Rassie het 3de Wêreldbeker in visier

Rassie Erasmus is tot 2027 die Springbokke se hoofafrigter. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Dis amptelik. Rassie Erasmus sal aan die stuur van die Springbokke se afrigtersake vir die volgende vier jaar wees.

Die Wêreldbeker-wenafrigter het ongetwyfeld ʼn derde Webb Ellis-trofee in die visier en hy sal deur ou bekendes soos Mzwandile Stick, Deon Davids en Daan Human bygestaan word, terwyl Tony Brown en Jerry Flannery ook deel van die opset word.

Die 49-jarige Brown, ʼn voormalige All Blacks-losskakel, sal Felix Jones se skoene as aanvalsafrigter volstaan, terwyl Flannery – wat in sy speeldae vir Ierland op haker uitgedraf het – vir die Bokke se verdediging verantwoordelik sal wees.

So tussendeur die afrigtersbevestiging en -aanstellings is Jaco Peyper en Duane Vermeulen ook nadergetrek.

Peyper, wat onlangs sy skeidsregteruittrede aangekondig het, sal Suid-Afrikaanse spanne met die spel se reëls en regulasies bystaan.

Dan is daar toegesien dat Vermeulen se rugbykennis en -talent nie verlore gaan nie en hy sal as ʼn wafferse mobiele afrigter tussen die land se spanne beweeg.

Volgens Erasmus is dit ʼn reusevoorreg om die Springbokke af te rig.

“Ek is baie dankbaar vir die vertroue wat daar in my geplaas is. Die grootste verskil tussen die komende seisoen en die afgelope vier jaar is dat ek baie meer betrokke by die oefensessies sal wees,” het die 51-jarige rugbyghoeroe gesê.

As Saru se direkteur van rugby het die voormalige Springbok-losvoorspeler saam met Jacques Nienaber en die ander afrigters aan die Bokke se struktuur en strategieë geskaaf en hy glo dat dit ʼn maklike skuif terug na die oefenveld met die fluitjie in die hand sal wees.

Daar wag ʼn taai internasionale seisoen op die Springbokke met wedstryde teen onder meer die All Blacks en Ierland, maar Erasmus is tevrede met die Suid-Afrikaners se rugbydiepte.

“Die meeste van 2023 se Wêreldbeker-wenners is steeds beskikbaar om gekies te word en verskeie jong spelers spog nou met internasionale ervaring; iets wat van onskatbare waarde op toetsvlak is.”

  • Springbok-afrigtersgroep:

Hoofafrigter: Rassie Erasmus

Assistent-afrigters: Mzwandile Stick, Deon Davids, Daan Human, Tony Brown en Jerry Flannery.

Prestasiehoof: Andy Edwards.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Skim ·

Dit is die beste nuus wat ek nóg gekry het in 2024! Baie geluk aan Rassie, ek staan bankvas agter jou.

Chris ·

Goeie genade.Al daai persone in die bestuurspan.Dan is daar nog die fisio, dièètkundige en voor jy kan sien ook ñverloskundige vir die spelers se vroue!In Oom Frik se tyd was daar net die een afrigter!

Bostoe ·

@Chris, dis omdat oom Frik en sy era almal amateur spelers was en hopelik net so paar Rand vir deelname gekry het. Vandag is dit mos ‘n professionele sport, so dan word die manne betaal, en goed ook.

Papsak ·

Nee nou moet daar sommer n paar afrigters wees om te konkel ek stem in Frik se tyd was dit nog rugby nou glad nie meer n trots eers nie

DS ·

Oppas net vd All Blacks en hulle nuwe afrigter. Ek staan wel bankvas agter Rassie en die Bokke en sien uit na die driekuns!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.