37 000 ‘miljoenêr-kaders’ melk belastingbetalers droog

(Argieffoto: Maroela Media)

Die getal provinsiale en nasionale staatsamptenare wat nou meer as R1 miljoen per jaar verdien het tot 37 839 gestyg.

“Dié syfer is beperk tot nasionale en provinsiale departement en sluit uitvoerende hoofde by staatsbeheerde instellings, munisipaliteite en ander staatsagentskappe uit,” sê dr. Leon Schreiber, die DA se woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Dié syfers kom uit ʼn antwoord van Noxolo Kiviet, die minister van staatsdiens en administrasie, op parlementêre vrae wat Schreiber aan hom gestel het.

Volgens die minister se antwoorde verdien:

  • 28 343 amptenare net meer as R1 miljoen per jaar
  • 8 748 verdien tussen R1,2 miljoen en R1,7 miljoen
  • 631 bestuurders verdien net meer as R1,7 miljoen
  • 117 verdien meer as R2,1 miljoen

Die meer as 37 000 “miljoenêr-kaders” is nou boonop aansienlik meer as die 10 000 staatsamptenare wat ʼn dekade gelede hierdie salaris in die sak gesteek het.

“In ʼn enkele jaar van salarisbetalings aan hierdie 37 839 hoogs betaalde kaders het dit belastingbetalers in totaal byna R47 miljard gekos,” sê Schreiber.

“Altesame R46 881 819 370 om presies te wees.”

Schreiber bestempel dit as ʼn klap in die gesig van belastingbetalers.

“Die verbysterende bedrag wat bestee word om die luukse leefstyl van duisende ANC-kaders te finansier, wat ons land in die grond in bestuur het, is ʼn belediging vir die mense van Suid-Afrika wat tans gebuk gaan onder die ergste lewenskostekrisis in ʼn generasie.

“Terwyl ANC-kaders smul, kan miljoene Suid-Afrikaners nie meer bekostig om kos op die tafel te sit nie en miljoene ander kry nie werk nie.”

Die inligting dui op net nóg ʼn rat in die ANC se kaderontplooiingskema, sê Schreiber. “Deur aanstellings in die openbare sektor te manipuleer om ‘lojale kaders’ te bevoordeel, het die ANC sy meelopers regdeur die staat in hoogsbetaalde posisies ontplooi.

“Deur politieke lojaliteit bo die behoefte aan vaardigheid en bevoegdheid te stel, het die ANC dit reggekry om ʼn netwerk van tienduisende kaders in aanloklike posisies te plaas. Dit is gedoen ten koste van dienslewering wat ineenstort in die vorm van water- en kragonderbrekings, paaie en spoorweë wat verbrokkel en toenemende werkloosheid.”

Schreiber meen ook dit verduidelik waarom die ANC vasbeslote is om aan sy beleid van kaderontplooiing vas te klou. “Dit is die kern van die ANC se korrupsie- en patronaatskapmasjinerie. Ondanks die feit dat die praktyk staatskaping fasiliteer, soos die Zondo-kommissie bevestig het, hou die ANC vol met sy verdediging van hierdie mees skadelike vorm van sistemiese korrupsie.”

Die DA is al lank gewikkel in ʼn hofstryd om die ANC te dwing om van die beleid van kaderontplooiing afstand te doen.

Die party het in sy verkiesingsmanifes ook gesê hy is gekant teen dié praktyk.

“Die ANC weier om dit te doen omdat duisende van sy kaders afhanklik is van die opbrengs van korrupsie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.