50% van motoriste omkoopgeld gevra – peiling

Die verdagtes in die sogenaamde ‘bloulig-aanrandingsaak’. (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Minder as 5% van motoriste voel hulle kan lede van die Suid-Afrikaanse polisie vertrou wanneer hulle van die pad afgetrek word. Een uit elke twee motoriste wat afgetrek word, word boonop gevra om omkoopgeld te betaal.

Só wys ʼn opname wat Action Society onder 4 417 lede van die publiek gedoen het, na afloop van die sogenaamde “bloulig-aanrandingsaak” wat in Julie vanjaar op die N1 in Johannesburg plaasgevind het. Die agt verdagtes in dié saak het weer Woensdag in die streekhof in Randburg verskyn.

Net 207 deelnemers aan die peiling (4,7%) het aangedui dat hulle die polisie vertrou indien hulle afgetrek word. Altesaam 40% van respondente (1 767) is onseker of hulle die polisie kan vertrou en meer as die helfte (55,3%) sê dat hulle onveilig voel wanneer hulle afgetrek word.

Die peiling wys verder dat net 17,2% (760) van deelnemers aangedui het dat polisiebeamptes hulself voorgestel het nadat hulle afgetrek is. Meer as die helfte van respondente (53,2%) is boonop gevra om omkoopgeld te betaal. Manlike motoriste is meer gereeld (56,1%) as vroue vir omkoopgeld gevra.

Volgens Ian Cameron, hoof van gemeenskapsveiligheid by Action Society, het nie die polisie óf die howe tot dusver veel gedoen om openbare vertroue in die vervolging van kriminele beamptes in te boesem nie.  “Die polisie het weke geneem om die verdagtes in hegtenis te neem en hulle toe op betaalde verlof geplaas, terwyl die howe hulle spesiaal behandel het deur die verdagtes toe te laat om met maskers aan in die hof te verskyn,” sê Cameron. “Hulle is boonop op borgtog vrygelaat, ten spyte van die ernstige aanklagte teen hulle.”

Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada staan tereg op altesaam 12 aanklagte, wat insluit die rig van ʼn vuurwapen, roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dwarsboming van die gereg en die dreigement van aanranding. Die klagtes spruit uit ʼn aanranding wat op 2 Julie op die N1-hoofweg in Fourways plaasgevind het en op video vasgevang en versprei is.

Cameron sê die saak het die korrupte kultuur binne die polisie blootgelê, iets wat Cameron meen slegs getakel kan word deur die polisie van alle korrupte beamptes te suiwer.

“Die hartseer realiteit is dat die goeie polisielede die grootste verloorders in die proses is. Hulle word in die steek gelaat deur bestuur, het hopeloos te min hulpbronne en, weens die optrede van beamptes wat kies om deel te neem aan Mafia-tipe optrede, is hulle ook aan die ontvangkant van die publiek se wanvertroue.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Niklaas ·

My agting en respek vir die SA polisie en ook Verkeerspolisie het nogal erg geduik die afgelope paar jare. Daar is net teveel gevalle van korrupsie.

hpven ·

Die werklike probleem lê by die regime regeerder, Ramaphosa en sy bende wat hyself aangestel het. Feit.

JohanR ·

As ek gestop word sit ek dadelik my video op my foon aan en sit hom of in die deur of in die middle mantjie. Ek se nog sit daai X in 2024 enige plek behalwe by die ANC en EFF.

Karoo ·

Hoekom word die skurke toe gelaat om hulle gesigte agter klere en maskers weg te steek? Hulle is dan oopenlik skelm langs die pad in uniforem? Nou is hulle kamstag “skaam” en bang vir hulle families nadat hulle “kos geld” by padverbruikers eis.

Karoo ·

Ek verwys na geld wat mense self nodig het word vereis. Nie werklik geld dat die skurke kos voor kan koop nie.

Sue ·

Ek ry onder die spoedgrens en volg die wet sodat ek nooit afgetrek word Nie. Ek ry nerens na sonsondergang.

Nonnie ·

DIE POLISIE WEK ONGELUKKIG HUIDIGLIK DIE INDRUK DAT DIT DIE GROOTSTE MISDAAD ORGANISAIE IN SUID AFRIKA IS, WAT MET DIE ANC SE GOEDKEURING, DIE WANDADE PLEEG!!!!

Papsak ·

Dink niks van polisies nie daar baie korrupsie onder hulle geen respek vir hulke nie

Boatsie ·

Nou vra ek ook waar kom dié gier vandaan waar regters nou die sleg wetters toelaat om hul gevrete in die hof weg te steek?????????

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.