Nuuskommentaar: Word Caster-glorie ’n tragedie?

Caster Semenya Foto: Google Olympics

Caster Semenya Foto: Google Olympics

Caster Semenya het vir Suid-Afrika goue glorie by die Olimpiese Spele gebring. Veel gewag word gemaak oor die vrou wat uit erge armoede kon uitstyg en haar land met trots verteenwoordig. Dat die arbitrasiehof vir sport in Junie verlede jaar die IAAF gelas het om te toon dat hoë testosteroonvlakke by vroue-atlete aan hulle ’n voorsprong bo ander vroueatlete gee, is nie nou gewilde leesstof nie, en die IAAF-president, Sebastian Cole, word gestriem omdat hy die kwessie – ook onder groot druk van ander vroueatlete – wil laat opklaar. Suid-Afrika moet Caster in die moeilike tyd wat voorlê, ondersteun, maar die styl waarvolgens dit gedoen word, moenie vir die wêreld die indruk van ’n middelvinger vir reg en geregtigheid gee nie.

Terwyl Suid-Afrikaners, ook aangevoer deur die media en die politici, baai in die glorie van Caster Semenya se goue medalje in die Olimpiese Spele se 800 m vir vroue, pak wolke saam wat geen pratery gaan wegpraat nie.

Uit respek vir Caster se privaatheid word min in Suid-Afrika berig oor die mediese redes wat haar deelname en prestasies in soveel kontroversie plaas. Danksy die gemak waarmee oorsese mediaberigte via die internet hier gelees kan word, en per e-pos en die sosiale media hier versprei kan word, is die mees intieme aspek van haar biologiese samestelling egter nie meer ’n geheim nie.

Nog voor die wedloop het Guy Walters in die Daily Mail omvattend geskryf hieroor. Aan die wortel van die probleem is dat Caster se manlike hormoonvlak, waaronder testosteroon, weens ’n toestand bekend as “interseks”, ongeveer drie keer so hoog is as by vroue, en byna net so hoog as by mans.

The Guardian (na afloop van die wedloop) berig ook oor wat nou voorlê. In 2011 het die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) juis in reaksie op Caster se prestasies, regulasies uitgevaardig wat vroue met te hoë vlakke van testosteroon gedwing het om middels te gebruik om dié vlakke na normaal af te bring. Caster het hierby ingeval, en haar prestasies het verswak. ’n Indiese naelloopster in dieselfde posisie as Caster, Dutee Chand, het met die bystand van haar regering die arbitrasiehof vir sport genader. Die IAAF se reëls is in die uitspraak van Junie verlede jaar geskrap omdat daar nie genoeg bewyse was dat testosteroon aan vroueatlete ’n voorsprong bo ander vroue gee nie. Caster het na berig word opgehou om die middels te gebruik en haar prestasies het begin verbeter.

Sebastian Coe, president van die IAAF, het vroeg gedurende die huidige Olimpiese Spele aangedui dat dié liggaam teen daardie bevinding gaan appelleer. Hy is uit talle oorde, veral uit Suid-Afrika, verguis hieroor. Wat sy kritici egter verswyg, is dat die arbitrasiehof die IAAF gelas het om binne twee jaar met die bewyse vir onregmatige bevoordeling na vore te kom.

Intussen kon die atleet wat die hele proses aan die gang gesit het, Chand, self nie hond haaraf in die naellope maak nie, en het nog voor die eindronde uitgeval. Die IAAF se kommer is egter meer op die middel- en langafstande gefokus.

Kortom, ongeag hoe Caster se glorie in Suid-Afrika besing word, en hoe haar persoonlike en menseregte beskerm word, daar was reeds ’n regsproses aan die loop wat die triomf in ’n tragedie kan verander.

Teen vanoggend was daar bykans 100 000 trefslae op Google oor Caster en “intersex”, meestal in buitelandse koerante, en om nie kennis hiervan te neem nie is om volstruispolitiek te speel. Anders as die twee artikels vroeër in hierdie nuuskommentaar vermeld, ontbreek die sensitiwiteit vir Caster as persoon in ’n groot deel van die stortvloed nuwe berigte. Heelwat aandag word gegee aan ontevredenheid in die geledere van vroue-atletiek oor die “onregverdige” voorsprong wat Caster sou hê.

Vele morele vrae duik ook op. Sou die huidige posisie gehandhaaf word; wat verhinder ander vroueatlete om hul testosteroonvlakke met hulpmiddels so hoog soos Caster s’n op te jaag? Dit word tans streng verbied.

Daar is ook reeds vrae oor die feit dat die eerste drie vroue in Caster se wedloop almal uit Afrika kom. Atlete wat nié onder die eerste drie gekom het nie, word byvoorbeeld reeds deur ander atlete met onder meer hul “derde” en “tweede” plekke gelukgewens. Die IAAF kan nie die onvrede wat Caster se oorwinning veroorsaak het, ignoreer nie.

Die meer simpatieke berigte maak heelwat gewag daarvan dat Caster so gebore is, en self niks gedoen het om dit in die hand te werk nie. Daar word op gewys dat Caster ná bitter beproewing en die mees intieme ingrepe op haar privaatheid, nou rustigheid in haar persoonlike lewe ervaar en ook rustigheid in haar huwelik met ’n vrou het.

Tog moet Suid-Afrika daarteen waak, veral weens die regering se rol hierin, dat die eendragtige laertrekkery agter Caster, en die uitdagende houding teen die IAAF, nie as ’n middelvinger vir regverdigheid en sportmangees ervaar word nie.

Daar word steeds in rubrieke met kommer verwys en in besprekingsprogramme gewys op die “skeut van rassisme” wat uit Wayde van Niekerk se goue medalje en nuwe wêreldrekord gespruit het. Dit het skynbaar veral betrekking op mense van die Kaapse Vlakte wat Wayde as een van hul mense en ’n rolmodel opneem. Die teenvraag aan die kritici hiervan is of die regering dan nie gereeld breëbors spog oor die prestasies van swart sportlui nie, en dan boonop in die proses bruin mense by hierdie swart uitsluit?

En was die regeringspolitici se reaksie op Wayde se weergalose prestasie nie tot dusver maar louerig in vergelyking met die vreugdevure wat vir Caster aangesteek is nie?

Dit is so jammer dat daar reeds ’n wolkie oor die vreugdevure van ’n persoon wat uit uiters arm omstandighede kon uitstyg en presteer, getrek het. Dit gaan deernis en goeie balans kos om die komende regsproses in almal, ook die land, se beste belang te bestuur.

In die jongste verlede is al verskeie kere gesien dat die ANC-regering sy vrypas tot die wêreld se liefling verslons het en eintlik onder pres. Jacob Zuma se leiding dikwels internasionaal bespotlik staan. Caster verdien nie om deur ’n gediskrediteerde regering lomp misbruik te word nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

94 Kommentare

jongste oudste gewildste
Columbiana

Herman Toerien jammer maar die wêreld verdien die middel vinger in hierdie geval. Caster is inderdaad so geskape en sy het niks gedoen om haarself te bevoordeel nie. Ek verstaan nie wat jy regtig met die artikel wil se nie? Moet ons dan nou nie laer trek om een van ons eie nie. Asseblief die vrouens wat deel geneem het kan gaan kers opsteek by Semenya oor sportsmanship. Sy het haarself met waardigheid en ware sportsmanship gedra en dieselfde kan defnitief nie gese word van haar mede atlete. Veral daai een wat so gegrens omdat sy 6de gekom het praat… Lees meer »

Bloues

Columbiana. Die hele sage rondom Caster is baie uiteenlopend. Dit is egter so dat oor die algemeen mans, weens redes, sterker is as vrouens. Daarom is daar aparte items vir elk. Sou n vrou bevoordeel word deur vlakke van manlike hormoon, is dit mos nie reg dat sy teen vrouens deelneem nie. Jip jys reg dit is nie haar skuld nie, dit bly egter onregverdig. Dit is hoe ek dit sien.

Kobus

100 % Herman. Dat dit ongelukkig die realiteit is, soos jy dit beskryf het, is so, ook dat die aangeleentheid omsigtig en met empatie hanteer moet word. As dit nie aandag kry nie, gaan ander deelnemers voel hulle moet iets aan hul eie testosteroon vlakke doen om kompiterend te wees. Die speelveld moet gelyk wees. Die regering gaan verseker die IAAF die vark in die verhaal maak en dit gaan nie Caster help nie.

SkarrelKind

DewaldS, ek stem saam met jou. Ek is baie trots op Caster, en ek verstaan sy is so geskape maar as dit haar ‘n reuse voorsprong gee (soos dit wel ongelukkig lyk want sy wen ‘n 800m sonder inspanning), dan is dit mos nou totaal onregeverdig teenoor ander dames. Ek hoop die wetenskaplikes kom vorendag met ‘n regevrdige toets/formule om dit te bepaal.

Bloues

Dankie Herman vir n goeie artikel. Soos gewoontlik baie puik.