Niemand kry dan wat hulle eintlik wou gehad het nie. En wie is dan vry?

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae