Nuuskommentaar: Woer-woer met “reg om te werk” en “reg om te staak”

jacob-zumaʼn Mens kan maar net hoop die gerugte wat nou in omloop is, soos dat Pravin Gordhan binnekort gearresteer en daarna afgedank gaan word, is nie waar nie. Nogtans is stappe aangekondig wat pres. Jacob Zuma se rol in die ekonomie sterker kan maak, al is dit net om vir oulaas vir hom en sy familie te kan sorg. Met die graderingsagentskappe wat veral sekere sake, soos die SAL, onder oog hou, word die geveg om rommelstatus te voorkom, al hoe moeiliker.

Na berig word moet die minister van finansies, Pravin Gordhan, asook verskeie senior lede van die Inkomstediens, Donderdag waarskuwingsverklarings by die Valke aflê. So ʼn stap word gewoonlik deur ʼn arrestasie gevolg. Hoewel die Valke niks oor die saak wou sê nie, is dit al ʼn geruime tyd bekend sake tussen die minister en die Valke haper en op die oog af, lyk dit asof die Valke hul mes vir Gordhan in het.

Die formele rede vir die ongelukkigheid hou verband met ʼn soort spioenasiestelsel wat die Inkomstediens ingestel het en wat skynbaar te na aan van die land se politieke begunstigdes begin krap het oor belastingontduiking.

Volgens berigte weier Gordhan om verdere staatswaarborge aan die SAL toe te staan, wat tegnies so bankrot is dat sekere ekonome sê die regering moet die SAL aan die privaatsektor “weggee” om daarvan ontslae te raak. Die SAL se probleme is grootliks die gevolg van ʼn gebrek aan goeie bestuur en kundigheid. Dit deug nie in ʼn mededingende omgewing nie. Die vernaamste probleem is glo die voorsitter, ʼn vriendin van Zuma. Die berigte oor die aard van hierdie vriendskap is nie altyd ewe vleiend nie en die woord “nyatsi” is al in die media ingespan.

Terselfdertyd is aangekondig Zuma sal nou ʼn nuwe liggaam lei wat kollektiewe besluite oor die staat se semi-staatsinstellings sal neem. Opposisiepartye ruik lont en die Vryheidsfront Plus meen dit kan ʼn poging van Zuma wees om hom en sy familie te versorg voordat sy huidige termyn verstryk. Dit is ook ʼn skop in die tande vir adj.-pres. Cyril Ramaphosa, wat aan die hoof van ʼn soortgelyke instelling staan.

Die volgende stertjie is dat die graderingsagentskappe, wat binnekort weer besoek aan Suid-Afrika bring, staatsinstellings en in die besonder die SAL en Denel, uitgesonder het as instellings waaroor hulle groot kommer het. Soos sake nou staan, staan Suid-Afrika op die randjie van rommelstatus en dit is baie sinies om Zuma nou so ʼn koker vol ammunisie te gee.

Hoeveel verliese aan werksgeleenthede en dalings in lewenstandaard sal die gevolg wees as Suid-Afrika wel rommelstatus verwerf? En hoe waarskynlik is dit met voortdurende gerugte dat Zuma minstens twee ministers, Blade Nzimande en Gordhan, in die pad gaan steek. Nzimande (waarskynlik geen verlies nie, behalwe as ʼn eier in sy plek aangestel word en daarmee is Zuma juis behendig) maar as Gordhan afgedank word, sal die Nene-gevolge waarskynlik soos beginnersake lyk. ʼn Arrestasie sal Zuma die “verskoning” bied om Gordhan te pos, maar die sake-wêreld is te goed ingelig oor wat agter die skerms aangaan, vir hom om daarmee weg te kom.

Die hele kwessie staan boonop teen die agtergrond van Zuma se uitspraak betreklik onlangs dat die ANC streef na ʼn sosialisties-kommunistiese staat. Dit mag een van sy gebruiklike los opmerkings gewees het, maar dit betaam ʼn president nie.

Die ANC het pas gevoelige verkiesingsverliese gely en dit lyk op die oog af asof die Zuma-kamp steeds soveel mag het, dat die ANC se grootste probleem as die hoofoplossing aangebied word.

Suid-Afrika is een van daardie lande waar die reg om te staak ʼn grondwetlike reg is, maar die reg om te werk nie dieselfde status het nie. Dit “verlam” weer ander regte, soos die reg om ʼn werk van jou keuse te doen, kinders se reg op ouerlike versorging en vele meer.

Presies hoeveel Suid-Afrika die beginsel van reg om te werk en ander regte, soos ʼn sonsondergang vir “regstellende aksie” en kwotas verslons, blyk uit ʼn verdrag wat die land geteken en geratifiseer het. Aan die begin van verlede jaar reik die FW de Klerkstigting ʼn verklaring uit oor ʼn internasionale konvensie wat Suid-Afrika gedurende die presidentskap van Nelson Mandela geteken, maar eers twintig jaar later geratifiseer het. Met die ondertekening van die Konvensie oor Burgerlike, Maatskaplike en Kulturele Regte, het die regering hom self tot die reg om te werk verbind.

Maar deur die ondertekening het die regering hom ook tot ʼn sonsondergangklousule vir sogenaamde regstellende aksie en ʼn verbod op die instelling van nasionale kwotas verbind.

Die ratifisering van hierdie internasionale konvensie is in Suid-Afrika min of meer deur die media geïgnoreer en dit lyk asof dit met goeie rede was. Dit is op die oog af ook deur die regering self geïgnoreer, of selfs dalk nog stil-stil in die snippermandjie gegooi.

Dit is moeilik om tot enige ander gevolgtrekking te kom nadat Solidariteit onlangs die Suid-Afrikaanse regering by die VN se Komitee vir die Uitwissing van alle vorme van Rassisme verkla het. Daar het die regering inderdaad lomp vir sy beleid, wat op die oog af in stryd is met die konvensie wat dit geteken het, in die bresse getree. Die regeringsafvaardiging het erg deurgeloop, maar die uiteinde moet nou geduldig afgewag word.

Intussen bly die reg op werk ʼn netelige kwessie. Met al hoe meer betogings maak die aanspraak op die reg op werk ʼn belangrike deel daarvan uit. Dit neem verskillende vorme aan, soos beskuldigings dat myne glo mense van elders invoer om daar te werk.

Die Amerikaanse peilingsagentskap, Rasmussen, het pas ʼn peiling gedoen oor arbeidskwessies, soos of vakbonde hulle te veel met politiek inmeng. Die peiling toon ook dat die inwoners van deelstate, wat die reg op werk in hul wetgewing opgeneem het, meer positief hieroor voel as diegene uit state wat dit nie gedoen het nie. Dit lyk nie asof die publiek so ʼn probleem met die beginsel het nie, maar hulle voel sommige maatreëls om daaraan beslag te gee, is sleg vir die ekonomieë van hul deelstate.

In Suid-Afrika kan aanvaar word die versugting na ʼn stelsel van reg om te werk, sal lynreg bots met die styl van onverantwoordelike vakbonde om bloed uit ʼn klip te tap en daardeur nie net die groei in volhoubare werksgeleenthede beperk nie, maar ook tot ʼn vermindering in werksgeleenthede lei.

Oor die implementering van die konvensie skryf hierdie nuuskommentaarskrywer destyds: “Die ratifikasie gaan waarskynlik nie die papier werd wees waarop dit geskryf is nie.”

Na meer as ʼn jaar en ʼn half, lyk dit inderdaad asof die regering so spyt is dat hy die verdrag gaan ratifiseer het, soos Ouboet se weergawe van ʼn baber se spyt oor die sparkplug wat hy ingesluk het.

En met Zuma wat nou sy posisie versterk om nog meer skade aan die ekonomie aan te rig, is die gedagte dat die ANC se verkiesingskonferensie om nuwe leiers te kies, vervroeg moet word, nie verrassend nie. Met die ANC weet ʼn mens egter nie of so ʼn verkiesing ʼn nog groter gemors gaan veroorsaak en Zuma, weliswaar in ʼn ander hoedanigheid, nog sterker daaruit gaan tree nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Belastingbetaler

Nou tyd vir belasting staking deur ons belastingbetalers as dit wettig is?

Jan maak n plan

Weereens n baie goeie rubriek Herman. Eerstens die regte term vir n sogenaamde sosalistiese-komunistiese staat is n diktatorskap. Tweedens dink ek die eintlikke rede hoekom Zuma nou vinnig van Gordhan wil ontslae raak is dat hy behalwe die SAL debakel ook nie die saak ondersteun om die studente verder te befonds nie. Ek hoop die ANC skrik vinnig wakker en raak van Zuma ontslae en dan kan hulle sommer n hekse jag op sy doen en late ook los laat.

Frans C

Al wat die gebeure vir my sê is dat Suid Afrika nog net ‘n Afrikastaat is. Google gerus
‘SA finally African,all thanks to Zuma’waarin ‘n swart joernalis tot die slotsom gekom het.

Dalk kan Maroela die berig hier plaas want dit is tog belangrik om te weet hoe swart mense
oor dit voel.

Koos1

Die een op die foto lag altyd want hy weet hy niemand kan hom iets maak nie…….. behalwe die kiesers van die land. Die ANC gaan hom niks maak nie want die besluitnemers is deur hom met die hand gekies. Kom ons hoop hulle staan nog by hom en sy aliansie in die ANC, want hoe langer dit aanhou hoe groter word die verdeeldheid in die ANC/SAKP en COSATO vernootskap. As die vernootskap vou, is die ANC geskiedenis (soos Jan van Riebeeck!).

Kobus

Volgens FEDUSA is die nuwe liggaam en Zuma se aanstelling om dit te lei teen die wet. Hy mag hom nie daarmee bemoei nie. FEDUSA het dus nou opdragte aan Gordhan gegee waarvolgens hy moet optree. So hier kom nog gevegte.