Nuuskommentaar: Wortels van aanval op Kenia-winkelsentrum lê baie diep

BUsVI7vCAAIEfr2Hoewel die Al-Shabaab-aanval op die luukse Westgate-winkelsentrum in Nairobi, Kenia, ten nouste verbind word – ook volgens die aansprake van Al Shabaab selfs via Twitter, aan Kenia se inval in 2011 teen Al Shabaab in Somalië – lê die wortels veel dieper.

In die koloniale tydperk is die etniese, en dikwels nomadiese Somaliërs deur verskeie koloniale politieke grense verdeel. Hoewel die Somalies ‘n taal deel wat onder meer in Somalië en Djiboeti die amptelike taal is, is die stamme in baie opsigte ook heterogeen, maar wat hoofsaaklik tot die Soefti (Soefi /Sufti)-vertakking van die Islam behoort. Die Soefti, anders as die Salafiste (eintlik neo-Salafiste wat Al Kaïda kenmerk) word in die moderne era as die meer gematigde beskou.

Die vernaamstes gebiede wat deur Somalies bewoon is, was Brits- en Italiaans-Somalieland wat later die staat Somalië sou vorm, die Franse Gebied van die Affars en Issas wat Djiboeti geword het, die Ogaden in Ethiopië, en die Northern Frontier District wat nou deel van Kenia uitmaak.

Voor onafhanklikheid het Brittanje nie net onderneem dat Brits-Somalië deel van Somalië kon word nie, maar ook die Northern Frontier District, ook bekend as die North Eastern Terrotories, wat afsonderlik van Kenia geadministreer was. Wat laasgenoemde betref, het die Britte egter nie woord gehou nie, en dié gebied het as deel van Kenia onafhanklik geword. Die Somaliese bevolking in hierdie gebied het byna dadelik die spit afgebyt. Ander stamme het byna dadelik op hul grond toegesak, wreedhede is gepleeg en ‘n “burgeroorlog”, bekend as die Shifta (Skurke)-oorlog (1963–1967) het uitgebreek.

Die Shiftas is verslaan, en die Somalies wat nié na Somalië uitgewyk het nie, het vergelding en diskriminasie bly ervaar.

Die Somalies sou in Afrika waarskynlik die sterkste eksponent van irridentisme verteenwoordig – dit is die drang om almal wat tot dieselfde volk behoort maar wie se gebied deur politieke grense versnipper is, onder een politiek-geografiese entiteit te verenig. Benewens die Shifta-oorlog, het Somalië, destyds onder die bewind van die diktator Siad Barre Ethiopië se Ogaden binnegeval.

Berre het die tydsberekening vir sy aanval egter swak gekies. Barre was ‘n groot Russiese bondgenoot, maar na die Marxis, Haile Mengistu Mirriam ‘n kommunistiese diktatuur in Ethiopië gestig het, het die USSR sy verbintenis van Mogadishu na Addis Abeba verskuif. Uiteindelik kon Ethiopië, gerugsteun deur duisende Kubaanse soldate en Russiese adviseurs die  Somaliese magte terugdryf. Kort hierna, in 1991, is Barre afgesit, en die land het in chaos verval met krygshere wat elk in hul gebied die botoon gevoer het.

Hierdie chaos het die ruimte gelaat vir die radikale Islam om wortel te skiet. ‘n Radikale Moslem-groep, bekend as die Islamitiese Regbank, het vanuit Mogadishu ‘n soort sentrale regering probeer instel. Dié beweging het nie werklik gehou nie, maar sy jeugbeweging, Al Shabaab (wat “die jonges” beteken), het wel ‘n sterk mag geword.

Al Shabaab het aanklank by die Whabitiese-vertakking van die Islam gevind wat weer sterk met onder meer Saoedi-Arabië met sy streng Sharia-wette verbind word. Dit het na die aanverwante neo-Salafisme verskuif, wat nie net in die gebiede wat dit beheer het die Sharia streng toepas nie, maar ook, soos in Mali onder baie soortgelyke omstandighede, Soefti-heiligdomme verwoes. Hiermee het Al Shabaab na berig word ‘n kloof tussen homself  en die bevolking begin oopdwing. Al Shabaab het egter eers formeel in Februarie 2012 met Al Kaïda ‘n verbintenis gesluit, maar die ideologiese ineenstrengeling gaan verder terug.

Al Shabaab het veral in die suide en die sentrale dele van die land baie steun geniet, en dus ook onder Somalies wat steeds gevoel het hulle is van hul belange in die teenswoordige Kenia beroof. Gou het dit gelyk of die Somali-gerugsteunde Shifta-oorlog dalk kon herleef. Kenisa het Somalië ingeval en Al Shabaab regstreeks die stryd aangesê,

Die eerste Al Shabaab-optredes in Kenia wat die wêreldmedia se aandag getrek het, was egter nie so seer teen Kenia nie, maar teen die VSA en Israel gemik. Troouens, in hierdie stadium word ook nog berig dat die aanval in Nairobi die werk is van die Al Shabaab-vertakking wat ook uit baie buitelanders besaan en die stryd wil internasionaliseer, eerder as diegene wat op Somalië self wil fokus.

Al Shabaab het weer nuwe lewe gekry toe die gehate Ethiopië se magte deel van die VN-gerugsteunde Afrika-intervensiemag uitgemaak het. Tydens die wêreldbeker-sokkertoernooi in Suid-Afrika het ‘n Al Shabaab-bomaanval op ‘n hotel in Oeganda talle lewens geëis.

Hoewel baie van dit wat nou gebeur, teruggevoer kan word na die irridentisme van die Somalies, is die ironie dat die staat steeds baie uitmekaar geval bly. ‘n Onafhanklike staat – hoewel nie deur die wêreld erken nie, Somaliland, bestaan al meer as ‘n dekade aan die Rooi See. Die gebied, hoewel ook periodiek deur opstandige stamme geteister, is betreklik stabiel en het al meer as een termyn parlementêre en presidentsverkiesings gehou. Soos sake nou staan, stel Somaliland nie belang om eendag weer deel van Somalië te wees nie, soos wat die wêreld opeis. Naasliggend is die outonome gebied, Punt, wat wel as outonome gebied deel van Somalië wil wees, en ook betreklik stabiel is in teenstelling met die gebied wat die wêreld as Somalië erken.

In Somalië beheer Al Shabaab steeds groot dele van die land, veral in die binneland. Sy vernaamste steun kom blykbaar van Eritrea, wat ‘n groot onlekkerte met Ethiopië deel. Al Shabaab se rug is nog lank nie gebreek nie, soos die aanval op die VN-kwartiere in Mogadishu getuig wat ook die lewens van Suid-Afrikaners geëis het.

‘n Belangrike les van die jongste gebeure is dat politici nie iewers strepe in die sand moet trek wat uit voeling met werklikhede is nie, en wat dan ‘n blywende krisis inbou nie. Maar die opkoms van die neo-Salafisme is nie net vir die Weste en Christengemeenskappe in Moslemlande ‘n probleem nie (die naweek het ongeveer 80 Christene in Pakistan gesterf toe ‘n bom by ‘n kerk afgegaan het), maar ook vir gematigde Moslems wat hulle nie met dié, soos hulle dit beskou, verwringing van die Islam kan identifiseer nie.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

ND Geldenhuys ·

Ek bly nou al amper 20 jaar in die verre en wye Texas, waar deel van my lewenstaak die kerstening van Islam is. Sommige van die mense wat in die aanval in Pakistan gesterf het is persoonlike kennisse. Hierdie artikel was baie insiggewend, maar my kommentaar gaan nie daaroor nie. Dit gaan oor die lekker en die “huh?” van Afrikaans! Twee duime in die lug vir “groot onlekkerte met Ethiopië deel” en twee afduime vir Oeganda. Oeganda? Saam met diktatuur in een artikel. Hoekom dan nie Uganda nie, of diktatorskap?

… laat my gedagtes teruggaan na uitdrukkings soos “promosie-relegasie” in die Currie-beker stryd. En “Sowjet ekspansionisme” uit die monde van Riaan Cruywagen en Lillian Van Houten. Eina!

Nico Kruger ·

Dit lyk my die oorsaak van die probleem in Somalië is maar dieselfde as in alle ander Afrika lande waar daar burgeroorlog is. Dit is natuurlik kolonialisme. (En een keer is dit die waarheid.) Dit is naamlik die koloniale grense wat getrek is. Maar die ironie is dat Afrika self weier om hierdie nalatenskap te verander. Hulle sal veg om die grense te behou. (Ek hoor Katanga wil ook weer in opstand kom vir onafhankilkheid. Die sentrale regering in Kinshasa sal dit beslis nie sonder ‘n oorlog aanvaar nie.) En natuurlik is die res van die wêreld ook maar bang om nuwe state te erken. Dit kan baie ander lande (soos Rusland) se minderheidsgroepe tot opstand dwing. En kan bv. nie verstaan dat niemand Somaliland wil erken nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.