Blouligbrigade: SA moet weet watter polisielid het wát gedoen

Van links: Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Die onafhanklike ondersoekdirektoraat (Opod) en die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) moet die tyd nou gebruik om ’n deeglike ondersoek van stapel te stuur om die agt geskorste polisiebeamptes se individuele en kollektiewe rolle voor, tydens en na die N1-voorval vas te stel.

Die beamptes is Dinsdag op borgtog van R10 000 elk vrygelaat en die saak is tot 27 September uitgestel vir verdere ondersoek.

Volgens die nuwe politieke party Rise Mzansi moet die staat voor dié datum sy huis in orde kry om meer antwoorde oor die saak te kan verskaf.

Shadrack Kojoana, Johannes Matome Mampuru, Pomso Joseph Mofokeng, Harmans Madumetja Ramokhonami, Phineas Molefo Boshielo, Churchill Mpakamaseni Mkhize, Lesibana Aggrie Rambau en Moses Fhatuwani Tshidada staan tereg op altesaam 12 aanklagte, wat insluit die rig van ʼn vuurwapen, roekelose en nalatige bestuur, kwaadwillige saakbeskadiging, aanranding met die doel om ernstig te beseer, dwarsboming van die gereg en die dreigement van aanranding.

Die klagtes spruit uit ʼn aanranding wat op 2 Julie op die N1-hoofweg in Fourways plaasgevind het en op video vasgevang en versprei is.

Volgens landdros Hleziphi Mkhasibe word die beskuldigdes op borgtog vrygelaat op voorwaarde dat hulle nie op enige wyse kontak met enige van die staatsgetuies mag hê nie. Hulle mag ook nie deur middel van iemand anders kontak met dié getuies maak nie.

Beskuldigde vier Harmans Madumetja Ramokhonami (Foto: Anja van der Merwe/Maroela Media)

Mkhasibe het ook beslis dat die beskuldigdes nie op enige wyse met die staat se ondersoeke mag inmeng nie.

Die landdros het ook aangevoer die staat het ʼn swak saak, waar deeglike ondersoekwerk nie gedoen is nie, teen die beskuldigdes. Sy het ook gesê die staat het nie daarin geslaag om te bewys dat dit in die belang van geregtigheid sal wees dat die beskuldigdes nie op borgtog vrygelaat word nie.

Volgens Makashule Gana van Rise Mzansi is die party bekommerd oor die gate in die saak wat nog toegestop moet word.

“Suid-Afrika het gesien dat te veel ‘oop en toe’-sake in duie stort of ten gunste van die beskuldigdes beslis word weens die swak werk van die staat. Ons hoop nie dat hierdie saak in dieselfde rigting sal loop nie,” sê Gana.

Rise Mzansi het op 4 Julie (twee dae ná die voorval) ’n klag by Opod ingedien waarin hulle versoek dat die ondersoek nie by dié agt geskorste polisiebeamptes stop nie, maar dat ’n kultuur van wetteloosheid onder beamptes en binne die BBP-beskermingseenheid ook onder die loep geneem word.

“Die eerste en hoogste verantwoordelikheid van die staat is om ons almal se lewens te beskerm; te dikwels is die staat verantwoordelik vir die geweld en gebrek aan veiligheid wat burgers daagliks ervaar. Dit is dus alle Suid-Afrikaners se verantwoordelikheid om te stem vir leiers wat veilige gemeenskappe wil bou.

“Suid-Afrikaners verdien om in veiligheid te leef, nie in konstante vrees en angs vir hul eie veiligheid en dié van hul geliefdes nie.

“In hierdie verband doen ons dus ’n beroep op Suid-Afrikaners om voort te gaan met die indiening van hul voorvalle met die BBP-eenheid via [email protected].”

Action Society het ’n veldtog van stapel gestuur waarin hy eis dat die agt beskuldigdes uit die polisiediens ontslaan word (of sonder betaling geskors word) en dat hul toegang tot persoonlike wapens weggeneem moet word.

“Dit is duidelik dat hulle nie geskik is om ’n vuurwapen te dra nie,” sê Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society.

Die veldtog is ook daarop gemik om toe te sien dat die beskuldigdes sonder maskers verskyn en hul gesigte vir die wêreld wys.

Lede van die publiek kan op die veldtogplatform hul kommentaar lewer wat aan die lt.genl. Sehlahle Fannie Masemola, nasionale polisiekommissaris, gestuur sal word.

“Ons doen ’n beroep op almal om ons platform te gebruik om ’n brief aan die nasionale polisiekommissaris te stuur wat bevestig dat hul belastinggeld nie wanbestee kan word om salarisse van misdadigers of hul verdediging te finansier nie.

“Belastingbetalers sal nie die rekening betaal vir polisielede wat in die openbaar ’n geweldsmisdaad gepleeg het nie – of dit nou vir hul regskoste of vir hul salarisse is. Ons eis dat hul skorsings minstens sonder betaling moet wees en ideaal gesproke dat hul diens by die polisie so gou moontlik beëindig word.”

Action Society eis ook van Masemola dat hy skriftelik sal bevestig dat die polisie geen aansoeke van die agt beskuldigdes om bystand met hul regskoste vir hierdie saak sal oorweeg nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Hulle moes dag een al gearresteer gewees het,en was daar nie die video materiaal nie sou hier niks van gekom het nie.Die polisie se keuring is verkeerd en moet hersien word deur bevoegde professionele mense.

Danie ·

Die polisie top bestuur is nog steeds nie openlik oor die geval.Die krimenele optrede in die openbaar en die ernstigheid daarvan regverdig summiere ontslag uit die diens.Menige wit polisiemanne ontslaan op vals klagtes.Geregtigheid moet seevier.

GeloofInGodNieMense ·

‘Die landdros het ook aangevoer die staat het ʼn swak saak, waar deeglike ondersoekwerk nie gedoen is nie, teen die beskuldigdes’ REGTIG?? Daar is n VIDEO én FOTO’s. Lyk eerder of die landdros alreeds aan die kant van die beskuldigdes is! Mag reg en geregtigheid geskied en daar n voorbeeld van hierdie lede van die polisie gemaak word.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die landdros waarsku net die staat dat hul ondersoekwerk nie op standaard is nie. Die staat moet eerder kennis neem en hul werk begin doen. In sy kommentaar hier ‘n paar dae gelede het ‘n oud-speurder (HPJ) dieselfde gesê.

Republikein in die Wes Kaap ·

Gerrie Nel en sy span moet eerder oorneem. Die staat is te lig in die broek.

etienne ·

En tot op hierdie minuut, het cele nog niks gese nie, so by implikasie, keur hy wat Cele is, hierdie polisie optrede goed.

HPJ ·

Dit is duidelik dat Action society nie n idee van die Strafproses wet het nie Eerstens niemand is skuldig voor hy nie skuldig bevind is nie N beginsel in alle demokrasie Tweedens Dit is duidelik dat agv politiek druk die saak op die hofrol geplaas is voor alle ondersoek gedoen is Derdens Die polisie het n interne proses waar dit bepaal word of iemand ontslaan kan word As hierdie lot onskuldig kom moet die skuld voor Action society en die DA se deur gele word want hulle het druk uitgeoefen dat die saak op die hofrol geplaas is voor die ondersoek voltooi is Hier moes n formele Identifikasie parrade gehou gewees het voor die lot in die hof verskyn het

wiesalweet ·

HPJ, sover ek dit het, het hierdie 8 lede hulle self gaan oorhandig, so waarom moes daar ‘n uitkenninsparade gehou word?

HPJ ·

Omjouself te gaan oorgee Is nie n skuldig pleit nie Die video wat ek gesien het is te swak vir gesig identifikasie In die Strafproses wet word duidelik voorgesryf hoe n Identifikasie parade gehou moet word en wat n positiewe identifikasie is Wat ek uit al die berrigte by versklillende media gelees Is daar geen Id parade gehou nie So die verdagtes is nog nie formeel deur die klaer en getuies uit geken nie

Niklaas ·

En hierdie mans is nou skielik baie beskeie en vertoon nie hul gesigte nie.

Republikein in die Wes Kaap ·

Seker in opdrag van hul prokureurs. Daai spul gaan loskom. Werklik tragies.

Johanncb ·

Die feit dat hulle vermom bly, wys dat hulle iets het om weg te steek. Onkundige mense wys hul gesigte.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.