34 skietmoorde per dag, maar ‘min vuurwapenbeheer’

Foto bloot ter illustrasie. (Foto: Maaxim Hopman/Unsplash)

Vuurwapens word in byna die helfte van alle moorde in Suid-Afrika gebruik. Nietemin meen drukgroepe dat min gedoen word om voldoende vuurwapenbeheer in die land toe te pas.

Bheki Cele, minister van polisie, het Vrydag die misdaadsyfers vir die tweede kwartaal bekend gemaak en onthul dat vuurwapens dikwels die wapen van keuse in moorde is.

Gun Free South Africa (GFSA) sê tussen Julie en September is drie meer mense per dag met vuurwapens vermoor. Dit beteken dat 34 mense daagliks met hierdie wapens om die lewe gebring is.

Die jongste misdaadsyfers wys daarop dat mans met vuurwapens dikwels die moorde gepleeg het.

Claire Taylor, navorser by GFSA, sê egter sonder voldoende vuurwapenbeheer sal daar net meer vuurwapens wees om mense dood te skiet, te beseer of te dreig.

“Om die beskikbaarheid van vuurwapens te beperk red lewens en dit is al in Suid-Afrika se geskiedenis bewys,” sê sy.

“Suid-Afrika se skietmoorde is van 34 sterftes per dag in 1998 gehalveer tot 18 skietmoorde per dag in 2009 toe die beskikbaarheid van vuurwapens verminder is. Dit was danksy verskeie kontroles wat met die Wet op die Beheer van Vuurwapens verband hou.”

Taylor wys daarop dat die sirkulering van onwettige vuurwapens ná die 2010-’11-finansiële jaar weer begin toeneem het nadat swak beplanning, korrupsie, en diefstal by wetstoepassingsowerhede posgevat het.

Die minister het Vrydag aangevoer dat die polisie besig is om een na die ander vuurwapen uit die omloop te verwyder, en dat daar reeds op 2 175 onwettige vuurwapens beslag gelê is in die tweede kwartaal.

GFSA sê egter meer moet gedoen word, soos om gespesialiseerde vuurwapeneenhede op die been te bring om onwettige vuurwapens op te spoor en te vernietig.

“Die beheer oor wettige wapens moet ook verbeter,” sê sy.

GFSA het ʼn beroep op die regering gedoen om wysigings aan die Wet op die Beheer van Vuurwapens aan te bring sodat skuiwergate vermy kan word en die land se wapenwetgewing “eindelik in lyn kan kom met wêreldwye verpligtinge en norme”.

Die organisasie vra ook dat die sentrale vuurwapenregister ten volle funksioneel sal word sodat elke wapen wat deur burgerlikes en die staat besit word, van wieg tot die graf, opspoorbaar is.

‘Cele verloor oorlog teen misdaad’

Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder oor polisie, sê ongeag wat gedoen word, is een ding duidelik: Die minister is besig om die oorlog teen misdaad te verloor.

“Cele het in 2020 ʼn prestasie-ooreenkoms aangegaan waarin hy ingestem het om kontakmisdade binne vyf jaar met 30% te verminder, maar sedert hy aangestel is, het kontakmisdade met 30% toegeneem terwyl 60% van alle moorde in die afgelope tien jaar op Cele se kop is,” sê hy.

“Onder leiding van die minister het die SAPD reeds 8 000 speurders en 5 000 reserviste verloor en die DNS-agterstand staan steeds op 50 000.

“Hierdie skokkende syfers, wat oor meer as ʼn dekade bly styg het, is ʼn direkte gevolg van swak leierskap tesame met swak beleid en bestuursbesluite.”

Whitfield het gesê hy gaan ʼn skrywe aan pres. Cyril Ramaphosa rig met bewyse dat Cele hom nie van sy taak kwyt nie en dat hy dadelik afgedank moet word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Cornelius ·

Dalk moet die mense by Gun Free SA deur die proses gaan om ‘n vuurwapen te bekom wat hulle aanvoer nie voldoende beheer oor vuurwapens bied nie. My wettige vuurwapens is nie die oorsaak van misdaad nie. Ek as wettige vuurwapen eienaar is keelvol daarvoor om die skuld vir misdaad te kry deur ‘n nuttelose organisasie soos Gun Free SA en die mense wat daar werk wat ver werwyder van die werklikheid af is.

Jan Jacobs ·

Gunfree south Africa, kon nog nooit helder dink nie, raai wie verloor die meeste vuurwapens die staats in stellings.

Anel ·

Gun Free South Africa (GFSA) sê tussen Julie en September is drie meer mense per dag met vuurwapens vermoor. Dit beteken dat 34 mense daagliks met hierdie wapens om die lewe gebring is.
Hierdie verstaan ek nie so lekker nie.
Verder, die meeste moorde word met onwettige wapens gepleeg. Hoeveel van fie wapens is nie by polisielede of stasies geroof nie? So moennie kom sukkel met wetgehoorsame burgers nie. Kry jou vuurwapenstelsrl op datum. Mense wag jare vir hul wettige lesensies!
In elke geval is een moord te verl. Daar moet geen misdaad wees nie, maar nou ja, kriminele het meer regte as gehoorsame burgers en dat moet ons nog hul salarisse betaal. Pleks hulle van die aardbol verdwyn!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.