2019: Beste uit die parlement

Bheki Cele, minister van polisie (Foto: ANA)

Die jaar 2019 lê op sy rug en dis weer tyd om te besluit wie die beste presteerders in die parlement was. Ons doen dit, want politici haal dikwels net die nuus as dinge skeefloop. So hoort dit ook; die media se rol as waghond verwys.

Maar kom ons gee ʼn slag erkenning aan die politici wat hul werk uitstekend doen, en wel in die volgende kategorieë:

Minister van die jaar

Wenner: Genl. Bheki Cele (polisie): Daar lê baie werk voor om die polisie reg te ruk, maar Cele maak ʼn goeie begin. Hy is meelewend en energiek, probeer grootliks die regte ding doen en is nie ʼn naprater nie. Hy het sy foute, maar doen sy bes. Hy is paraat met die beantwoording van parlementêre vrae (anders as die lakse dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, byvoorbeeld) en neem verantwoordbaarheid ernstig op.

Naaswenner: Barbara Creecy (omgewingsake, bosbou en visserye): Dis dalk nog te vroeg om te sê, maar Creecy het passie en doeltreffendheid gebring na ʼn portefeulje wat dit benodig. Sy is beskikbaar, verantwoordbaar en op die hoogte van haar portefeulje. Sy neem parlementêre verantwoordbaarheid ernstig op en is ʼn voorbeeld vir haar kollegas.

Thandi Modise. Foto: Werner Beukes/SAPA

Voorsitter van die jaar

Wenner: Thandi Modise (speaker van die Nasionale Vergadering): Sy het orde gebring waar haar voorganger, Baleka Mbete, wanorde nagelaat het. Sy is stiptelik, streng en regverdig, en meer onpartydig as enige voorganger sedert 1994, afgesien van Max Sisulu. (Kort nota aan diegene wat kla: Dit gaan oor haar parlementêre werk, nie haar liefde vir diere nie.)

Naaswenner: Gratitude Magwanishe (ANC): Die voorsitter van die parlement se portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste is ʼn groot verbetering op sy voorganger, veral wat ordentlikheid teenoor die opposisie betref. Sy komitee het vanjaar self ʼn baie nodige wetsontwerp oor politieke partyfinansiering geskryf en deurgevoer, wat ʼn ongewone prestasie is.

Geordin Hill-Lewis. Foto: Twitter

Parlementêre toespraak van die jaar

Wenner: Geordin Hill-Lewis (DA): Sy toespraak oor die voorgenome planne met verpligte beleggingsriglyne vir pensioenfondse was ʼn kragtoer wat die gekke plan ontmasker en in die spore gestuit het, ten minste tydelik, dalk permanent. Die navorsing, voordrag en korrektheid van die argument is gekombineer met ʼn mate van statuur wat deur jare lange goeie werk gevestig is en ʼn rampspoedige momentum hopelik vir altyd gestuit het.

Naaswenner: Dr. Pieter Groenewald (VF Plus): Sy toespraak met die tweede staatsrede van die jaar (ná die algemene verkiesing) het die gevoelens van sy kiesers presies verwoord, en sy mandaat uitgestippel.

Parlementslid van die jaar

Wenner: Siviwe Gwarube (DA): Haar onvermoeide, feitelik korrekte en onverbiddelike stryd teen nasionale gesondheidsversekering is besig om die debat daaroor te verander. Sy stry die goeie stryd in landsbelang, op ʼn vriendelike en doeltreffende wyse. ʼn Opwindende voorbeeld vir ander.

Naaswenner: Hoofman Elphas Buthelezi (IVP): Sy bydrae in die ad hoc-komitee oor art. 25 van die Grondwet is dikwels deurslaggewend, des te meer omdat hy sy party se teenstand teen die wysiging van die Grondwet so beskaaf hanteer.

Dr. Leon Schreiber.

Nuweling-LP van die jaar

Wenner: Philip van Staden (VF Plus): Hy het deur tydige ingryping ʼn moontlike ramp met verpleegstersopleiding voorkom, en dra, soos Gwarube en dr. Suzan Thembakwayo van die EFF, broodnodige vuur en kennis by tot die portefeuljekomitee oor gesondheid.

Naaswenner: Dr. Leon Schreiber (DA): Sy gefokusde aanslag het daartoe gelei dat die gordel ingetrek is vir die kabinet-soustrein, en hy maak oor die algemeen ʼn merkbare verskil aan die vermorsing in die departement van staatsdiens en administrasie, tot ons almal se voordeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.