Harvard-professore eis kollega se kop

Harvard-universiteit in Cambridge, Massachusetts. (Foto: Maddie Meyer/GETTY IMAGES NORTH AMERICA/Getty Images via AFP)

Meer as driekwart van die professore verbonde aan die Harvard‑universiteit se antropologie-departement eis nou dat hul Suid-Afrikaanse kollega, John Comaroff (77), bedank nadat bewerings van seksuele teistering teen hom aan die lig gekom het.

In ʼn brief wat Sondagaand aan Comaroff gestuur is, sê 15 professore aan die departement, onder wie die fakulteitvoorsitter, dat hulle vertroue in hom as ʼn professor verloor het, berig The Harvard Crimson.

Dit volg nadat drie studente aan die Amerikaanse universiteit beweer dat Comaroff hulle sonder toestemming gesoen en betas het en selfs gedreig het om hul loopbane te beëindig indien daar ooit daaroor uitgepraat word.

Die studente het intussen ʼn regsgeding teen die universiteit aanhangig gemaak, omdat dié instelling glo al jare lank misluk om studente teen Comaroff te beskerm. Honderde studente het ook verlede week ter ondersteuning hiervan uit hul klasse gestap.

Luidens die brief glo die professore aan die fakulteit waar Comaroff betrokke is, dat hy nie meer ʼn produktiewe lid van die departement is nie.

“Ons glo dat jou volgehoue teenwoordigheid ons lewensvatbaarheid as ʼn eenheid ondermyn en ons pogings om ʼn veilige en verantwoordelike gemeenskap te bou, belemmer.”

Comaroff het egter in ʼn verklaring wat deur sy prokureurs uitgereik is die bewerings van wangedrag ontken.

“Ek is diep ontsteld dat my kollegas hierdie standpunt inneem,” het hy gesê.

Comaroff se prokureurs het die heksejag teen hom as “morele paniek” bestempel, aangesien die universiteit reeds die bewerings ondersoek het en hom daarvolgens gedissiplineer het.

Die universiteit het vroeër bevind dat Comaroff wel betrokke was by verbale wangedrag wat die seksuele en geslagsgebaseerde teisteringsbeleid en die professionele gedragsbeleid van die Fakulteit Lettere en Wetenskappe (FAS) oortree.

Hy is sedertdien op onbetaalde verlof geplaas en sy onderrigaktiwiteite word beperk.

“Dit was ʼn lang proses waarin die klaers uitgebreide geleenthede gehad het om aangehoor te word en getuienis te bied,” sê Comaroff se prokureurs.

“Die bewerings wat in die regsgeding gemaak word, is nog nie in ʼn hof of deur Harvard se veelvuldige ondersoeke bewys nie. Morele paniek is nie ʼn plaasvervangers vir ʼn regverdige proses nie.”

Die universiteit se antropologie-departement loop glo die afgelope paar jaar deur onder verskeie bewerings van geslagsgebaseerde teistering. In Mei 2020 het The Harvard Crimson berig oor bewerings van seksuele teistering teen drie prominente professore in die departement, onder meer Comaroff.

“Ons doen ʼn beroep op Comaroff om uit die departement te bedank omdat ons glo dat sy terugkeer ons pogings om vertroue in die fakulteit te herbou, sal ondermyn,” het die voorsitter van die departement gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Piet Snot ·

Waarom die lawaai oor bewerings? Skuldigbevinding ja; dan mag almal lawaai.
Maar tot daardie oomblik is bewerings slegs bewerings.

Kokerboom ·

Bevind hom eers skuldig en dank hom dan af! As hy onprofessioneel opgetree het moet hy waai en gevolge dra!

Jaco ·

As ek die kans kan kry om uit hierdie aaklige SA weg te kom, sal ek in my gasheerland NET die grond elke dag soen uit dankbaarheid dat ek daar ‘n beter heenkome gekry het. Hier gaan dié man en mors sy kanse op…

40

Samuel ·

Bewerings is presies wat dit is. Bewerings. Miskien is dit morele paniek wat aangevuur word deur die media.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.