356 lewenslange vonnisse vir 266 seksuele oortreders

Argieffoto (Foto: Josh Hild/Pexels)

Harde werk deur die polisie se eenheid vir gesinsgeweld, kinderbeskerming en seksuele oortredings (FCS) werp vrugte af. Altesaam 1 733 seksuele oortreders is die afgelope jaar suksesvol vervolg en 266 van dié oortreders is 356 lewenslange vonnisse is opgelê.

Kol. Athlenda Mathe het gesê beamptes van dié gespesialiseerde eenheid werk daagliks onverpoosd om oortreders aan te keer wat misdade pleeg teen vroue, kinders en kwesbare groepe. “Hierdie vonnisse sal seker maak dat seksuele oortreders nie meer vrylik op straat is in Suid-Afrika waar hulle mense op alle vlakke van die samelewing kan teister nie – veral nie ons kinders nie.”

Die eenheid, wat weer in 2010 op die been gebring is, het 176 eenhede landswyd met nege ondersoekeenhede wat fokus op elektroniese en reeksmisdade.

“Dit is belangrik om te noem dat dié suksesse nie moontlik sou wees sonder die deelname, samewerking en bystand van die departement van maatskaplike onwikkeling en nasionale vervolgingsgesag nie, asook die gemeenskappe en nieregeringsorganisasies wat die ondersoeke ondersteun het.”

In die afgelope jaar is die volgende suksesse behaal:

  • 356 lewenslange vonnisse vir 266 beskuldigdes
  • 5 008 vonnisse van 20 jaar vir 189 beskuldigdes
  • 8 166 vonnisse van tussen 10 en 19 jaar vir 487 beskuldigdes
  • 3 717 vonnisse van tussen 1 en 9 jaar vir 791 beskuldigdes.

Mathe het ook na die volgende hoogtepunte verwys:

  • ʼn 29-jarige stiefpa van die Wes-Kaap is ʼn lewenslange vonnis opgelê vir die verkragting en moord op sy stiefseun. Die seuntjie was een jaar oud toe hy verkrag en met ʼn baksteen aangerand is. Hy het aan sy beserings beswyk. Die stiefpa is suksesvol met DNS-bewyse aan die verkragting en moord verbind. Hy is op 31 Augustus 2020 gevonnis.
  • Moswathupa Nkgogeletse (34) is in die Polokwane-hooggeregshof in Limpopo tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van ʼn baba. Die oorlede slagoffer was een jaar oud. Nkgogeletse het die slagoffer met lekkergoed na ʼn nabygeleë bos gelok en die kind verkrag en doodgemaak. Die man en die slagoffer het mekaar nie geken nie. Die beskuldigde is suksesvol met die misdaad verbind deur ondersoek en DNS-monsters.
  • ʼn 44-jarige pa van Mpumalanga is op 25 Augustus 2020 in die Nelspruit-hooggeregshof twee lewenslange vonnisse opgelê vir die verkragting van sy twee kinders, onderskeidelik sewe en 11 jaar oud. Die ma van die twee kinders is ook tot vyf jaar tronkstraf gevonnis omdat sy versuim het om die mishandeling aan te meld. Die twee is in hegtenis geneem toe ʼn onderwyser by die kinders se skool die saak by die polisie aangemeld het toe een van die kinders oor die mishandeling gepraat het.
  • ʼn 59-jarige stiefpa is in Noordwes tot lewenslange tronkstraf gevonnis vir die verkragting van sy sesjarige stiefdogter. Die verkragting het op 1 Desember 2018 by die huis van die slagoffer en die oortreder plaasgevind. Die man is op 18 Augustus 2020 in die Jouberton-landdroshof gevonnis.
  • Tashuma Bambore (32) is op 22 September 2020 in die Oos-Kaap lewenslank gevonnis vir die verkragting van ʼn vyfjarige meisie. Die ma van die slagoffer het haar na ʼn nabygeleë winkel gestuur. Die Bambore het haar op pad gevind, haar na sy huurkamer geneem en haar verkrag. Die ma van die kind het na haar begin soek toe sy nie teruggekeer het nie. Op pad na die winkel het ʼn lid van die gemeenskap gesê sy het die dogtertjie saam met die beskuldigde gesien. ʼn Saak is by die plaaslike polisie aanhangig gemaak en Bambore is met DNS aan die verkragting verbind.
  • Petrus Molefi (47) is in die Bloemfonteinse hooggeregshof in die Vrystaat lewenslank gevonnis vir die verkragting van ʼn 16-jarige verstandelik gestremde meisie.
  • Steven Visagie (29) is op 21 Junie 2020 in die Kimberley-landdroshof tot drie keer lewenslank gevonnis nadat hy skuldig bevind is op aanklag van verkragting, aanranding, roof en ontvoering van 14 vroue in die Kimberley-gebied. Hy het vroue tussen 2014 en 2017 geteister tot hy in hegtenis geneem is. Hy het slagoffers na ʼn nabygeleë bos gelok waar hy hulle herhaaldelik verkrag het, soms met ʼn mede-oortreder. Sy jongste slagoffer was 17 jaar oud en die oudste 39 jaar ten tyde van die voorval. DNS-monsters het Visagie met al 14 gevalle in Galeshwe, Kagisho en Kimberley verbind.
  • Phumelani Mazibuko (44) is op 14 April 2020 in die Estcourt-landdroshof in KwaZulu-Natal tot 155 jaar tronkstraf gevonnis op vyf aanklagte van verkragting. Hy het kinders en vroue al sedert 2003 in die gebied geteister. Sy jongste slagoffer was maar nege jaar oud. Mazibuko het sy slagoffers met ʼn vuurwapen gedreig en na ʼn afgeleë gebied geneem waar hy hulle herhaaldelik verkrag het.
  • Mpho Radebe (30) is vyf lewenslange vonnisse in die Vereeniging-landdroshof in Gauteng opgelê vir die verkragting van vyf vroue in Lenasia en Orange Farm. Die oortredings het tussen 2013 en 2015 plaasgevind. Die slagoffers het nie die man geken nie. Hy het hulle almal in ʼn oop veld oorweldig waar hy hulle met ʼn mes of vuurwapen gedreig en verkrag het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jack ·

Prestasie vir die land se regstelsel. Was dit maar so vir die wat nie meer kan getuig nie. Wat van die plaasmoorde?

johann ·

Goeie prestasie van die polisie se kant maar as lewenslank nie werklik LEWENSLANK toegepas word nie is alles niks werd nie

Sarel ·

Dit is nou in ‘n Land waar Politieke Partye elke jaar die onderwerp gebruik vir die verkeerde doeleindes spos nou weer .Lewenslank….bestaan nie in SA nie en die ” Term ”
Aaneenlopend moet geskrap word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.