23 sterf in Thailand-vuurwerkfabriek

ʼn Groot rookwolk ná die ontploffing by ʼn vuurwerkfabriek naby Sala Khao in Suphan Buri, Thailand (17 Januarie 2024) (Foto: Handout / Thailand’s Novice Kaew Suphanburi Highway Rescue Association / AFP)

Minstens 23 mense is Woensdag dood ná ʼn ontploffing by ʼn vuurwerkfabriek in Thailand.

Die ontploffing het omstreeks 15:00 (0800 GMT) naby Sala Khao, in die sentrale Suphan Buri-provinsie, plaasgevind.

“Ons het berigte van die span ontvang dat 23 sterftes bevestig is,” het Nattapat Suwanprateep, goewerneur van die Suphan Buri-provinsie, aan AFP gesê.

Daar is nog nie enige inligting oor die oorsaak van die ontploffing nie. Nattapat sê beamptes stel ondersoek in.

“Die fabriek is wettig met geldige lisensies bedryf,” het hy gesê.

Polisiebeamptes het gesê die omliggende gebied het nie enige skade opgedoen nie. “Vensters op een huis is deur die ontploffing geraak, maar daar was nie enige verdere berigte nie,” het Nattapat bygevoeg.

Lt.genl. Naiyawat Phademchid van die polisie het aan AFP gesê eerste minister Srettha Thavisin, wat tans in Switserland die Wêreld- Ekonomiese Forum bywoon, is oor die voorval ingelig.

Die liggame sal uitgeken word sodra die situasie gestabiliseer is.

“Daar was gemiddeld tussen 20 en 30 mense wat daagliks by dié fabriek gewerk het,” het ʼn polisiebeampte gesê.

Srettha het in ʼn amptelike verklaring, wat aanlyn gedeel is, sy meegevoel betuig met die families. Hy het ook geëis dat ʼn ondersoek ingestel word om te bepaal of die fabriek onwettig bedryf is, asook om die oorsaak van die voorval te bepaal.

Ontploffings by werkswinkels wat vuurwerke vervaardig, is nie ongewoon in Thailand nie. Minstens 10 mense is verlede jaar dood in ʼn ontploffing by ʼn vuurwerke-pakhuis in Sungai Kolok, Narathiwa. Die ontploffing is vermoedelik veroorsaak deur sweiswerk tydens konstruksiewerk aan die gebou. Die polisie het later die eienaars gesoek op aanklag van nalatigheid.

Elf mense is ook verlede jaar beseer toe ʼn vuurwerkfabriek in Chiang Mai in die noorde van Thailand ontplof het.

Thailand het oor die algemeen ʼn swak veiligheidsrekord in die konstruksiebedryf en noodlottige ongelukke kom gereeld voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.