18-jarige sterf in ongeluk: ‘Hy was my hart’

Francois van Zyl. Foto: Verskaf

Die 18-jarige Francois van Zyl wat verlede week in ʼn motorongeluk omgekom het, sal Woensdag gegroet word.

Francois, wat verlede jaar in matriek was, is Donderdag oorlede toe hy op die pad tussen Magaliesburg en Hekpoort beheer oor sy bakkie verloor het.

Toetsie Wallis, Francois se ma, het gesê haar seun was baie geliefd onder sy skoolmaats en vriendekring. “Hy het almal altyd met respek hanteer. Hy los ʼn groot leemte in baie mense se lewens en gaan baie gemis word.”

Francois het in Odendaalsrus grootgeword en het in sport uitgeblink. Hy het reeds op ʼn jong ouderdom vir Hoërskool Goudveld se eerste rugbyspan uitgedraf.

Hy het in 2016 saam met sy ma na Magaliesburg verhuis en by Hoërskool Bekker begin skoolgaan waar hy ook diep spore getrap en in sport uitgeblink het. Hy het senter en heelagter vir Bekker se eerste rugbyspan gespeel en is ook as die skool se beste krieketspeler aangewys.

Francois, ook bekend as Cois, was op die leerlingraad en het ook op akademiese gebied goed presteer.

Hy laat ook sy pa, stiefma, stiefpa, sy suster en grootouers agter.

“Ai Cois, ek het nie woorde nie en ook nie meer ʼn hart nie want jy was my hart,” het sy ma gesê.

Francois word Woensdag uit die Nederduitsch Hervormde Kerk in Magaliesburg begrawe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Natalene Visser ·

Dis so tragies as sulke belowende jongmense se lewens so vroeg tot n einde kom. My innige simpatie aan almal wie se lewens hy geraak het. Mag die Here julle vertroosting bring.

lh ·

Wat ‘n pragtige jongman! Mag jy saggies en in vrede rus . . .
Baie sterkte aan almal wat vir hom lief was, Mag God julle troos en dra in hierdie hartseer tyd. . .

De Villiers ·

@Chris, dit gee vir ons wat hierdie persoon glad nie geken het nie, agtergrond van wie die persoon was, en sy nalatenskap. Vir my beteken dit baie, en heg ń mens waarde aan hoe daardie persoon se lewe was. Gesinne en families wat ń soortgelyke afsterwe moes deurmaak, kan daarmee assosieer en waarlik simpatie met so ń gesin hê en aan hulle die beste ondersteuning bied omdat hulle self al daardeur is.

Baie sterkte aan al die geliefdes van hierdie jong man.

Liezl ·

Ek doen dringend ‘n beroep op al wat mens is wat hierdie berig lees om te bid teen die ‘aanval’ op jongmense, kinders, vrouens, mans. Ek bid in ons Vader se naam dat elke jong mens beskerm word teen gevaar, teen selfmoord, teen ongelukke. Ek vra dit nederig en voor U troon. So jammer vir die pragtige jongman se skielike afsterwe

Liza ·

Rus saggies Cois………..
Sterkte aan die ouers en familie…….

Mariaan ·

Oee my hart sommer seer…ek kan net dink hoe voel hierdie mamma…wens ek kon haar n drukkie gee…ek ook net een seun….my hart sal vir altyd stukkend wees…sterkte vir julle

Niklaas ·

Ai tog , al my simpatie met die naasbestaandes . As onervare jongmense net meer aandag gee aan dinge soos spoed , gladde paaie ens sal baie langer leef. Daar is soveel mense wat ek ken , wat onnodig dood is in motorongelukke , veral jongmense. Ek weet , want jare gelede was ek ook ‘n roekelose bestuurder wat baie onverantwoordelik gejaag het . Ek kon maklik so ‘n einde gekry het. Ek was maar net gelukkig.

Andre du Toit ·

As ek terug dink to my seuns 18 gewees het,en hulle moes so verongeluk het, sou ek van my kop af geraak het. Baie sterkte aan al sy geliefdes en vriende.

Anoniem ·

Aai my moederhart is saam jou seer mamma. My seun was ook laasjaar in Matriek en sy naam is ook Francois. Ek Bid vir julle deur die moeilike tyd. Kan myself nie indink deur watse pyn jul moet gaan nie. Wens ek kon jou n drukkie gee van een mamma na n ander mamma. Mag die Here julle styf vashou in die tyd.

anna ·

Die afsterwe van ‘n mens se kind laat jou leeg. Tog word die seer later sagter en word die tyd wat hy/sy deel van jou lewe was al meer kosbaar. Jy herleef al die mooi, onthou al die sê goed of spesiale maniertjies. Maak ‘n punt daarvan om oor hom te gesels met iemand wat hom ook geken het. Maak daardie leeg vol met al die mooi. Ek bewaar na amper20 jaar nogsteeds die hemp waarop sy matriekmaats al die boodskappe aan hom geskryf het. Sterkte aan elkeen wat sy lewe met hom gedeel het. Dit bly ongelooflik hartseer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.