12 jaar later is polisiestasie nog nie gebou nie

Die enigste polisiestasie in Vuwani is nog steeds nie afgehandel nie (Foto: Bernard Chiguvare/GroundUp)

Deur Bernard Chiguvare, GroundUp

Konstruksiewerk aan die enigste polisiestasie in Vuwani, Limpopo, het in 2012 begin en is nog steeds nie afgehandel nie.

Tot 2021 is polisiebeamptes gedwing om uit mobiele eenhede te werk weens verskeie vertragings met twee verskillende kontrakteurs om die administratiewe blok af te handel.

Vuwani het 125 polisiebeamptes wat diens lewer aan sowat 96 dorpe. Hulle werk onder moeilike omstandighede insluitend onvoldoende kantoorspasie en hulle het nie enige aanhoudingselle nie.

Sihle Zikalala, minister van openbare werke en insfrastruktuur, het gesê die konstruksiewerk is oor die jare vertraag weens onbekwame kontrakteurs.

Die departement het miljoene rand aan die kontrakteurs betaal, maar slegs ʼn breukdeel hiervan is herwin.

Die departement het in 2012 die eerste kontrak toegeken vir meer as R27 miljoen, maar die werk is gestaak toe die kontrakteur nie meer geld gehad het nie. Dié kontrak is in 2013 gekanselleer. In daardie stadium is slegs 20% van die werk gedoen. Die departement het in daardie stadium R7,5 miljoen oorbetaal aan die kontrakteur.

Die tweede kontrakteur het tussen 2015 en 2021 aan die projek gewerk. Die departement het gesê hy moes weer die kontrak kanselleer omdat die kontrakteur “kontantvloeiprobleme” ondervind het. Sowat R36 miljoen is aan dié kontrakteur oorbetaal.

Zikalala het verlede week aangekondig dat ʼn derde kontrakteur aangestel is en die werk sal na verwagting teen 25 September 2025 afgehandel wees – teen ʼn beraamde koste van R26,9 miljoen.

Die administrasieblok is nog nie voltooi nie. Beamptes kan slegs ‘n paar kantore hier gebruik.
(Foto: Bernard Chiguvare/GroundUp)

Zikalala het verlede week tydens ʼn besoek aan die perseel aan inwoners erken dat foute gemaak is toe die goedkoopste kontrakteurs aangestel is. Hulle het nie oor die voldoende kapasiteit beskik om die werk te doen nie.

Nkosana Kubeka, waarnemende adjunkdirekteur van die departement, het gesê die huidige kontrakteur moet die gemeenskapsdienssentrum voltooi, insluitend die polisie-barakke, administrasieblok, 11 aanhoudingselle, die plaveiwerk, die laboratorium en om ʼn heining en watertenk te installeer.

Die laboratorium het ook ʼn plafon nodig, die kaste moet herstel word en loodgieterwerk moet gedoen word. Die aanhoudingselle benodig nog loodgieterwerk, ventilasie, elektrisiteit en vloere.

Minister Sihle Zikalala (middel) stap deur die onvoltooide Vuwani-polisiestasie saam met senior provinsialeregeringsbeamptes en SAPD-beamptes (Foto: Bernard Chiguvare/GroundUp)

Verdagtes word tans na die aanhoudingselle by Thohoyandou-polisiestasie vervoer, sowat 30 km daarvandaan.

“Ons is dankbaar dat die projek nou vorm aanneem. Dit sal ons help in die uitvoering van ons pligte,” het Eddie van der Walt, Vhembe-dikstrikskommissaris, gesê.

Kubeka het aan GroundUp gesê vordering sal deur die beamptes gemonitor word.

“Een van die senior bestuurders van die nasionale kantoor is aangesê om die projek te monitor. Ons sal maandeliks vergader en elke twee maande vorderingsverslae aan die minister verskaf,” het Kubeka belowe.

  • Hierdie berig is oorspronklik op GroundUp geplaas en word met vergunning gebruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Net soos die oorspronklike polisiestasie in Carletonville. Staan leeg en afgebreek en miljoene kamstig bestee om reg te maak. Nou huur hul ‘n gebou teen astronomiese bedrag.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.