6 000 sal werk verloor en 420 poskantore sluit

(Foto: SA Poskantoor)

Sowat 6 000 personeellede sal hul werk verloor en 420 poskantoortakke sal landswyd sluit. Dit is bekendgemaak deur die Suid-Afrikaanse Poskantoor se sakereddingspraktisyns, Anoosh Roolpal en Juanita Damons.

“Dit is ʼn absolute katastrofe,” sê Natasha Mazzone, die DA se skaduminister van kommunikasie en digitale tegnologieë. “Hierdie ingryping sal ons werkloosheidskrisis vererger en omstandighede vir kwesbare burgers, wat op die Poskantoor staat maak, verswak. Buiten posdienste, ontvang Sassa-begunstigdes ook hul toelaes by die Poskantoor.”

Begunstigdes in landelike gemeenskappe moet reeds ver reis weens poskantoortakke wat gesluit het. Verdere sluitings sal dit byna onbekostigbaar maak vir pendelaars. In stedelike gemeenskappe sal dit tot langer rye en wagtye lei. “Ons sien reeds hoe begunstigdes die hele dag of selfs dae lank in ʼn ry moet staan en wag.”

Maroela Media het vroeër berig Roolpal en Damons meen die Poskantoor kan volhoubaar as ʼn lopende saak bedryf word. Hulle het dié standpunt egter gegrond op die reddingsboei van R2,4 miljard wat die nasionale tesourie in Februarie se begroting aan Sapo toegeken het, asook op ʼn bykomende finansieringsvereiste van R3,8 miljard om Sapo te herkapitaliseer.

Die Poskantoor het tussen 2014 en 2019 ʼn reddingsboei van R7,9 miljard van belastingbetalers ontvang. Die Poskantoor is in Februarie vanjaar voorlopig gelikwideer toe dit nie sy R12,5 miljard skuld kon delg nie.

Tog het 396 takke landswyd sedert 2020 gesluit en 6 000 werkers is afgelê. Nou word verdere sluitings en afleggings verwag.

“Soos wat dinge nou staan, sal daar gou dalk geen Poskantoor wees nie,” sê Mazzone.

Die DA doen ʼn dringende beroep op die minister van kommunikasie en digitale tegnologieë, Mondli Gungubele, om te laat weet wat sy planne is om die taksluitings te takel vir gebruikers wat op die poskantoor staatmaak vir posdienste en die ontvang van maatskaplike toelaes; of poskantoorwerkers afleggingspakkette en ander ondersteuning sal ontvang aangesien die poskantoor reeds nie sy belasting, pensioenfonds of mediese fonds kon betaal het nie.

Mazonne sê die DA wil ook by Gungubele weet wat die agteruitgang van die poskantoor beteken vir die Suid-Afrikaanse Posbank, aan wie R3,2 miljard verskuldig is deur die Poskantoor en of die uitvoerende bestuur van die Poskantoor se salarisse besnoei of verminder sal word, aangesien die uitvoerende hoof tans R4 miljoen verdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Lizanne ·

Ek voel baie jammer vir die wat hul werk gedoen het. Maar poskantore staff was waar ek al oor die jare gekom het uiters ongeskik, onbehulpsaam… as mens nie mens se werk goed doen nie is dit ongelukkig die gevolge…

annie ·

Watter soort werk word nog daagliks in poskantore gedoen? Dit help nie om mense net in poste aan te hou wat eintlik niks doen nie maar salarisse betaal word. Die poskantoor kan vervang word deur ondernemings wat vir toekomstige bedrywe ingerig kan word. Verander die naam ook na wat dit dan doen. Heropleiding kan waar personeek aanbly, gedoen word. Baie geboue is oud en vervalle.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.