14-jarige praat ná Herbal Blend-video’s

‘n Skermskoot uit die video van Marcel de Beer nadat hy Herbal Blend gerook het. (Video: Verskaf)

Nog ʼn gebruiker van Herbal Blend het oopgemaak oor sy ervaring van dié nuwe middel wat onlangs wyd opslae veroorsaak het nadat video’s aan die lig gekom het van gebruikers wat psigotiese episodes ervaar nadat hulle dit gerook het.

Een van die gebruikers wat in die video’s gesien kon word, is die 14-jarige Marcel de Beer. Marcel en sy ma, Violet, het Dinsdagoggend op Breakfast with Martin Bester op JacarandaFM oor Herbal Blend gesels. Violet het toestemming gegee dat Marcel se naam bekendgemaak mag word.

Volgens Marcel het een van sy vriende die Herbal Blend gekoop en het hy dit saam met twee van sy vriende gerook. Marcel sê dit was die eerste keer wat hy dié middel gerook het, hoewel hy al voorheen gesien het hoe ander mense dit rook. “Ons het dit gerook, want hulle sê daai goed hou net vir ʼn halfuur.”

Marcel sê hy is nie seker of sy vriende dit al voorheen gerook het en of hulle gedink het die middel is veilig nie. Die middel se reaksie op hul liggame was egter alles behalwe genotvol. “Dit [voel] glad nie lekker nie. Jy is soos in ʼn game wêreld en jy bly val in jou kop en goed. Jy voel moedeloos, soos jy kan niks vir jouself doen nie. Jy kan nie behoorlik beweeg nie. Jou lyf beweeg vanself – jou kop sê vir jou lyf jy moet dit nie doen nie, maar jou lyf doen dit vanself.”

“Herbal Blend” word ook in ongemerkte swart pakkies verkoop met selfs die geur van die inhoud wat op die pakkie aangedui word. Foto: Verskaf

Op die video kan gesien word hoe die skoolseun op die grond lê terwyl paramedici hom behandel. Hy is heeltemal verward, skree en gebruik kru taal terwyl sy oë sukkel om te fokus.

Volgens die tiener het ʼn gevoel van spyt oor hom gekom toe hy later die video gesien het van hoe hy opgetree het nadat hy die Herbal Blend gerook het. Marcel is ná die voorval per ambulans na ʼn hospitaal geneem.

Marcel se ma, Violet, sê sy het die eerste keer die video onder oë gehad toe die bestuurder van die ambulans dit vir haar gewys het. “Dit was vir my baie erg. Natuurlik het ek geskrik, ek het nie geweet die hele ding is op video nie,” het sy aan Bester gesê.

“Die volgende dag moes ek uitvind die video is op Facebook en word op WhatsApp versprei. Om te sien wat daar gebeur het, is skrikwekkend. Dit is teleurstellend en vernederend. Maar wat my kwaad maak, is dat iemand ʼn kind se identiteit sommer net so kon ontbloot het.”

Op ʼn vraag wat vir haar die moeilikste deel van hierdie gebeure is, het Violet geantwoord die wete dat hulle as ouers ʼn groot aandeel in Marcel se gedrag het. “Ek moet erken, ek en my man het huweliksprobleme gehad en ons stryery en so aan het gemaak dat die kind onttrek van ons af. Dit het ʼn woede in hom losgemaak,” het sy gesê.

“Ek dink nie mense besef as daar probleme in ʼn huwelik is hoe dit werklik die kinders affekteer nie. Ek het heeltyd gepreek en ek moes meer geluister het. Spandeer meer tyd met jou kind. Wees daar vir jou kind. Ondersteun jou kind en leer jou kind ken. Dit is die raad wat ek [vir ander ouers] kan gee.”

Maroela Media het vroeër berig minstens 14 mense in Pretoria moes onlangs mediese behandeling ontvang nadat hulle Herbal Blend, ook bekend as Puff, Blazing of Spice, gerook het. Kort nadat die video’s aan die lig gekom het, het Gregg Kühn, ʼn 22-jarige man in een van die video’s, met Maroela Media gepraat oor die gebeure en gesê hy wil ander teen dié middel waarsku.

‘Herbal Blend’ word onder verskillende name en in verskillende verpakkings verkoop. Dit staan ook as Blazing bekend. Foto: Verskaf

ʼn Laboratoriumontleding van dié middel het later aan die lig gebring dat die middel ses aktiewe bestanddele bevat, waarvan die meeste hiervan verskillende vorme van kannabinoïede (sintetiese dagga) is.

Die middel bevat ook Methylendioxy-metamfetamien, beter bekend as “crystal meth”, asook 5F-PB-22 wat optree as ʼn kannabinoïed-agonis – iets wat ʼn fisiologiese reaksie veroorsaak wanneer dit met ʼn reseptor gekombineer word.

Die middel word dikwels in ongemerkte pakkies verkoop waarop dit nie aangedui word wat die bestanddele is, wie dit vervaardig of waar dit vandaan kom nie. Die middel is maklik bekombaar en by talle drankwinkels, tabakwinkels en spazawinkels te koop.

Sedert die video’s aan die lig gekom het, het die polisie ʼn ondersoek van stapel gestuur om te bepaal waar en deur wie hierdie middels versprei en vervaardig word. Hulle het ook gesorg dat die middel so ver moontlik van die rakke verwyder word totdat hul meer inligting hieroor bekom het.

Lees alle vorige berigte oor Herbal Blend op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

51 Kommentare

legens ·

die mens is nie evolusioner ontwikkel om te rook nie . punt .

Straight and Narrow ·

So maak baie jongmense foute in hul lewe. Maak verkeerde keuses.
Hoop jy LEER uit jou fout.
Staan op, skud die stof af, lig jou kop omhoog en WEES BETER.
Baie van die ooms en tannies wat nou so galbraak en klippe gooi het self maar n wilde jongmenslewe gehad, maar toe was daar nie selfone met videos en sosiale media nie… dus is hul swak gedrag en geheimpies veilig.

Leer uit jou foute!
Wees n voorbeeld vir jou vriende!
Sterkte met die res van jou lewe.

Leser ·

Ek stem saam. Marcel, jy kan gelukkig wees niks ernstigs het met jou gebeur nie. Ek moet erken toe ek daardie video sien, het ek amper begin huil, want ek het ‘n seun van daardie ouderdom. ‘n Mens is jonk en maak onverskillige besluite, sonder om te dink wat dit aan jou kan doen. Ek is verlig jy en jou vriende het niks oorgehou van die episode nie. Nou weet julle wat dit is, en dat dit nie die moeite werd is nie. Hou jou kop hoog. Dit is iets wat gebeur het, maar dit is nou verby. Moenie dat hierdie ding jou skaam maak of verneder laat voel nie – dieselfde geld vir jou, Violet. Hier is ‘n kans op ‘n nuwe begin.

K ·

en volgens die ander vriende was dit jy en en die ander vriende sn. Nee wat, nie tyd vir kabouters nie.

Wonder net.... ·

Wat het jy aangevang toe jy nog n Kabouter was….
Maar jy is gelukkig, want in 1940 was daar nie selfone wat kan videos neem nie. En daar was nie sosiale media nie. So jou kabouterstreke is veilig in die kas toegesluit….

Maljan ·

Wonder net is jy n kabouter ma od pa dat jy volle verwag die wereld moet nou die kabouter as koning rokebaard sien? Geen wonder kinders is so f-up nie.

MJ ·

Ek hoop van harte dat hierdie 14-jarige seun sy les geleer het en dat sy dae van ‘rook’ nou verby is. Jy is nog jonk genoeg om nou al die regte keuse te maak… los die rook-enigiets-wat-lekker-lyk-gewoonte en pas jouself eerder op.

GENADE ·

Baie STERKTE…aan enige ouer of slagoffer wat hierdeur geraak word.
Ons kan net ons HEMELSE VADER SE BESKERMING EN GENESING BID oor julle…en jul gesinne
Ennn…laat ons,ons EÍE kinders,inlig, liefde en aanvaarding gee…en BID vir Goddelike Beskerming en laat ons groen koring opi land ONS WAAKSAAM en nederig hou as ouers

AÍ...GENADE TOG! ·

Baie STERKTE…aan enige ouer of slagoffer wat hierdeur geraak word.
Ons kan net ons HEMELSE VADER SE BESKERMING EN GENESING BID oor julle…en jul gesinne
Ennn…laat ons,ons EÍE kinders,inlig, liefde en aanvaarding gee…en BID vir Goddelike Beskerming en laat ons EIE groen koring opi land ONS WAAKSAAM en nederig hou as ouers

Molly ·

Ai mamma jy is bekommerd dat dit op facebook is en sy gesig is herkenbaar. Ek dink jy moet eerder bekommerd wees oor waste goed jou kind aanvang deur die dag. Meer aandag op hom en minder op wat mense se en dink en comment. Duidelik ‘n tiener met ‘n lus vir nonsense aanjaag. Baie sterkte vir julle en hoop van harte jy los die nonsense

Groen Koring ·

Daar is vir my so mooi gedig,

Ek het aan jou die lewe gegee, maar kan dit nie vir jou leef nie
Ek kan jou probeer rigting gee, maar ek is nie altyd daar om jou te lei nie

Ek kan jou vryheid toelaat, maar ek kan nie daarvoor verantwoording doen nie
Ek kan jou kerk toe neem, maar ek kan jou nie maak glo nie
Ek kan jou leer onderskei tussen reg en verkeerd, maar ek kan nie vir jou besluit nie

Ek kan jou raad gee, maar ek kan dit nie namens jou aanvaar nie
Ek kan jou liefde gee, maar ek kan dit nie op jou afdwing nie
Ek kan jou leer om mededeelsaam te wees, maar ek kan jou nie onselfsugtig maak nie
Ek kan jou leer om respek te hê, maar ek kan jou nie dwing om dit te bewys nie

Ek kan jou raad gee oor vriende, maar ek kan hulle nie vir jou kies nie

Ek kan jou vertel van drank, maar ek kan nie namens jou nee sê nie
Ek kan jou waarsku teen dwelms, maar ek kan nie verhoed dat jy hulle gebruik nie

Ek kan jou liefhê as my kind, maar ek kan jou nie God se kind maak nie
Ek kan jou leer van Jesus, maar ek kan nie Jesus jou Koning maak nie
Ek kan jou leer van die lewe, maar ek kan jou nie die Ewige Lewe gee nie

Andrea ·

Wonder net…
Nee, dit gaan nie oor selfone wat video’s kan neem nie. Dit gaan oor gesonde verstaan. Al is jy 14 jaar oud, kan jy n besluit neem of jy gaan rook , om mee te begin, en of jy n middel gaan rook wat jy gesien/gehoor het n nare uitwerking het. Mens neem tog seker n besluit, al is jy jonk, of jy met dwelms gaan eksperimenteer of nie? Toe ek 14 was kon ek kies tussen dagga, kokaïen, heroïne, Mandrax en LSD. Ek het n bewustelike besluit geneem om NIE te eksperimenteer nie, ten spyte daarvan dat party v my vriende het. Dis n besluit wat jy maak.

Skokgranaat ·

Andrea

Met respek, maar die situasies van vandag en gister is nie vergelykbaar nie.

In jou jong dae was dwelms as dwelms geadverteer. Jy het dit selde buite die sfeer van dwelmkultuur aangetref. MAW dit was meestal deelvan “rave”, “techno” & “club” kultuur gewees.

Die unieke gevaar van vandag se dwelms is hoe dit bemark word – dit is oor die toonbank beskikbaar in die openbaar by tabak en drankwinkels, en sonder dat die gebruiker daarvan noodwendig besef wat dit is wat hy op pad is om in te neem.

Dit word nie bemark as “Mandrax”, “LSD” of watookal nie. Dit word bemark as “Tutti Frutti”, “Grape soda” of iets soortgelyk, wat “skadeloos” en “pret” is, soos vape liquids.

Die punt is, dit is nie vir vandag se kinders maklik om te besef waarvoor hulle hulself inlaat nie, en dit is presies die intensie van die dwelmprodusente.

Sanette ·

Wil jy die feit dat jou kind op 14 rook blameer op jou mislukte huwelik? Nee mevrou, jou kind is wie hy is a.g.v hoe jy hom grootmaak. Word groot en vat verandwoordelikheid, ek glo hierdie kind gaan dit baie in sy lewe nodig hê.

Susan ·

Jy loop met klappe om jou oë rond. Natuurlik het dit n baie groot invloed hoe n kind grootword en hy het net n uitlaatklep gesoek om te ontvlug. Laat die een wat die minste sonde doen (dis nou jy wat oordeel) die eerste klip gooi. Vir die seun, sterkte seuna met al jou einas

Susan ·

Ek praat nie dwelms in enige vorm goed nie, ek is meer bekommerd gewees oor sy snymerke. Mag hierdie seun al die hulp kry wat hy nodig het

Lola ·

Ek het gedink ek is die enigste een wat dit onmiddelik raak gesien het Susan. Hy sny homself al baie lank. En ja Sanette, ek stem met jou saam.

Patricia ·

Asb moet nie die ma blameer nie en dit gaan glad nie oor hoe jy grootgrmaak is nie. My pa was baie steng en weet jy toe ek uit die huis is toe eksperimenteer ek dankie ek het besef dit is n duiwel maar rk kan jou belowe dit het niks met opvoeding te doen nie dit is n besluit wat jy self neem. Sterkte mamma en Marcel jy sal bo uitkom leer uit jou foute en moet asb nie jou stuur aan ander se verwyte nie. Jy is net n kind wat verkeerde besluit geneem het jy sal opstaan en jy sal almal wys jy is nie lafaard nie

Bossie ·

Ek wil net sê dis maklik om te kritiseer en baie van ons op hierdie forum het groen koring op die land. Maar, ek wil ook sê dat as dit my seun of dogter was het die agterent gebrand die oomblik toe die voor-end ophou braak het.

Se net... ·

Ne, sy gee verskonings en vat nie verantwoordelikheid nie. sy skerm hom nog, ek het op die harde manier geleer so los dit nie die probleem op nie, dit het gebeur punt geen verskoning verder.

Maljan ·

Wonder net is jy n kabouter ma od pa dat jy volle verwag die wereld moet nou die kabouter as koning rokebaard sien? Geen wonder kinders is so f-up nie.

Lorna ·

Sjoe hier is mense wat maklik oordeel. Die ma het nie eens nodig gehad om aan almal te verduidelik en dan vat sy volle verantwoordelikheid. Moet vir geen oomblik dink jul is perfek. Dit gebeur in gegoede huise waar daar nie eens gestry word en waar reels is en waardes. Almal maak foute. Hopenlik het hy geleer uit sy fout. Ek persoonlik sou daai ambulansman wat die video versprei het al sy hel gegee het. Of wie ookal die video geneem het.

Dankbaar ·

Ek wil persoonlik “dankie” sê vir elke video wat ek ontvang het… Het dit sommer gebruik as leer materiaal vir my kinders om hul te waarsku en in te lig.

Claudette ·

Ek het video vir my 10jr seun gewys… Hy moet sien wat dwelms doen.

Regtig nou ·

Almal het besluite en ek kan belowe soms maak mens n verkeerde een! So vir almal wat so oordeel , vertel asb vir almal op sosiale media hoe kry n mens dit reg om altyd dir regte keuses te maak en perfek te wees! Julle wat so oordeel is erger as die arme kind wat n vout gemaak het ! Sies!

Ronel ·

Ai Ai ai, so maklik gooi julle klippe, en dis verbasend om te sien hoeveel van julle het as tieners nooit dom besluite geneem nie. Die ouers is nie totaal en al hier skuldig nie, ek het na die radio onderhoud geluister, en die ma is soos meeste ma’s dadelik in die plek om te wonder hoe sy fouteer het. Vir al die klip gooiers wat nooit agter hulle ouers se rue aangejaag het op tiener ouderdom nie, net die realiteit gou gou, normale deursnee tieners doen klip dom goed om deel te voel van die groep, en normale ouers van tieners probeer hulle bes maar soms, ongeag hoe goeie ouer of voorbeeldige kind dit is, neem n kind n dwase besluit wat sy /haar lewe kon beinvloed. So tensy jy uit n perfekte huis kom, n perfekte ouer is, en perfekte tieners het, gee die empatie wat die gesin verdien en maak seker jou perfekte lewe word nooit deur n dwase besluit in chaos gestuur nie. Ek het vier kinders en elf pleeg kinders groot gemaak en soms was ek net bloot verstom oor die dom goed wat baie slim kinders aanvang, maar verwyt maak niks heel nie.

Darius ·

Perfek gestel.

Dit verbaas my soms hoe mislik sommige mense in hulle lewens is dat hulle nie kan wag om hulle eng oordele anoniem op internet forums te kom deel nie.

Dit vat ‘n man om te erken hy het ‘n fout gemaak en dan ander te probeer keer om nie dieselfde fout te maak nie. Die seun en sy ouers het ‘n doelbewuste keuse gemaak om ‘n ander rigting met sy lewe in te slaan en daarvoor kan ek hulle net my respek en ondersteuning gee. Ek hoop van harte hulle volhard hierin.

Jenny ·

Ja nê…. en laat hy wat geen foute het nie die eerste klip gooi.
Klink my hier is net volmaakte ouers met volmaakte kinders.

Andrea ·

Dit gaan nie soseer oor die ouers en/of seun oordeel nie. Dit het gebeur, jy kan dit nie ongedaan maak nie. Dit gaan vir my oor wat ons daaruit moet leer en vir ons kinders leer. Dwelms is dodelik. So min as wat jy met n mamba sal speel en eksperimenteer, so min moet jy dit met dwelms doen. Dis dodelik, dis gevaarlik, bly weg!

Adele Strydom ·

Sterkte aan die seun en sy ouers. Moet julle nie aan negatiewe komentaar steur. Dankie dat julle die storie deel. Mag God julle styf vashou en hierdeur dra. Vat elke les geleer ter harte

Staak saam ·

Beproef alle dinge maar behou slegs die goeie.

Ek glo nie hy gaan weer nie.

Marlise ·

Het NIEMAND WRAGTIG gesien letterlik op die een pakkies se dit NOT FOR HUMAN CONSUMPTION????

Anton ·

Sterkte aan die jongman en sy familie. Dit gebeur met ons almal. Kry jou krag van BO en familie praat met mekaar. Hierdie dwelms is waardeloos want dit los nie probleme op nie maar voeg net meer by.

Melissa ·

Ek dink dis sintetiese dagga. Asb mense dis groot gif. Bly weg van dit!!!!!!!!

Sjannie ·

Die kind het al lank sielkundige probleme en hy het al begin met cutting. Op die video kon jy sien sy bobene was erg gesny. Hy moet so gou moontlik berading kryt.

Louise ·

Ek stem volkome met jou saam – die arme kind het hom na dwelms gekeer want sy ma het net “gepreek”
Nou wil Violet ons kom vertel hoe om ons kinders te ondersteun, by te staan en te leer ken? Waar was sy toe haar seun haar nodig gehad het?

Mellie ·

Violot en Marcel, julle het nou die geleentheid om te getuig hoe wreed hierdie middel is en hoe belangrik kommunikasie tussrn ouer en kind is. Als gebeur met n doel in die lewe; goed of sleg. Marcel, hierdie tannie is trots op jou dat jy die moed gehad het om op te staan en uit te praat; asb hou aan daarmee!! Jy en jou ma kan talle lewens red daardeur …

Rikus ·

Klink asof mens geld kan maak. Dalk moet ek lusern met mielieblare meng en dit verkoop.

wielie ·

Dankie seun dat jy so dapper is. Lig jou kop ……….. die lewe gaan aan. Daar is mense wat baie erger dinge aan gevang het ,,,,,,,,,, en hulle leef nog. Sterkte vir die toekoms. Vir jou en jou ouers. Ons almal maak foute maar leer en leef

Gert ·

Slegs die mense wat eerlik blaamloos staan kan kritiseer wat ander verkeerd doen. Ons moet en behoort meer vir ons kinders bid vir verstand en wysheid. Ons voorbeeld vir ons kinders moet blaamloos wees dan sal hulle nie sulke onnoselle dinge doen nie. Kyk eers na jouself voor jy iemand blameer.

Gaenor ·

Ek stem saam met Ronel, die oordeel kom ons nie toe nie….

Penelope ·

Dit was ‘n vreeslike ding om te aanskou. Ek hoop ander het uit hul foute geleer. Ek hoor daar is ‘n middel wat “Sage” genoem word en dat dit ook gerook word, mens wonder wat alles daarin is. Wanneer mens oplet na hierdie tipe goed sien jy snaakse dinge. Dit word versprei in alle buurte, soms deur motor wagte en daar is mense op straat wat kastig CD’s verkoop maar eintlik verkoop hulle dwelms. Dis oral bekombaar, en dit maak mens bang.

Didi ·

Mense is vinnig om die ouers te blameer. Ek het al gesien hoe ouers die beste vir hul kinders probeer leer en wys, maar die kind kies steeds die verkeerde opsie. My ouers het my baie waardes probeer leer, maar ek het aspris otherwise probeer wees. Skelm gerook, skelm gedrink.Gevloek. Die kat geknuip voor ek getrou het:) En ek het ook nou nie oorboort met dit gegaan nie, maar verkeerd is steeds verkeerd. Wat ek probeer sê, dit wat ek gedoen het was NIE my ouers nie, maar my eie keuses gewees. Kinders weet vroeg wat is reg en wat is verkeerd. Ek dink darem nou dat ek meer volwasse is kan ek terug kyk en sê dankie tog ek is nou soeter…mag my kind asb nie die helfde doen wat ek gedoen het nie.

Veer ·

Rikus, jy moet onthou om dit ‘n flavour te gee. Dalk so titseltjie kaneel..
Nee julle, hierdie is hartseer en ook ‘n noodkreet van Marcel se kant af. Hoop “hulle” is nou bewus en gee hom die hulp en ondersteuning wat hy vra en so betterlik nodig het. Hy is 14 mense, hy het nie ons insig en volwassenheid nie, moet hom nie so oordeel nie. Soms gooi die lewe ook vir ons ‘n curve ball en hoeveel kere na hind site, sien ons ons moes dit dalk anders hanteer of benader het en ons is VOLWASSE. Die ouers wat so kritiseer, dalk moet julle liewer begin by julle eie demons en oor julle self bekommerd wees. Niemand loop op water nie!

Luister ·

My hoop is dat baie kinders en jong mense sal besluit om NOOIT enigiets te rook nie!

Vanessa Moore ·

Ek het nie eers geweet van die goed nie. Ek stem 100% saam Lorna. Daar is so baie mense wat oordeel. Soos jy oordeel sal jy geoordeel word. Mag alles ten goede uitwerk en seun (en mamma) moenie skaam voel of vernederd nie. Dit het ons almal so oë oopgemaak en ons moes die video sien sodat ons ook daaruit kon leer. Ek weet dis nie lekker om daarna te gekyk het nie (veral vir julle), maar ek persoonlik dink dit was nodig dat ons dit gesien het en ook nou bewus is van al die gevare daarbuite. Dis nou verby en soos die ander mense sê skud die stof af en beweeg aan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.