Onvoltooide sake: Blitsige Irvette het Spele in visier

Irvette van Zyl het haar beste by die afgelope Twee Oseane-marathon gegee. (Foto: Cuan Walker)

Irvette van Zyl se pad na marathonsukses volg nie noodwendig ʼn seepgladde roete nie. Daar was al ʼn paar slaggate wat gedreig het om haar te pootjie, maar die Pretoriase langasem beur nogtans vorentoe.

Al vinniger. Al sterker. En al beter.

Sy het juis verlede Saterdag in Kaapstad weereens haar onderkry-is-min-vaardighede onderstreep toe sy die Twee Oseane-ultramarathon in ʼn skitterende tyd van 3:29:30 voltooi het.

Van Zyl het vroeg in die wedloop geval toe een van die ander drawwers haar per ongeluk in die bondel raak getrap het. Maar sy het opgestaan, haar knieë afgestof en die 56 km-roete tussen Nuweland en Rondebosch getem; net ʼn vlieënde Gerda Steyn was vinniger as sy.

“Ek is baie tevrede met my tyd. Ek wou graag vinniger as ʼn 3:30 hardloop [twee jaar gelede se 3:30:31 was haar vorige beste Twee Oseane-tyd] en ek is baie bly dat ek dit kon doen,” het sy aan Maroela Media gesê.

As sy nou terugkyk na haar vertoning, sou sy graag beter kompetisie vir Steyn wou wees.

Die uiteindelike wenner het haar eie rekordtyd tot ʼn blitsige 3:26:54 verbeter en sy was veral sterk in die pylvak van die wedloop.

“Ek is spyt dat ek nie op die afdraandes by Gerda kon kers vashou nie, want ek het lekker sterk op die opdraandes gevoel. Sy het ʼn goeie voorsprong by Chapmanspiek opgebou, maar ek kon weer by Constantia-nek terugbaklei. Maar later het die gaping weer groter geword en ek het die spreekwoordelike muur getref – die laaste ses kilometer was bitter swaar.”

Die sterk wind het sake bemoeilik, terwyl haar knieë ook nie meer lekker wou saamgesels ná vroeër se val nie.

Suisende wind en seer knieë is nie die eerste hindernisse wat sy al in haar hardloopstorie moes oorbrug nie. In 2011 het ʼn motor haar getref toe sy in Ruimsig geoefen het, terwyl sy ook al ʼn paar keer op die operasietafel was.

ʼn Paar jaar gelede het sy ʼn operasie ondergaan om bloedtoevoer aan haar linkerbeen te verbeter nadat daar vasgestel is dat ʼn aar vasgeknyp word.

Dié been word steeds met tye lam.

“Dit het weer ná net so agt kilometer by die Twee Oseane gebeur en dit lyk dan as’t ware of jy vir ʼn paar kilometer met ʼn besering hardloop. Maar dan gaan dit genadiglik weer weg.”

(Foto: Cuan Walker)

Tussendeur alles is sy nog ʼn tree nader aan die Olimpiese Spele nadat alles nie heeltemal volgens plan vir Dominique Scott by die Boston-marathon verloop het nie.

Scott se uiteindelike tyd van 2:32:31 is stadiger as Van Zyl se marathon-kwalifiseringstyd van 2:26:11.

“Ek moet nog so twee weke wag om te hoor of ek my tasse vir Parys kan pak. Sover lyk dinge heel belowend.”

Indien sy genoeg gedoen het, sal die sportskouspel in die Franse hoofstad haar vierde Olimpiese probeerslag wees.

Van Zyl sal die eerste een wees om te erken dat sy nog nie op haar beste by die Spele was nie; in haar vorige drie vertonings kon sy nog nie een keer die wedloop voltooi nie.

“Indien ek kwalifiseer, sal ek op so ʼn manier voorberei dat ek op my beste in Parys sal wees. Ek wil my Olimpiese droom bewaarheid en sê dat ek die eindstreep oorgesteek het.”

Sy vier vanjaar haar 37ste verjaardag, maar daar is nog nie sprake van uittrede nie.

“Ek het al daaraan gedink, maar ek wil op my eie voorwaardes uittree. Die job is not yet done en ek benader eerlikwaar elke wedloop asof dit my laaste is. Ek het soveel liefde vir die sport en ek voel dat ek nog ongetwyfeld oor die nodige woema beskik.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.