13 vroue nou ook meesterslagters by Shoprite

Dorothy Labuschagne, van die slaghuisopleidingsafdeling by Checkers Hyper Edenvale in Gauteng, is al die afgelope 28 jaar by die Shoprite-groep betrokke (Foto: Shoprite Holdings)

Altesaam dertien vroue kan nou as meesterslagters hul messe slyp nadat hulle by die wêreldwye klub van gesertifiseerde meesterslagters aangesluit het.

Dié vroue is deel van ’n groep van 62 slaghuisbestuurders en -opleiers wat die Shoprite-groep se Master Meat Artisan-program voltooi het.

Die Shoprite-groep is die enigste kleinhandelsupermarkgroep in Afrika wat hierdie elite‑ en hoogs gespesialiseerde slaghuisleerprogram aanbied. Die program word onderskryf deur die Verenigde Koninkryk (VK) se Vleisinstituut.

Volgens die kleinhandelgroep doen deelnemers tydens die program uitgebreide kennis op van die hele vleisverwerkingsproses – van die plaas tot die vurk.

“Om te kwalifiseer, word daar van slagters vereis om ʼn omvattende portefeulje op te bou wat onder meer modules oor slaghuiskundigheid, voedselhigiëne en -veiligheid en sakevernuf insluit,” sê Shoprite.

Shoprite beoog om oor die volgende vyf jaar nog 150 kwalifiserende slaghuisbestuurders vir die program in te skryf.

“Dit sal die ontwikkeling van slaghuisvaardighede – wat besonder skaars en gesog is – ’n hupstoot gee. Dit sal ook die kleinhandelgroep en Suid-Afrika op die kaart plaas as spesialiste van wêreldgehalte in slaghuisbedryfspraktyke.”

Die program is ook deurslaggewend in die verskaffing van volhoubare loopbaangeleenthede vir die kleinhandelgroep se Vleismark-werknemers.

“Die feit dat deelnemers tien jaar se ondervinding moet hê om vir die program in te skryf, met minstens vyf jaar as ʼn vleismarkbestuurder, weerspieël ons verbintenis om ons slagters op hul langtermynberoepsreise te ondersteun en hulle toe te rus met die nodige gereedskap en kennis om in die slaghuisberoep uit te blink,” sê Johan Hunter, hoofbestuurder van die Shoprite-groep se Vleismark.

Fundeka Ndyoki, van Shoprite Vleismark se kantoor in Centurion, Gauteng (Foto: Shoprite Holdings)

Dorothy Labuschagne, van die slaghuisopleidingsafdeling by Checkers Hyper Edenvale in Gauteng, het aan die Master Meat Artisan-program deelgeneem en sê dit was ʼn uitstekende leerskool. Labuschagne is al die afgelope 28 jaar by die Shoprite-groep betrokke.

“Voordat ek aangesluit het, het ek geglo ek weet alles van die vleismark. Hierdie program het my kennis op verskeie gebiede verbeter, insluitend verbeterde kliëntediens, beter vleisgehalte-metodologieë, hoe om verskillende vleissnitte met speserye en ander bestanddele op te dis en gevorderde bestuursvaardighede,” sê Labuschagne.

Fundeka Ndyoki, van Shoprite Vleismark se kantoor in Centurion, Gauteng, sê die Master Meat Artisan-program het haar toegerus met vaardighede wat haar in ʼn meer bedrewe leier in die werkplek verander het.

“Die bestuurskursusse het diep aanklank gevind en waardevolle insig oor doeltreffende samewerking verskaf. Ek het my leierskapsvermoëns verfyn en vervulling gevind deur ander in staat te stel om self beter leiers te word,” sê Ndyoki.

Van die vroue wat onlangs by die wêreldwye groep van gesertifiseerde meesterslagters aangesluit het:

Lydia Thithi, meesterslagter van Shoprite in Boitumelo in Welkom, Vrystaat, het in die klere-kleinhandelbedryf gewerk voordat sy in 2011 by Shoprite Boitumelo Junction aangesluit het deur die Shoprite-groep se Vleismark-leerlingskapprogram. Sy het verskeie poste beklee voordat sy tot Vleismarkbestuurder bevorder is (Foto: Shoprite Holdings)

Jeanette Niemand, van Checkers Langenhoven in Bloemfontein, Vrystaat, is geëerd om een van die eerste vroue by die Shoprite-groep te wees wat as meesterslagter gekwalifiseer het en sê sy kan nie wag om die kennis wat sy opgebou het met klante te deel nie (Foto: Shoprite Holdings)

Elizabeth Moloi van Alberton, Gauteng, het in Julie vanjaar die Master Meat Artisan-program voltooi en sê dat sy jare gelede gekyk het hoe ʼn uiters bekwame blokman te werk gegaan het en dat dít haar na die bedryf gelok het (Foto: Shoprite Holdings)

Ntombizandile Moyeni, die meesterslagter van Shoprite Fingoland in Butterworth, Oos-Kaap, sê sy beplan om die kennis wat sy in die program opgedoen het te gebruik om voortdurend haar vaardighede te verbeter en dit met haar kollegas te deel om sodoende uitstekende diens aan klante te lewer (Foto: Shoprite Holdings)

Portia Zwakala van Checkers Cornubia in Durban, KwaZulu-Natal, sê sy waardeer dit om geleenthede te hê om voortdurend haar loopbaan te bevorder en is opgewonde dat haar droom om ʼn senior vleismarkbestuurder te word, ʼn werklikheid word (Foto: Shoprite Holdings)

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Charles ·

Daar was al baie vorige kere waar vrouens in die slagtery van n winkel gewerk het. Waarom is daardie nou n nuwe ding gedoop?

Anonymouse ·

Hello Charles. Ek het nou al 2 maal deur die artikel gelees en nerens word dit gestel dat hulle die eerste vrouens is om in ‘n slaghuis te werk nie. Hulle is nou meesterslagters, ‘n beroep waar vrouens min in is. Ek kan nooit verstaan hoekom goeie nuus party mense so ontstel nie.

Baie geluk aan die dames. Elkeen wat opgelui word is ‘n wen vir ons hele land. Mag julle ‘n wonderlike en geseende toekoms he.

Charles ·

Daar was n tyd waar vrouens hul eie besighede gehad het. Gelukkig kan hul nou slaaf in hul beroepe en vir n baas werk want dis mos beter. Dit het begin in die wêreld nuus kom in laat 2000s en vroeë 2010s oor vrouens in slagterye wat Master Butchers word.

Karoo ·

Dit sit nie in almal se broek om vir hulle self te werk nie. Deur om vir iemand te werk maak nie van jou ‘n slaaf nie, dit beteken ook nie dat jy nie ambisie het nie. Dis moeiliker vir Dames want hulle moet ook’ n Vrou wees en ‘n Ma. Somige mense is leiers en ander volgers, ons het byde nodig.’ n Slaghuis het gewoonlik ‘n “blokman” en dames werk gewoonlik agter die toonbank. Maar hoe wonderlik dat daat uitsonderings is.

Charles ·

Ek het geen probleem met vrouens wat doen wat hulle wil nie. Hulle is nie iemand se onderdane nie. Dit voel vir my net deesdae hulle word vertel wat hulle wil hê.

Elmarie ·

Altyd iets negatiefs te sê. Kyk na buite ou maat, die son skyn, lente is stadig maar seker in aantog, daar is baie om voor dankbaar en positief oor te wees!

Charles ·

Om negatief te wees te midde van positiwiteit is n teken van kritiese denke en nie blinde aanvaarding van omstandighede nie. En die seisoene is nie normaal nie.

Karoo ·

Dankie Charles, gewoonlik “klip in die bos” jy sorg darem altyd vir ‘n lekker debat, ek glo jy is egter’ n goeie mens met ‘n groot hart. Moet tog nie die dames so “op ref” in vroue maand nie.

Karoo ·

Knap gedaan Dames – sjoe Dorothy Labuschagne, om vir 26 jaar by dieselfde plek te werk is voorwaar ‘n prestasie. En om dan saam met ander 12 Dames as meesterslagters by die wêgesertifiseerde meesterslagters aan te sluit is iets om oor trots te wees. Wonderlik dat Shoprite die Vroue vereer en aanmoedig.

JohanR ·

My Ma as sy nou extra kwaad met was, het sy geskreeu “Kom hier seuntjie!” “Vandag slag ek jou af!” My Pa nou weer het my uitgestuur om ‘n lat te gaan pluk. Nie enige lat nie. Daar moes ‘n sekere dikte en lengte wees. Moenie bekommer nie, dit was in die dae toe ouers nog kinders kon beetkry, en vir liefdevolle ouers kon ek en my twee boeties en sussie nie vir beter gevra het nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.