100% van matrieks aan CVO-skole, slaag

(Foto: Maroela Media)

Al die matrikulante wat verlede jaar by die Christelik-Volkseie Onderwys (CVO)-skole die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) se Nasionale Seniorsertifikaat (NSS) afgelê het, het dié eksamen geslaag.

CVO het Woensdag onthul dat sy matrikulante beter gevaar het as die vorige twee jaar en daarin kon slaag om ʼn 100% slaagsyfer te behaal. Dit teenoor die 98% slaagsyfer wat in 2021 behaal is en die 99% in 2020.

Al hierdie leerders kan boonop een of ander tersiêre studie onderneem, met altesaam 87% wat toelating tot graadstudie behaal het en die res almal tot diplomastudie. Ongeveer 80% van CVO se leerders is in 2021 toegelaat om vir ʼn graad te studeer en in 2020 en 2019 was dit nog minder met onderskeidelik 79% en 74% wat toegelaat is.

“BCVO is besonders trots op die prestasie. Dit is ʼn bewys dat CVO, waar moontlik, vir sy leerders deure oopmaak,” sê Lucia van Wyk, uitvoerende hoof van CVO.

CVO het verskeie skole in Gauteng, Limpopo, Mpumalanga, Noordwes, Vrystaat, die Oos-Kaap en die Noord-Kaap wat leerders van gr. 0 tot gr. 12 akkommodeer.

Die IEB het ook gister die algehele slaagsyfer vir die matrieks wat die NSS geslaag het, bekend gemaak. Die slaagsyfer vir alle IEB-skole is 98,42%, wat ook hoër is as 2021 se 98,39%.

Volgens Van Wyk is 10% van CVO se matrieks deel van die beste 1% van die IEB-kandidate. Van die leerlinge wat op dié lys verskyn, het tot sewe onderskeidings behaal.

“Die matrieks van 2022 is ʼn groep wat besondere vermelding verdien aangesien hulle in hul gr. 10- en gr. 11-jaar baie swaar gekry het as gevolg van die Covid-19-pandemie,” sê Van Wyk.

“Hulle het egter besonderse aanpasbaarheid en deursettingsvermoë getoon en uitgestyg bo al die uitdagings. Ons is besonder trots op hulle.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit wys jou net dissipline en Godsdiens in skole gepaardgaande met moedertaal onderrig en jou land se toekoms is sterk en gesond.

Magda ·

TROTS CVO! Ons kinders vaar ook baie goed op universiteite. Hulle weet om self te werk. Word nie afgerig nie. Hulle doen meeste van die tyd beter as op skool.

skurweberg ·

Julle lig sal nie uitgedoof en fondamente nie vernietig word nie. Dankie dat julle die Waarheid lief het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.