Nuwe aantygings teen Harvard se SA prof

Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. (Julie 2020) (Foto: Harvard University/Facebook)

Die Suid-Afrikaanse professor wat vroeër vanjaar van seksuele wangedrag beskuldig is nadat studente aan die gesogte Harvard-universiteit in Amerika na vore gekom het oor sy beweerde optrede teenoor hulle, moet nou nog aantygings die hoof bied. Dié keer van studente wat tot drie dekades gelede gegradueer het.

ʼn Gewysigde regsgeding beweer nou dat prof. John Comaroff (77) gedurende sy drie dekades as ʼn fakulteitslid aan die Universiteit van Chicago by veelvuldige seksuele verhoudings met studente betrokke was, berig The Harvard Crimson.

Hy het glo in hierdie tyd ook ʼn aantal ongewenste aanrakings, soene en seksuele opmerkings teenoor studente gemaak.

Die jongste bewerings vorm deel van ʼn regsgeding wat in Februarie teen Harvard aanhangig gemaak is deur drie Antropologie-studente. Die studente beweer dat die universiteit jare lange seksuele teistering deur Comaroff geïgnoreer het.

Einde Junie het die eisers, Margaret Czerwienski, Amulya Mandava en Lilia Kilburn, ʼn gewysigde klag van 89 bladsye ingedien waarin drie nuwe bewerings van seksuele teistering vervat is en vier voorvalle van seksuele kontak wat Comaroff glo met studente gehad het.

Die gewysigde klagstaat bevat ook nuwe besonderhede oor beweerde teistering deur Comaroff en beweerde mislukkings van Harvard se ondersoekproses.

Luidens die regsgeding het een van die studente aan die Universiteit van Chicago, met wie Comaroff glo seksuele interaksie gehad het, in 2011 ʼn klag teen hom ingedien “wat hom genoop het om Chicago te verlaat”.

Comaroff het ʼn aanbod van ʼn ander universiteit ontvang en sommige fakulteitslede aan die Universiteit van Chicago het die destydse dekaan versoek om nie ʼn teenaanbod te maak nie, beweer die gewysigde regsgeding. Dit het hom wesenlik uit dié universiteit “gestoot”.

Comaroff, wat nie as ʼn respondent in die saak genoem word nie, ontken die bewerings van wangedrag.

Sy prokureur, Ruth O’Meara-Costello, het in ʼn verklaring gesê dat al die nuwe bewerings in die gewysigde klag “heeltemal vals” is.

“Die beweerde interaksies het nie plaasgevind nie,” lui die verklaring.

“Prof. Comaroff ontken enige onvanpaste gedrag met studente aan die Universiteit van Chicago of enige ander plek. Hy ontken dat hy betrokke was by enige onvanpaste gedrag, hetsy voor of nadat die regsgeding ingedien is.”

Nuwe bewerings

Die nuwe bewerings van wangedrag spruit uit ʼn aantal gevalle oor die afgelope drie dekades. Die jongste bewerings betrek ook Comaroff se vrou, Jean, wat ʼn professor in Afro- en Afro-Amerikaanse Studies en Antropologie aan Harvard is.

Die regsgeding beweer dat ʼn eerstejaarstudent tydens ʼn konferensie by die Northwestern-universiteit in 1991 deur Comaroff seksueel geteister is omdat hy haar binnebobeen gestreel het.

Tussen 2001 en 2005 het Comaroff na bewering twee keer ʼn gegradueerde student aan die Universiteit van Illinois gesoen sonder haar toestemming – een keer in die openbaar.

Tussen 1978 en 1982 het Comaroff na bewering ʼn voorgraadse student op die lippe gesoen en “daarna seksuele kontak geïnisieer wat vir etlike jare voortgeduur het,” lui die saak. In ʼn stadium het hy die student as ʼn inwonende oppasser aangestel.

Tussen 1978 en 1991 het hy glo ook seksuele verhoudings met twee gegradueerde studente in Chicago se Antropologie-afdeling gehad. Gedurende daardie tyd is daar glo gesien hoe hy herhaaldelik ʼn voorgraadse koshuis by die skool besoek het.

Nadat ʼn eerstejaarstudent in Chicago haar ongemak uitgespreek het met die ontvangs van “ongewenste soene op die gesig” van Comaroff en gesien het dat “die Comaroffs studente se liggame aanraak op ʼn manier wat haar ongemaklik laat voel,” het John en Jean glo vir haar gesê “dat sy gewoond sal moet raak aan sulke fisieke kontak as sy veldwerk in ʼn Franstalige land wil doen,” lui die hofsaak.

In ʼn e-pos aan The Harvard Crimson het Jean die bewerings as “vals en absurd” afgemaak.

Aanklag teen Harvard

Die gewysigde klagstaat verskaf verdere besonderhede oor Comaroff se beweerde optrede teen studente wat wangedrag aangemeld het, asook Harvard se kantoor vir geskilbeslegting se beweerde versuim om klagte op te volg of die integriteit van sy proses te beskerm teen die gevolge van onregverdige optrede teen fluitjieblasers.

Harvard ontken die bewerings ten opsigte van sy ondersoekproses in die saak.

Harvard het in Mei ʼn regter gevra om die saak van die hand te wys. Die universiteit beweer dat die oorspronklike klag gewys het dat Harvard “robuuste beleidstellings en prosedures” gereed het om klagte van seksuele teistering te hanteer.

Die nuwe aanklag het egter Harvard se aansoek om die klag van die hand te wys, laat verbrokkel, het die distrikshoofregter Judith Dein gesê.

Die regsgeding hou vol dat die universiteit se beleidstellings versuim om patrone van mishandeling te erken en studenteklaers te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

corinnemariette ·

Hoekom noem jul eers die woord Suid Afrikaner as hy al 3 dekades lank in VSA droogmaak. Hy het n ander land gekies dus is hy n Amerikaner

Gaitsigubib ·

Ek probeer weer. Dis nie n algemene van nie, tog is die meeste Comaroffs in SA. Sy pa is van Oekraine en sy ma van Lithuania. Ek dink hy is gebore in Rhodesia. Ek dink mens moet eers n knippie sout neem voor jy se hy is van SA. Julle kan dit maar plaas, ek skel niemand nie.

Samuel ·

Is dit nou werklik nuuswaardig? Dit gebeur daagliks in Suid-Afrika. Hy is beslis nie ‘n Suid-Afrikaner nie.

Niklaas ·

Natuurlik sal hy en sy regshulp , alles afmaak as vals en dit ontken.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.