“Die vrou is in Nkombose in hegtenis geneem nadat die polisie elke stukkie inligting van die gemeenskap opgevolg het waar die seuntjie moontlik kan wees,” het lt.kol. Thulani Zwane, woordvoerder van die polisie, gesê. “Die beamptes het deurnag gewerk om die baba en die verdagte op te spoor.”
Die baba se ma het Donderdag omstreeks 13:30 hom na ʼn kliniek geneem om ingeënt te word, toe die vrou die baba by die ma afgevat het omdat hy gehuil het. “Die vrou het die baba gesus en hy het aan die slaap geraak. Sy het aan die ma gesê sy gaan net haar sussie soek, en daarna het sy en die baba verdwyn,” het Zwane bygevoeg.
Die KwaMsane-polisie het ʼn saak van ontvoering ondersoek en die baba is langs die slapende vrou gevind. “Die baba is ongedeerd en is later aan sy ouers teruggegee.”
Die vrou sal na verwagting Maandag in die KwaMsane-landdroshof verskyn.
Bhekinkosi Langa, provinsiale polisiekommissaris, het die beamptes geloof dat hulle die baba binne ʼn paar uur gevind en die verdagte in hegtenis geneem het. Hy het ook die gemeenskap bedank vir hul samewerking om inligting te gee wat daartoe gelei het dat die babaseuntjie veilig gevind is. Hy het ouers gemaan om nooit hul kinders aan vreemdelinge te oorhandig by klinieke, binnelandse sake, taxis of ander plekke nie.
Dankie julle goeie werk
Goeie einde aan die storie te danke aan geesdriftige beamptes.