Nuuskommentaar: Zuma-wantrouemosie nie tot eer van ANC

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

President Jacob Zuma reageer op 18 Februarie 2016 op die debat ná sy staatsrede Foto: @PresidencyZA, Twitter

Die wantrouemosie wat gister in die parlement teen pres. Jacob Zuma ingedien is, het ʼn bietjie nuusafwisseling gebring op ʼn nuustoneel wat steeds deur die studente-onluste en die afloop daarvan oorheers word. Die nuusdekking oor die wantrouemosie skep eerder die indruk dat dit ʼn politieke zombie is wat aan die bod kom waaragter die ANC hom prosedureel skaar en kunsmatig probeer lewe inblaas.

Almal, insluitende die DA wat die mosie van wantroue  teen pres. Jacob Zuma ingestel het, het geweet die mosie sou deur die ANC afgestem word.  Maar die indien van die mosie was belangrik om die president in die hoogste wetgewende liggaam tot verantwoording te roep, waar so ʼn mosie nou al ʼn gereelde verskynsel begin raak het. Dit bevestig die parlement se oorsigrol oor die president – iets waarmee die ANC in ʼn stadium weggedoen het, totdat die howe genader moes word.

Die enigste vraag was of dit nog ʼn doel dien om soveel energie op ʼn politieke zombie te vermors? Mens kan hieroor verskil, maar die feit bly dat Zuma, danksy sy bewind van patronaatskap, steeds geweldig invloedryk binne die ANC is en steeds in ʼn posisie is om die land enorme skade te berokken.

Zuma ís eenvoudig omstrede. Sy uitsprake wissel gereeld tussen ʼn groot verleentheid vir die land en ʼn ramp vir die land. Hy skroom ook nie om sy onkunde uit te blaker nie, soos die abortiewe aardrykskundeles wat hy aan ʼn groep sakelui gelewer het nie.

En hy vertrap gereeld die grondwet, soos wat die Vryheidsfront Plus met die debat in die parlement aangevoer het. Hy het byvoorbeeld by geleentheid gesê hy is eerstens lojaal teenoor die ANC en dan teenoor die land en daarmee sy grondwetlike ampseed, met die seën van die ANC, vir ʼn ses geslaan.

Die stelsel van koukusgebondenheid in Suid-Afrika veroorsaak dat die uitslag vooraf ʼn voldonge feit is. Die ANC kon ongeveer net die mosie as genoeg ontevrede ANC-LP’s allerlei verskonings, soos siekte en ander amptelike verpligtinge, kon voorhou om nie die sitting by te woon nie.

Dit was natuurlik ook moontlik dat van die opposisiepartye Zuma sou steun, of buite stemming sou bly. Die piepklein APC het die ANC gesteun en die party se leier het daarmee sy groeiende lakeihouding teenoor die ANC bevestig. Hiervoor word die leier, Themba Bodi, ook mildelik beloon.

Die EFF, wat geen geheim van hul afkeer aan Zuma maak nie, het ook buite stemming gebly en ʼn regstegniese punt geopper. Hulle wag naamlik vir die konstitusionele hof se uitspraak (oor die Nkandla-kwessie) waarin, meen hulle, die regsprekende gesag sal oordeel oor Zuma se geskiktheid as president. Volgens die EFF het hulle nie meer vertroue in die parlement nie, net in die regspleging.

In Suid-Afrika is rebellie teen die koukus gewoonlik ʼn kort pad na die politieke wildernis. Dit word weer in die Tlokwe-tussenverkiesings gedemonstreer, waar ʼn aantal ANC-raadslede dit durf waag het om saam met die opposisie te stem en ʼn kortstondige DA-geleide bewind te bewerkstellig. Die rebelle is geskors, ongeag hoe geldig hul besware was en ongeag daarvan dat hulle die ANC vooraf by herhaling gewaarsku het sekere sake moet reggestel word.

Met die mosie van wantroue het die ANC ʼn skyn-eenheid probeer voorhou. Dit is egter geen geheim meer dat die ANC ernstig verdeel is nie en dit is ook die tema van ʼn artikel vandag deur die vermaarde joernalis, Allister Sparks. Hy skryf onder meer: “Dit is gevolglik duidelik die nasionale belang vereis dat Zuma so gou as moontlik uit die presidensie verwyder word. Dit kan net bewerkstellig word as die kieserskorps die ANC in vanjaar se munisipale verkiesing so skok dat die partyleierskorps besef hulle kan hom nie langer bekostig nie.”

In gister se stemming het 54 LP’s nie die moeite gedoen om op te daag nie, maar teenwoordigheid by parlementsittings en veral komiteevergaderings is nie juis LP’s se sterkpunt nie. Tog is dit ʼn beduidende “opposisie” wat ontsien het om vir Zuma te gaan stem.

Soos baie ander parlementêre gebruike, is die mosie van wantroue normaalweg ʼn simboliese gebaar en geleentheid soos die ANC dit noem, vir ʼn “propagandafoefie”. Opposisiepartye kry die geleentheid om sonder vrees vir die een of ander vervolging, goed bors skoon te maak teen ʼn regeringshoof, of die regering (regerende party of koalisie). In volwasse demokrasieë slaag sulke mosies periodiek en lei dit tot nuwe verkiesings en nuwe regerings.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Nuuskommentaar, Rubrieke

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

alida ·

Mooi artikel Herman. Ag man hy het ‘n vel soos ‘n renoster. Hoekom spaar hy homself nie die verleentheid en bedank uit vrye wil op ‘n waardige en menswaardig wyse soos wat ‘n President betaam nie. Ek kan nie glo mens is so dikvellig nie.

wynand ·

Die maaksels wat teen die mosie gestem het is bang hulle verloor hulle korrupte jobs en word van die soustrein afgegooi.So duidelik soos daglig. Die wiel draai egter al is dit ook hoe stadig. Ek kan nie se slim vang sy baas nie maar moet se dom vang sy baas.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.