60 jaar gelede: Shackleton 1718 se doodsvlug 

Shackleton 1718 in vlug oor Valsbaai. (Foto: saairforce.co.za)

Die Shackleton 1718 van 35 Eskader het op 8 Augustus 1963 in Stettynskloof naby Worcester neergestort.

Die dag van die ongeluk was ʼn sameloop van omstandighede wat niemand op Shackleton 1718 kon voorsien nie – alhoewel die besluit om wel op te styg nie die regte een was nie, een met noodlottige gevolge.

Ds. Rudolf Scharneck van Goudini, self ʼn opgeleide vlieënier, het onlangs die wrak van die Shackleton besoek en vertel dat dit ʼn besonderse ervaring was.

Wrakstukke lê vandag nog op die ongelukstoneel hoog in die Stettynskloofberge. (Foto’s: Rudolf Scharneck)

“Omdat ek as predikant gereeld met die dood te make het, was dit ʼn vreemde gevoel om op die ongelukstoneel te wees waar 13 mense gesterf het. Dit het gevoel soos heilige grond waarop jy staan en ʼn mens word diep bewus van die ramp wat daar afgespeel het. Daar is nog heelwat wrakstukke tussen die fynbos te sien, maar baie is toegegroei en dit lyk of daar op plekke stukke afgesaag is.”

Scharneck vertel dat dit ʼn stewige vier uur se stap en klim van die Stettynsdam tot by die ongelukstoneel is en dat ʼn mens daar besef hoeveel hartseer 60 jaar gelede hier afgespeel het.

“Veral treffend is die gedenkplaat wat deur Simoné Coetzee hier ter nagedagtenis aan haar pa, Pappa Tom of lt. AGW Coetzee, een van die bemanningslede, opgerig is. Die titel van die gedenkplaat is heel gepas ‘Groetplek’ – met die treffende woorde: ‘A life that touches, goes on forever’, daarop gedruk.”

Patricia Fleming, dogter van die derde vlieënier, kapt. Jacques Labuschagne (29), vertel dat die hartseer vandag nog vlak lê as die herdenking van die ongeluk naderkom, en dat sy vir jare gesukkel het om afsluiting te kry.

Patricia se ma en pa saam met haar suster Charmagne en kleinboet Jacques. Sy is die een wat regs staan en salueer – let op haar pa se hand op haar skouer.

“Ek en my pa was sielsgenote, al was ek net ses jaar oud toe hy dood is. Hy het geleef vir vlieg en het dit sy hele lewe lank gedoen. Wat egter ook nou na die tyd effens vreemd was, was dat hy altyd sketse van vliegtuie gemaak het – maar ook van vliegongelukke waarin die vliegtuig in vlamme uitgebars het. Was dit dalk ʼn voorgevoel wat hy gehad het?

“Toe my ma gehoor het die vliegtuig word vermis, het sy geweet daar is groot fout, maar sy het eers bevestiging gekry nadat hulle die wrak twee dae later gekry het. Sy het die ramptoneel besoek en het vertel dat die hele vliegtuig in stukke was en uitgebrand het. Ek is nie toegelaat om na die begrafnis te gaan nie, iets wat ek nogal nodig gehad het om afsluiting te kry. Toe sy die lugmag-wapen wat op sy pet was die dag toe hy dood is vir my gegee het, het ek geweet hy is dood, maar wou dit nooit regtig aanvaar nie. Dit was op sy pet wat hy in die vliegtuig gedra het.

“Ek weet net dat as hy nie daardie dag dood is nie, ons lewens baie anders sou wees. Dit voel vir my of my band met my pa nooit verbreek is nie,” het sy met hartseer in haar stem vertel.

Die lugmagwapen wat op die pet van kapt. Jacques Labuschagne (29) was die dag toe hy saam met 12 ander bemanningslede gesterf het

Die doodsvlug

Kapt. Thomas Howard “Horse” Sivertsen, bevelvoerder van Shackleton 1718 op 8 Augustus 1963.

Op 8 Augustus 1963 was daar 13 bemanningslede aan boord van Shackleton 1718 van 35 Eskader. As deel van daardie jaar se Operasie CAPEX, ʼn gesamentlike lugmag- en vlootoefening met die Britse lugmag en – vloot, sou Shackleton 1718 en sy bemanning aan ʼn duikbootopsporingsoperasie suid van Port Elizabeth deelneem. Die opdrag – die opsporing van die HMS Alliance S67, ʼn Amphion-klas duikboot wat reeds teen die einde van die Tweede Wêreldoorlog aktiewe diens betree het.

Die weer op dié dag was sleg, baie sleg. Reën, sterk wind, ʼn lae wolkbasis, sneeu, hael en ys is op die roete voorspel. Kapt. Thomas Howard Sivertsen, of sommer net Horse vir sy kollegas, was die gesagvoerder op 1718. Sy bemanning van 12 lede was almal baie ervare en Horse het uitgebreide vliegervaring op sy kerfstok gehad. Volgens ander oud-lede van 35 Eskader wat ook Shackletons gevlieg het, was Horse ʼn noukeurige en ervare operasionele vlieënier.

Die lugfotograaf, sers. Doep du Preez, was reeds in die vliegtuig en sou tydens die vlug foto’s neem van die vaartuie wat aan die CAPEX-oefening deelgeneem het. Van sy toerusting is tydens die voorvluginspeksie foutief gevind en hy het van die vliegtuig afgeklim voordat dit opgestyg het.

Vlieëniers van 35 Eskader, waaronder Sivertsen, het wêreldwyd naam gemaak as die bestes van die beste. Hulle vermoëns was legendaries.

John Wilson van die Vriende van die Lugmagmuseum Ysterplaat voor Shackleton 1722.

Alhoewel 35 Eskader eintlik op die destydse DF Malan-lughawe (nou Kaapstad Internasionaal)  gestasioneer was, het die bemanning op 8 Augustus 1963 omstreeks 12:30 by die eenheid se hoofkwartier op die Lugmagbasis Ysterplaat hul finale opdragte vir die komende operasie ontvang. En dit is hier waar die gevaarligte begin flikker en die gedoemde vlug sy gestalte gekry het.

Op die aanloopbaan neffens die groot loods waar Suid-Afrika se laaste Shackleton met werkende enjins staan, nr. 1722, vertel John Wilson, voorsitter van die Vriende van die Lugmagmuseum Ysterplaat, die verhaal van 1718 asof dit ʼn sprokie met ʼn slegte einde is, grootliks gebaseer op die ongeluksverslag wat na die ongeluk saamgestel is.

Die laaste Shackleton waarvan die enjins nog deur die Vriende van die Lugmagmuseum Ysterplaat in ʼn werkende toestand gehou word. (Foto: Danie Keet)

“Die operasionele offisier het die bemanning gewaarsku oor die gure weersomstandighede op die vlugroete – hulle moes eerder oor Valsbaai vlieg en oor die see na die oefengebied oos van Port Elizabeth. Weens die verwagte lang operasionele vlug was Shackleton 1718 ten volle gelaai en het hy sy maksimumgewig van 43 213 kg gedra toe dit omstreeks 15:06 vanaf aanloopbaan 34 opgestyg het. Daar is drie maal versoek dat die vlug uitgestel moet word, maar sonder sukses en Sivertsen en sy bemanning het vertrek.”

Shackleton 1718 het noordwaarts opgestyg, maar is kort daarna deur die beheertoring op DF Malan aangesê om die roete na 100° aan te pas. Sivertsen het om onverklaarbare redes self besluit om nie oor Valsbaai te vlieg nie, maar om die binnelandse roete te volg – iets wat kort daarna rampspoedig sou eindig. Hy het sy roete na rigting 350° verander en radiobeheer in kennis gestel dat hy tot op ʼn hoogte van 2 898 m sou klim en na Port Elizabeth sou vlieg. Hy is aangeraai om sy roete na 330° te verander ten einde Tygerberg te vermy, wat hy gedoen en aan radiobeheer bevestig het.

ʼn Skaars foto van ses van die SA Lugmag se Shackletons in ʼn formasievlug. (Foto: saairforce.co.za)

Teen 15:20 het die radartegnikus by DF Malan-lughawe versoek dat die radar afgeskakel kon word omdat die radarinstallasie oorstroom het. Sivertsen se posisie is in daardie stadium as omtrent 40 km op ʼn koers van 100° en ʼn grondrigting van 145°, aangedui. Buiten vir die internasionale noodroep “Mayday, Mayday” wat ʼn kort rukkie later van Shackleton 1718 ontvang is, was dit die laaste kommunikasie met Sivertsen.

ʼn Skildery deur die lugvaart-kunstenaar Tiro Vorster. Vorster was ʼn boordtegnikus wat ook in Shackletons gevlieg het.

By die beheersentrum was die verdwyning van Shackleton 1718 van die radarskerms ʼn duidelike teken dat dit iewers neergestort het. Die uiterste swak weer, en die min dagligtyd wat oor was, het enige moontlike onmiddellike soek- en reddingsoperasies verhinder en daar moes tot die volgende dag gewag word om daarmee te begin. Meer as 15 vliegtuie en vaartuie van CAPEX het aan die soektog oor ʼn wye gebied deelgeneem. Leidrade is opgevolg in die omgewing van George, Plettenbergbaai en Mosselbaai, maar geen spoor van die vermiste vliegtuig kon gevind word nie.

Op 9 Augustus is helikopters omstreeks 10:00 en weer om 13:00 na die Wemmershoekberge gestuur, sonder sukses. Die volgende dag, 10 Augustus, het een ook die berge in die Simonstad-omgewing gefynkam. Danksy verbeterde weersomstandighede is ʼn vliegtuig om 09:00 uitgestuur om hoog oor die Wemmershoekberge te vlieg en eers teen 13:15 is die wrak deur helikopters wat weer by die soektog aangesluit het, twee dae na die ongeluk, gevind. Uit die totale vernietiging van die wrak was dit duidelik dat niemand die ongeluk kon oorleef het nie.

ʼn Deel van die ongelukstoneel in die Stettynskloofberge. (Foto: Lugmagmuseum Ysterplaat)

Die kommissie van ondersoek na die ongeluk het mettertyd sy verslag bekend gemaak en daaruit was dit duidelik dat die verkeerde vlugroete wat Sivertsen gekies het, gelei het tot grootskaalse verbrokkeling van die vliegtuig se struktuur. Sivertsen het die blaam daarvoor gekry – die hoofoorsaak is beskryf as ʼn vlieëniersfout.

Die ontsnappingsluik wat 60 km van die ongelukstoneel gevind is. (Foto: Johann Kotze, MountainPasses SA)

Die verbrokkeling van Shackleton 1718 tydens die vlug kan grootliks aan die uiterste weersomstandighede toegeskryf word. Sou Sivertsen die seeroete gevolg het, het hierdie faktore waarskynlik nie ʼn rol gespeel nie, maar sy keuse van die binnelandse roete, het noodlottige gevolge gehad wat tot die vernietiging van die vliegtuig in die Stettynskloofberge gelei het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

piket ·

“en het hy sy maksimumgewig van 43,213 kg gedra”? Regtig? Dis baie!

Republikein in die Wes Kaap ·

Seker saam met brandstof. Hierdie perde kon baie ure in die lug bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.