20 operasies in een jaar – en stryd nog nie verby

Louis Opperman en sy sussie, Danica. (Foto: Verskaf)

Toe die 20-jarige Louis Opperman in Oktober verlede jaar ná ʼn maande lange Covid-19-stryd uit die Care@Midstream-rehabilitasiekliniek in Centurion ontslaan is, het nóg hy nóg sy gesin gedink dat hy nog 20 operasies sou ondergaan.

Hy het boonop Kersdag vanjaar ook in ʼn Pretoriase hospitaal deurgebring waar hy die afgelope paar dae binneaarse behandeling met antibiotika ontvang het nadat hy nog ʼn infeksie opgedoen het.

Maroela Media het vroeër berig dat Opperman op 26 Julie verlede jaar in die Mediclinic-hospitaal in Polokwane opgeneem is nadat Covid-19 by hom gediagnoseer is. Hy het kort daarna ook ernstige longontsteking ontwikkel en is enkele dae later in ʼn kritieke toestand per helikopter na Midstream oorgeplaas.

Benewens longontsteking het hy ook salmonellavergiftiging, septisemie en breinvliesontsteking opgedoen, waarvoor hy gelyktydig behandel is. Hy het sy stryd teen verskeie Covid-19- en verwante komplikasies 80 dae lank in die Mediclinic Midstream in Centurion gevoer.

Louis was geruime tyd onder verdowing, aan ʼn ventilator gekoppel en moes ʼn trageotomiebuis in sy keel kry. Sedert hy ontslaan is, duur sy gesondheidstryd voort en moes hy al 20 operasies vir verskeie gesondheidsprobleme ondergaan.

“Louis het trageostenose [vernouing van die tragea] opgedoen weens die lang tydperk wat hy aan die ventilator gekoppel was en weens die trageotomiebuis,” het sy pa, Willie, aan Maroela Media gesê.

“Dokters het vyf maande terug ʼn Montgomery-buis in sy tragea ingeplant om die stenose te behandel. Voordat dié buis ingeplant is, moes die trageotomiebuis elke twee weke gedilateer [wyer gemaak] word. Gedurende hierdie vyf maande kon hy nie praat nie.

“Drie weke gelede het sy keel vernou en kon hy nie gemaklik asemhaal nie. Dr. Johann Kluge by Cintocare [in Pretoria] moes toe weer ʼn dilatasie [verwyding] doen om sy keel oop te kry. Dr. Kluge was die afgelope 12 maande letterlik op bystand en speed dial. Ons moes hom verskeie kere oor naweke bel en [van Polokwane] deurjaag Pretoria toe om Louis se lugweg in die teater te laat dilateer.”

Louis is tans in Cintocare waar hy vir sewe dae binneaarse behandeling met antibiotika moet ontvang nadat sy dokter ʼn bakteriële infeksie deur bloedtoetse opgespoor het.

As alles goed afloop, sal Louis Dinsdag of Woensdag kan huis toe gaan.

Louis Opperman saam met sy ouers, Willie en Magde-Louise. (Foto: Verskaf)

Louis, wat altyd ʼn kranige gholfspeler was, kon sedert hy verlede jaar uit die rehabilitasiekliniek ontslaan is, nog net twee keer weer gholf speel.

“Sy linkerlong het baie skade opgedoen en hy kan nie ver loop nie. Hy pas aan by dit wat sy longe en liggaam in dié stadium toelaat.”

Louis oorweeg nou ʼn loopbaan in gesondheidsorg en gaan selfs volgende jaar terug skool toe om lewenswetenskappe agter sy naam te kry aangesien hy nie dié vak in matriek gehad het nie.

Willie sê die gesin is uiters dankbaar vir die toegewyde ondersteuning wat hulle van die personeel by Cintocare ontvang, hul mediese fonds by Discovery, die ondersteuning van vriende, familie en kennisse, asook al die mense wat al bygedra het om Louis se behandeling te help betaal – onder wie dié wat ʼn gholfdag in Augustus ten bate van Louis ondersteun het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.