18 beseer in spitstyd-ongeluk

Die ongelukstoneel. (Foto: Verskaf)

Altesaam 18 mense is Dinsdagoggend beseer tydens ʼn padongeluk waarby ʼn taxi, motor en voetganger betrokke was op Umbiloweg in Durban.

Volgens Garrith Jamieson, woordvoerder van Rescue Care, is nooddienste kort ná 07:00 na dié toneel ontbied. Daar gekom, het paramedici “chaos” aangetref.

“Verskeie pasiënte het verspreid oor die pad gelê waarna nóg ambulanse noodgedwonge na die toneel ontbied is,” het Jamieson gesê.

Volgens Jamieson het ʼn voetganger en een van die passasiers ernstige beserings in die botsing opgedoen. Die passasier was aanvanklik vasgekeer in een van die wrakke en moes met behulp van meganiese toerusting bevry word.

Die passasier is op die toneel gestabiliseer voordat sy per helikopter na ʼn gespesialiseerde hospitaal vervoer is. Die ander beseerdes is per ambulans na verskeie hospitale in Durban gehaas vir mediese behandeling.

Die presiese besonderhede rakende die voorval is in dié stadium onbekend, maar die polisie was op die toneel om ondersoek in te stel.

Die ongelukstoneel. (Foto: Verskaf)

In nóg ʼn padongeluk in die provinsie is ʼn man Maandag dood nadat hy op die D354 in Mkhambathini naby Camperdown beheer oor sy motor verloor het.

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is nooddienste omstreeks 15:51 na die toneel ontbied waar ʼn voertuig gerol het.

Die man het kritieke beserings in die ongeluk opgedoen en ʼn helikopter is ontbied om hom inderhaas na ʼn hospitaal te vervoer. Die man se hart het egter gaan staan terwyl paramedici gespook het om hom te stabiliseer.

Volgens Herbst is mond-tot-mondasemhaling op die man toegepas, maar kon paramedici hom nie red nie. Die man is op die toneel dood verklaar voordat hy na ʼn hospitaal vervoer kon word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

KP ·

Sal graag wil weet wie betaal vir hierdie afvoer per helikopter by ongelukke waar die meeste, indien nie alle beseerdes, aan n mediese fonds behoort nie.
Ek wat aan fonds behoort moet daar eers toestemming van die fonds vir die helikopter uitgawes gekry word voor hulle my gaan vervoer. Sou hulle weier is dit per ambulans. Praat van ondervinding.

MM ·

Ek was een van die talle mense wat vanmore in die verkeer vasgevang was kort na die ongeluk gebeur het. Mense is so nuuskierig om te sien wat gebeur, dat hulle nie kyk waar hulle dan ry nie. Ek het gesien hoe ‘n vragmotor toe die voertuig voor hom stamp en hele bumper afruk soos hy skrik toe die slag hoor. Ongeluk by die ongeluk!!! Al is jy hoe ‘n goeie bestuurder, moet jy vir ander kyk en dink ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.