277%-toename in buurtwaglede

Argieffoto (Foto: Paul Brennan/Pixabay)

In antwoord op ʼn skriftelike vraag van die DA het die departement van gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap bevestig dat die aantal inwoners wat by buurtwagte in die provinsie aangesluit het oor die afgelope vyf boekjare van 4 093 tot 15 432 toegeneem het.

Dit verteenwoordig ʼn groei van 277% in dié verband. Daar is tans altesaam 490 buurtwagte oor die hele provinsie.

Gillion Bosman, die DA se woordvoerder oor gemeenskapsveiligheid in die Wes-Kaap, sê die toestroming van inwoners wat by hul plaaslike buurtwagte aansluit, dui nie net daarop dat mense hul gemeenskappe wil beveilig nie, maar wys ook hoe inwoners vertroue verloor in die polisie se vermoë om misdaad te bekamp.

“Buurtwagte speel nietemin ʼn noodsaaklike rol in die aanpak van misdaad, aangesien hulle broodnodige intelligensie versamel wat deur wetstoepassingsagentskappe gebruik kan word. Hierbenewens bied die teenwoordigheid van hierdie groepe ook aan ander gemeenskapslede ʼn gevoel van veiligheid terwyl hulle hul aangewese gebiede patrolleer,” sê Bosman.

Terwyl die finansiering van buurtwagte afhanklik is van beskikbare geldhulpbronne, kan ʼn geakkrediteerde eenheid elke jaar R10 000 ontvang om die administratiewe en bedryfskoste te dek. Om vir die finansiering in aanmerking te kom, moet die volgende gedoen word:

  • Maak seker dat die buurtwag geakkrediteer is.
  • Maak seker dat die eenheid ʼn bankrekening het wat daarna vernoem is, en deur die bank self bevestig word.
  • Die buurtwag benodig drie ondertekenaars volgens die Wet op Openbare Finansiële Bestuur (PFMA).
  • Staaf, met bewyse, dat die buurtwag voldoen aan die minimum akkreditasievereistes soos uiteengesit in die Wes-Kaapse Wet op Gemeenskapsveiligheid.

Die DA verwelkom die provinsiale departement se pogings om hierdie eenhede te ondersteun.

Min. Reagen Allen het hom daartoe verbind om ʼn veldtog te begin wat ʼn maandelikse misdaadbestryder sal aankondig, wat op sy beurt ʼn beloning sal ontvang vir hul pogings om gemeenskappe veilig te hou.

“Hierdie aansporing is nog ʼn voorbeeld van hoe ons provinsie met innovering vorentoe beweeg.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Christine ·

Dis buurtwagte en privaat sekuriteit wat ons veilig hou. Het julle jul eposte al afgestuur om teen die nuwe wet van Oortreding op Privaat Eiendom kapsie te maak? Het julle gesien hoeveel regte die kriminele nou gaan kry en hoe min regte ons gaan hê om ons eiendom en lewens te beskerm?

Nie Verbaas ·

N bewys dat Cele se Suid Afrikaanse KFC lede nie hul werk wil of kan doen nie. Respek vir die minderheid ywerige lede wat wel hulle werk doen.

Jack ·

Dis lekker om nuus te lees wat n verskil maak. Die land se veiligheid is in die hande van die inwoners weens die korrupsie van die anc op alle vlakke. Wonder net wanneer gaan die polisie staak omdat mense hulle werk doen.

Di ·

Wonderlik! Ons het geen ander keuse as om self pogings aan te wend om ons woongebiede te beveilig teen misdadigers nie. Polisiemag skitter in hulle afwesigheid en meeste van hulle stel nie belang om hulle werk te doen nie.

SjN ·

Dit is klap in hoedeman en sy kaders se gesig, hul is nie bevoeg en in staat om veiligheid toe te pas nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.