40% meer padsterftes tydens Paasfees

Slaggat naby Misa se hoofkantoor in Northcliff, Johannesburg (Foto: Misa)

Misa, die Motor Industry Staff Association, het ʼn pleidooi gerig aan die regering om ʼn oplossing te vind vir die slaggatpandemie wat deur Suid-Afrika in die gesig gestaar word.

Martlé Keyter, uitvoerende hoof vir operasionele sake van Misa, sê daar was 59 meer sterftes in vergelyking met dieselfde periode verlede jaar.

Misa eis dat vervoerminister Sindisiwe Chikunga aan Suid-Afrikaanse motoriste moet bekend maak hoe en wanneer die slaggat-pandemie in Suid-Afrika behoorlik getakel gaan word voor nóg padgebruikers sterf. Altesaam 225 persone is tydens die Paasnaweek oorlede in 185 noodlottige ongelukke.

“Die minister het gesê roekelose en nalatige bestuur en dronkbestuur is van die faktore wat tot die slagting op ons paaie, maar hy het geswyg oor die ontstellende toestand van ons paaie. Dit is ook nie duidelik watter vordering, indien enige, gemaak is met die Vala Zonke-projek wat deur die voormalige vervoerminister Fikile Mbalula op 8 Augustus verlede jaar van stapel gestuur is om slaggate in al die provinsies te takel nie.”

Keyter het verlede maand gewaarsku dat finansiesminister Enoch Godongwana se begroting van R142,9 miljard vir konstruksie, opgradering en instandhouding aan nasionale en provinsiale padnetwerke oor die volgende drie jaar nie voldoende is om die geraamde 25 miljoen slaggate landswyd te herstel nie.

Andrea van Heerden, senior regsprojekbestuurder by die Organisasie teen Belastingmisbruik (Outa), maan ook die departement van vervoer om met burgerlike organisasies saam te werk om oplossings te vind vir padveiligheid en ander vervoerkwessies.

Outa sê die 40%-styging in padsterftes oor die Paasnaweek is ʼn duidelike teken dat die regering ondoeltreffend is en onbekwaam is om die voortgesette probleem te hanteer.

“Ons is uiters besorg oor die feit dat 225 mense in só kort tydjie op ons land se paaie gesterf het. Veral as mens in ag neem dit is 40% meer as oor dieselfde periode verlede jaar.”

Ondanks die departement van vervoer se “Dekade van Aksie vir Padveiligheid”-program, tussen 2010 en 2020 wat belyn is met ʼn inisiatief deur die Verenigde Nasies om padveiligheid wêreldwyd te verbeter en padsterftes en ernstige beserings met 50% te verminder, bly die situasie in Suid-Afrika vererger en die slagting op ons paaie duur is elke jaar groter, sê Van Heerden.

“Ons land het die afgelope dekade al verskeie vervoerministers gehad (ongeveer sewe sedert 2009) en elkeen verbind homself om iets te doen aan dié ernstige probleem. Tog beweeg Suid-Afrika nie weg van die lys van die 20 ergste lande in die wêreld wat betref padsterftes per capita nie. Buiten bewerings van verhoogde polisieteenwoordigheid tydens hoë verkeersvolumeperiodes soos Paasfees of Kersfees, sien ons nie enige verskille of inisiatiewe wat ʼn impak maak deur die departement van vervoer nie.”

Van Heerden sê tydens onlangse hofsake wil dit voorkom of die departement van vervoer vol vertroue is dat Aarto-wysigings die “wondermiddel sal wees vir ons padsterfteprobleme”.

“Outa is nie oortuig dat die Aarto-wysigings padsterftes sal verminder nie – net soos wat dit nie die oplossing was in die twee metromunisipaliteite waar dit toegepas is (Johannesburg en Pretoria) die afgelope dekade nie.”

Outa glo dat ʼn behoorlik gefinansierde leidingsagentskap, beter sigbare polisiëring en ʼn nasionale strategie met meetbare teikens om kwessies rondom padveiligheid aan te roer, al lankal agterstallig is.

“Hierdie strategie moet ook aanspreeklikheid insluit vir diegene in verskeie posisies wanneer dié teikens nie gehaal word nie. Al hierdie maatreëls is noodsaaklike dele van ʼn volhoubare reaksie op padveiligheid. Enigiets minder sal beteken dat hierdie ongeregtigheid aan Suid-Afrikaanse burgers onverpoosd voortduur. Ons glo dit is hoog tyd dat die departement van vervoer betekenisvol met die talle geloofwaardige belanghebbendes in die vervoerbedryf en burgerlike samelewing, soos Outa, in gesprek tree om oplossings te vind. Ons sien uit daarna om met minister Chikunga te gesels hieroor en oor ander sake wat met Suid-Afrika se vervoerprobleme verband hou.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.