Polisiebeamptes het ʼn vermeende dief Dinsdag in Orlando East, Soweto, doodgeskiet toe hy ʼn vuurwapen op hulle gerig het.
“Een van die verdagtes het ʼn vuurwapen op die polisie gerig en die polisie het hom geskiet,” het konst. Sibusiso Chauke, woordvoerder van die polisie, gesê. “Hy het uit die voertuig geklim en wou weghardloop, maar het ʼn paar meter verder geval en is op die toneel dood.”
Volgens Chauke het een van die verdagtes probeer weghardloop, maar die beamptes het hom aangekeer. ʼn Derde verdagte is in die motor aangekeer.
Chauke sê ʼn Volkswagen Polo, ʼn plasma-televisiestel en ʼn Xbox is Dinsdagoggend tydens ʼn huisbraak in Stormill, in die weste van Johannesburg, gesteel. Lede van die Soweto-blitspatrollie wat die huisbraak ondersoek het, het die voertuig met drie mans op die Soweto-hoofweg voorgekeer. Die polisie het die gesteelde goedere binne-in die motor opgespoor.
Die twee mans, wat in hegtenis geneem is, sal binnekort in die Protea-landdroshof verskyn.