ʼn 66-jarige man is Dinsdag in Port Alfred in die Oos-Kaap dood nadat hy ineengestort het terwyl hy saam met sy seun vlieërbranderplank gery het.
Craig Lambinon, ʼn woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), het Woensdag gesê die voorval het omstreeks 17:00 by die dorp se oostelike strand plaasgevind.
“Na wat verneem word, het die man in die see sy bewussyn verloor weens ʼn onbekende mediese toestand,” het Lambinon gesê. “Hy is na die strand gebring en het nie asem gehaal of ʼn pols gehad nie. Omstanders het dadelik begin om kardio-pulminêre resussitasie (KPR) op hom toe te pas totdat paramedici van die NSRI op die toneel opgedaag en by hulle oorgeneem het.”
Die man is na die dorp se hospitaal geneem waar gevorderde KPR toegepas is, maar hy is daar deur dokters dood verklaar.