2 vas wat glo diesel uit Transnet-pypleiding steel

Die boewe het met ‘n tenkwa opgedaag. (Foto: SA Polisie)

Twee mans is aangekeer toe hulle glo diesel uit ʼn Transnet-pypleiding naby Delmas, Mpumalanga, probeer steel het. Die boewe het met ʼn dieseltenkwa opgedaag.

Veiligheidwagte van Transnet het Vrydag die vragmotor en agt mans opgemerk. “Die verdagtes het in verskillende rigtings laat spaander toe hulle besef het hulle is opgemerk. Die wagte kon twee verdagtes, waarvan een glo die drywer is, in hegtenis neem,” het kapt. Dineo Sekgotodi, woordvoerder van die Valke in Mpumalanga, gesê.

Lede van die polisie se eenheid vir ernstige georganiseerde misdaad, lede van die Delmas-polisie, die Witbank-blitspatrollie en beamptes van die kriminele misdaadrekordsentrum het die toneel en omgewing gefynkam. Die res van die bende was egter skoonveld.

Die Valke het beslag gelê op verskeie items, ook twee kragopwekkers wat gebruik is om diesel uit die pyp te probeer tap. (Foto: SA Polisie)

“Op die toneel het die beamptes beslag gelê op ʼn 20 000 ℓ-dieseltenkwa, twee klein opwekkers – een daarvan in die vragmotor en die ander een vasgemaak aan ʼn pyp wat diesel uit die pypleiding pomp – sowel as ander toerusting,” het Sekgotodi gesê.

Die verdagtes is tussen 21 en 28 jaar oud en sal na verwagting Maandagoggend in die Delmas-landdroshof verskyn. Nóg inhegtenisnemings word nie uitgesluit nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Santjie ·

Mense kan nou maar net nie hulle hande van “ander” se goed af hou nie.

Wielspore ·

Kan Maroela media asb vir ons ‘n kaart van die pyplyn plaas, ek het ‘n diesel voertuig…..

Scalla ·

Dit was beslis nie die eerste keer wat dit plaasvind nie, n vinnige en maklike manier van geld maak, laat die 2 boewe praat en hul makkers uitbring, hoop daar word n voorbeeld van hulle gemaak.

Leon ·

Kragopwekkers of kragpompe? As daar opwekkers was sal daar dan seker elektriese pompe ook moes wees. Kragopwekkers kan nie vloeistof pomp nie. Vra maar net.

Gato ·

@Leon. Ek het ook die vraag gehad. Maar in die uwe SA is enige iets moontlik.
Eskom ry dan sommer steenkool aan met “Bulldozers” as hulle vervoerband by Medupi buite werking is. Ek dink nie daai “lady” wat die kommuniskasie beampte is het al ooit in haar lewe ‘n Bulldozer gesien nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.